Estimated reading time: 4 minutes
Elke jaar dié tyd, naby die einde van die finansiële boekjaar, sien ons hoe kliënte belasting probeer verminder deur bates aan te koop. Ongelukkig gebeur dit ook dikwels dat geld dan bestee word aan bates wat jaarliks in waarde verminder en nie regtig noodsaaklik is nie, maar bloot gekoop word met die hoop op ’n moontlike belastingbesparing. Die harde werklikheid is egter dat dit jou welvaart oor die lang termyn sal verminder.
Om welvaart op te bou en belasting te bespaar is wel ’n realistiese moontlikheid, maar dan moet die regte finansiële instrumente daarvoor ingespan word. Uittree-annuïteite het oor die jare ’n slegte naam as gevolg van hoë koste en beperkings op beleggingskeuses gekry. Deur die jare het die beskikbare produkte by beleggingsfirmas egter baie verander en regulasies oor hoe die geld belê mag word, is ook verslap.
Dus het dié instrumente weer aanloklik geraak vir finansiële beplanningsdoeleindes om sodoende welvaart op te bou en die nodige beskerming te kry.
Bydraes tot ’n uittree-annuïteit
Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se vergunning sê eenvoudig dat alle bydraes wat in ’n belastingjaar gemaak word, belastingaftrekbaar sal wees tot ‘n maksimum van 27.5% van jou belasbare inkomste, en hoogstens R350 000 se bydraes vir die betrokke belastingjaar. As jou belasbare inkomste dus meer as R1 272 727 is, sal jy beperk word tot totale bydraes van R350 000.
Hier is ’n voorbeeld ter illustrasie.
As jy ’n belasbare inkomste van R1 miljoen per jaar verklaar, sal jou belasting betaalbaar vir die 2024-belastingjaar R292 284 wees. As jy ’n bydrae van R275 000 aan ’n annuïteit lewer, sal die belasbare inkomste waarop die SAID jou belasting bereken, afneem van R1 miljoen na R725 000 (R1 miljoen minus R275 000 se bydraes). Dus sal jou nuwe belasting betaalbaar vir dié jaar R182 192 wees.
Om welvaart op te bou en belasting te bespaar is wel ’n realistiese moontlikheid, maar dan moet die regte finansiële instrumente daarvoor ingespan word.
In hierdie voorbeeld is dit ’n belastingbesparing van R110 092 wat beteken jy het nie net belasting bespaar nie, maar jou welvaart het ook gegroei. Deur R275 000 te belê in ’n produk wat jou welvaart vermeerder en wat met die regte beleggingskeuses dus nie ’n waardeverminderende bate is nie, het jy reeds jou welvaart met R110 092 verbeter. Op R275 000 verteenwoordig dit groei van 40% wat geen ander belegging bied nie.
Verdere voordele
Geen belasting sal op enige kapitale groei of inkomste gehef word wat binne annuïteite verdien word nie. Dus sal jou belegging in ’n annuïteit beter groei toon as enige ander belegging, aangesien jy geen belasting binne die produk betaal nie. Verder is uittree-annuïteite ook vrygestel van boedelbelasting en eksekuteursfooie, wat natuurlik verdere welvaart vir die erfgename verseker.
Uittree-annuïteite bied veilige beskerming teen skuldeisers. Indien jou toekomsplanne nie uitwerk nie, sal geen skuldeiser kan aanspraak maak op geld wat binne uittree-annuïteite belê is nie. Regulasie 28 van die Wet op Pensioenfondse, 1956 (Wet 24 van 1956) is ingestel om jou geld te beskerm deur te bepaal hoe jou portefeulje gediversifiseer kan word. Alhoewel dit dikwels as ’n beperking op beleggingskeuses beskou word, is die belastingaftrekking steeds ’n beter voordeel wat swaarder weeg as die beperkings van Regulasie 28.
In teenstelling met die ou-generasie produkte wat beskikbaar was, maak die nuwe-generasie produkte dit aansienlik eenvoudiger om in ’n annuïteit te belê. Geen verpligte maandelikse bydraes is meer nodig nie en jy kan begin met bydraes van selfs net R500 per maand. Enkelbedragbydraes kan ook gelewer word. Dit is dus nou ‘n baie aantrekliker opsie in die onsekere wêreld waarin ons vandag leef.
Uittree-annuïteite is vandag deursigtiger wat koste betref en is steeds ’n uitstekende produk om te gebruik om jou welvaart te bou en vir aftrede te spaar.
Die inligting in hierdie artikel is nie finansiële, belasting-, regs- of beleggingsadvies nie en die maatskappye in die PSG Konsult Groep waarborg nie die geskiktheid of potensiële waarde daarvan nie. Aangesien individuele behoeftes en risikoprofiele verskil, stel ons voor dat jy jou gekwalifiseerde finansiële adviseur raadpleeg indien nodig. PSG Wealth Financial Planning (Pty) Ltd is ’n gemagtigde finansiële diensverskaffer (FDV 728). – Johan du Plessis, PSG Wealth-adviseur
Vir meer inligting kontak: Johan du Plessis (PSG Wealth Bloemfontein, Deale Road) by johan.duplessis@psg.co.za of 072 3861 802