Handevat verdubbel die waarde van oorskot varsprodukte

Estimated reading time: 4 minutes

Hongersnood in Suid-Afrika is nie altyd te wyte aan voedseltekorte nie, maar dikwels bloot ‘n toeganklikheidsprobleem onder gemeenskappe wat ekonomies swaar trek. Ongeveer 18 miljoen mense in die land ly honger, terwyl minstens tien miljoen ton kos jaarliks weggegooi word.

SA Harvest, ‘n nie-winsgewende hulporganisasie, het hierdie behoefte geïdentifiseer en in 2019 besluit om miljoene tonne oorskotvoedsel van vermorsing te red deur dit met hul eie voertuie by plase, pakhuise, verspreiders en kleinhandelaars op te laai, en dit dan gratis onder gemeenskapsorganisasies wat mense voed, te versprei.

Volgens Cassandra Potgieter, SA Harvest se hoof van strategie, bemarking en kommunikasie, kan aartappelprodusente en die res van die aartappelbedryf in Suid-Afrika ook van die geleentheid gebruik maak om oorskotprodukte, wat andersins sou bederf of weggegooi word, te omskep in ‘n lewenslyn wat voedseltekorte en honger in Suid-Afrika kan help hokslaan.

‘n Wye netwerk

SA Harvest werk saam met 243 organisasies wat sopkombuise, skole en ouetehuise insluit. Hulle doen by elke instansie ‘n volledige oudit oor die hoeveelheid mense wat kos benodig en die infrastruktuur wat beskikbaar is om hulle te voed. Potgieter sê die organisasie meet onder meer die kosvolumes en voedingswaarde daarvan, en bepaal daarvolgens hoeveel mense gevoer kan word en die invloed wat hierdie maaltye daagliks sal hê. Hierdie hulporganisasies bly op SA Harvest se databasis en word vir alle praktiese doeleindes ‘n lid van die SA Harvest-familie.

“Op plaasvlak kan ‘n produsent met oorskotprodukte soos aartappels, botterskorsies of wortels ons kontak,” sê Potgieter. “Ons beplan dan hoe en wanneer dit met ons eie vragmotors opgelaai kan word. SA Harvest maak ook gebruik van logistieke vennote wat moontlik in daardie stadium op ‘n roete naby die betrokke area kan wees; dit beteken geen ekstra koste nie. ‘n Goeie voorbeeld is Habata Agri wat ‘n ruk gelede 200 000 kg botterskorsies geskenk het wat andersins tot niet sou gegaan het.

Ons het die produkte in drie provinsies onder meer as 43 gemeenskapsorganisasies versprei.”

Potgieter sê wanneer ‘n mens die afstand en geografie van Suid-Afrika in konteks plaas, begin jy verstaan waarom hongersnood dikwels ‘n logistieke kwessie eerder as ‘n voedseltekort behels. “SA Harvest het op hierdie stadium agt vragmotors. Sommige van die voertuie is toegerus met verkoelingseenhede wat vars en bederfbare produkte soos suiwel en vleis oor langer afstande kan vervoer en help om die produkte se gehalte te behou.

Noludwe van Give Food Solutions, ‘n SA Harvest-hulporganisasie in Kaapstad, ontvang kool wat deur OneFarm Share geskenk is.

Uitdagings word geleenthede

Een van die grootste uitdagings waarmee hulle te kampe het, is tyd, spesifiek vanweë die kort lewensduur van vars produkte. Daar is ook die probleem dat ‘n vragmotor soms nie gou genoeg by ‘n plek kan uitkom nie, of daar nie voldoende verkoeling is om skenkings betyds te hanteer nie.

Daarom is samewerking met die landbougemeenskap van groot belang. “Wanneer produsente hul surplusprodukte beskikbaar stel, moet ons gereed wees om te help sonder dat enige hindernisse die proses ontspoor.”

Dit is maklik vir produsente om betrokke te raak. Hulle hoef SA Harvest bloot te kontak en die organisasie sal die res doen – van die oplaai van produkte tot die verspreiding daarvan na die onderskeie gemeenskappe. ‘n Artikel 18A-sertifikaat word uitgereik sodat skenkers belastingaftrekkings kan geniet.

SA Harvest rapporteer ook aan produsente terug oor hoeveel van die produk versprei is en watter impak dit op die betrokke gemeenskappe gehad het. Skenkings kan voedsel en vars produkte insluit, asook geldelike donasies en selfs skenkings soos matrasse vir mense wat voorheen niks gehad het om op te slaap nie.

Potgieter sê SA Harvest se doel is nie net om ‘n ‘voedseloplossing’ te bied nie, maar om te dien as ‘n beginpunt vir ‘n totale oplossing om mense se waardigheid te herstel.

SA Harvest het in Oktober 2019 ontstaan toe Alan Brody in Australië besoek afge­lê het aan ‘n vriendin en entrepreneur saam met wie hy grootgeword het, Ronni Kahn. Kahn het Oz Harvest (OSHA) in 2004 geïnisieer om voedselvermorsing te help beperk. Nadat sy die hulporganisasie baie suksesvol in Australië gevestig het, het die inisiatief na verskeie ander lande uitgebrei.

Brody se besoek aan Australië het vrugte afgewerp en hy het besluit om die beginsels wat Kahn volg, in Suid-Afrika toe te pas. Hy moes wel enkele aanpassings vir die Suid-Afrikaanse konteks maak, gegewe die reuse vlakke van ongelykheid, ‘n groter bevolking en ander logistieke uitdagings. As die dryfveer agter SA Harvest, fokus Brody deesdae meer op sistemiese verandering, met Ozzy Nel wat as hoofbestuurder aan die stuur van sake is. – Carin Venter, Plaas Media

Vir meer inligting, kontak Cassandra Potgieter by cassandra@saharvest.org of info@saharvest.org of besoek die webtuiste www.saharvest.org.

Posted in ,