Estimated reading time: 6 minutes
Swarthaak Boerdery is ‘n familiebesigheid naby Douglas in die Noord-Kaap.
Die boerdery is langs die Oranjerivier geleë, net na die samevloeiing met die Vaalrivier. Eienaar, Johan Jacobs, sê dit is juis te danke aan voldoende en standhoudende water dat hulle aartappels, gars, katoen, mielies en lusern onder die waaksame oog van bestuurder, Henry Meintjies, kan verbou. Johan se vrou, Colleen, behartig die Bonsmara-stoet en hul dogter, Elizca, is verantwoordelik vir die bemarking en bestuur van die gewasse op die plaas.

Johan sê hulle produseer aartappels vandat hy kan onthou; vanjaar sal hy sy 42ste oes van die lande afhaal.
Douglas is vroeër jare geïdentifiseer as ‘n moerproduksiestreek, waarskynlik omdat die gebied redelik weswaarts geleë is en die luisdruk op die plante baie minder is.
“GWK het destyds koelkamers by die ou Douglas-koöperasie geïnstalleer om die moere tydens dormansie te stoor totdat dit plantgereed was.”
Omdat die grond waarop Swarthaak se aartappels geproduseer word nie heeltemal genoeg is om ‘n vyf-jaar-wisselbousiklus te volg nie, huur hulle grond by ander produsente. Die boerdery maak van plaaslike werkers gebruik en sowat 80% van hulle keer terug na die plaas en is gevolglik bekend met hoe die boerdery werk.
Aartappelmoere en -variëteite
As moerprodusent en -kweker vir GWK is dit belangrik dat al die aanplantings gesertifiseer is. Die G1- en G2-moere wat vir GWK bestem is, word óf in die Vryburg-omgewing óf vir ‘n produsent by Griekwastad geproduseer. Laasgenoemde se plaas is baie geïsoleerd en uiters geskik vir die plant van mini-knolle vir G0- en G1-moere.
“Een derde van ons boerdery se aanplantings bestaan uit G2-saad en tweederdes is G3-saad wat ontwikkel word tot G4-moere wat ons vir ons boerdery aanwend en ook aan medekwekers by GWK beskikbaar stel. Saam met ‘n gedeelte van ons G2-oes, lewer ons ook ons G4-moere se oes aan GWK. Hulle versprei dit weer aan hul kliënte in die Oos-Vrystaat, Hoëveld en Sandveld-omgewing.”
Johan sê GWK ontwikkel gereeld nuwe variëteite wat op ‘n kleiner skaal op Swarthaak geplant en uitgetoets word. “Vanjaar plant ons slegs Mondial en Lanorma. Albei is bruinskurfweerstandbiedend en lewer ‘n goeie opbrengs. Lanorma bied ook ‘n goeie uitpakpersentasie en beskik oor uitstekende verwerkingseienskappe.”

Die eindbestemming
“Alhoewel Douglas redelik ver van al die groter varsproduktemarkte geleë is, het ons toegang tot heelwat van hierdie markte,” sê Johan. “Die meerderheid van ons aartappels gaan na die Johannesburg-mark wat as die land se prysbepaler beskou word. Ons stuur ook ‘n redelike groot hoeveelheid aartappels na die Kaapstad-mark en lewer ook aan Durban, Pietermaritzburg en Gqeberha.”
Afhangend van die gehalte en aanvraag, lewer hulle ook aan verwerkingsaanlegte soos McCain, Nature’s Garden en Simba. Normaalweg gaan 40 tot 45% van die aartappels wat vir tafelproduksie bestem is, na die verwerkingseenhede en die res gaan verbruikersmark toe.

Doeltreffende stelsels
Buiten die beskikbaarheid van water en tegnologie, speel meganisasie ‘n groot rol in Swarthaak Boerdery se doelwit om altyd meer doeltreffend te produseer. “Ons meganiseer sover as moontlik met dit wat vir ons beskikbaar en bekostigbaar is, sodat ons meer doeltreffend kan plant, uithaal en sorteer. Ons gebruik byvoorbeeld ‘n masjien wat langs die lande staangemaak kan word, vir ongewaste aartappels wat aan verwerkers gelewer moet word.”
‘n Winsgewende aartappelvertakking, sê Johan, hang van ‘n paar veranderlikes af. “Opbrengs en gehalte is die twee aspekte wat ‘n mens baie goed kan bestuur. Ons het al goeie en minder goeie opbrengste gehad. Daarom poog ons om konstant die beste gehalte aartappels te produseer.
“‘n Faktor wat ingewikkelder en moeiliker is om te bestuur is insetkoste. In hierdie opsig doen ons wat ons kan om dit so doeltreffend as moontlik te hou. Prys bepaal in ‘n groot mate die winsgewendheid van ons besigheid en dit is ongelukkig nie iets wat ons kan beheer nie. Ons weet wel dat Suid-Afrika een van die lande in die wêreld is waar vars aartappels altyd beskikbaar is en daar sal voortdurend ‘n aanvraag vir ons produk wees, of dit nou in klein- of grootmaat is.
“As aartappelprodusent is dit natuurlik ook belangrik om op hoogte te bly van marktendense, vas te stel waar die beste geleenthede is, en ons produk so goed as moontlik te bemark.”
Volhoubare produksie
Produsente spekuleer graag oor die toekoms, maar deesdae is dit die dinge wat nié gaan verander nie wat aandag kry. Ten spyte van kunsmatige intelligensie en tegnologie is een ding seker, sê Johan, naamlik dat mense steeds voedsel nodig het en dat aartappels ‘n goeie kans staan om ‘n belangriker deel van mense se dieet te word. “Ons is deeglik bewus van die feit dat verbruikers ‘n gesonde en bekostigbare aartappel wil hê. Die uitdaging vir ons as produsente is om aan hierdie behoefte te voldoen.”
Johan sê daar is wat hom betref drie vereistes vir volhoubare aartappelproduksie. Die eerste is vaardigheid, want die mate van vaardigheid waaroor jy beskik, kan ’n boerdery maak of breek. Aartappels is ‘n wonderlike produk om mee te boer, maar dit is nie ‘n eenvoudige produk nie en bied talle uitdagings. Daarom moet aartappelprodusente hul vaardighede gereeld opskerp. “Selfs ná 42 jaar van aartappelproduksie is daar nog baie wat ek kan leer.”
Die ander vereiste is goeie praktyke en tegnieke. Verbruikers het baie vereistes en ‘n produsent wat aartappels aan verwerkers voorsien moet oor ‘n paspoort beskik. Om ‘n gesonde produk te lewer, moet jy omsigtig te werk gaan met jou grond en chemiese middels en dus word aartappels getoets vir oorblyfsels van chemikalieë. “Die aanwend van chemikalieë is boonop ‘n baie duur proses en dit is bloot onverantwoordelik om nie die regte middels op die regte tyd te spuit nie.”
Die derde vereiste is kennis van ‘n boerdery se menslike waardeketting, en Johan heg veral baie waarde hieraan. “Dit begin by die persoon wie se grond ons huur, en trek deur na ons kunsmis- en chemikalieëverskaffers, saadverskaffers, landbouvoorligters, markagente, personeel van Aartappels SA, verwerkers en elke werknemer op die plaas. Elkeen maak ‘n reusebydrae tot die sukses van ons aartappelonderneming.”
‘n Laaste gedagte
Indien aartappelproduksie nog in jou toekomsvisier is, meen Johan dit is belangrik om op ‘n klein skaal te begin, jouself met medeprodusente te omring, en stelselmatig te groei. “Ek is passievol en opgewonde oor aartappelproduksie en die uitdagings wat dit bied, asook die vryemarkstelsel en die mense wat in die waardeketting betrokke is. Dit is vir my ‘n voorreg en ek wil nog lank hiermee voortgaan.” – Carin Venter (Foto’s: Elizca Jacobs, Swarthaak Boerdery)
Vir meer inligting, skakel Johan by 082 412 3379 of stuur ‘n epos na luckyvalley101@gmail.com.