Verwerkingskultivarproef onder besproeiing: Loskopvallei 2024

Estimated reading time: 7 minutes

Die Loskopvalleiomgewing is ‘n aartappelproduksiestreek waar sowat 3.3% van die land se kommersiële aartappels, hoofsaaklik vir verwerkingsdoeleindes, deur 18 produsente op ongeveer 1 715 ha produseer word (2024-oesjaar). Die prominentste kultivars wat vir verwerkingsdoeleindes in die omgewing geproduseer word, is FL2108, Hertha, Markies en Innovator.

Die proef is tussen Marble Hall en Groblersdal uitgevoer. Die gebied val in Suid-Afrika se gematigde somerreënvalgebied en het die afgelope 22 jaar ’n gemiddelde jaarlikse reënval van 459 mm ontvang. Die streek gaan gebuk onder baie warm somers en winters, met die moontlikheid van ryp wat vanaf Julie tot Augustus kan voorkom.

Die kultivarproef is in ’n ewekansige blokontwerp met drie herhalings per kultivar uitgelê. Tabel 1 bevat relevante tegniese inligting rakende die proef. Grondontledingsresultate word in Tabel 2 weergegee.

Invloed van groeitydperke

Ingesluit in die kultivarproef is kultivars met medium tot lang groeitydperke, wat dus die uiteindelike opbrengs van sekere kultivars kan beïnvloed. Die lengte van groeitydperke is onderhewig aan die aard van die seisoen, maar word beskou as die hoeveelheid tyd wat verloop vanaf opkoms tot natuurlike loofafsterwe. Tabel 3 sit uiteen hoe hierdie groeitydperke van kultivar tot kultivar verskil.

Die stand en aantal halms per moer beïnvloed knolgrootte en opbrengs. Die aantal ogies per knol is kultivar-afhanklik en bepaal die hoeveelheid spruite wat per knol voortgebring word. In hierdie verband is die plantgereedheid van moere baie belangrik, aangesien die ideale plantgereedheid gewoonlik veroorsaak dat moere beter spruit en meer stamme per spruit voortbring. Plantgereedheid van moere ten tyde van die plant van die proef, sowel as standpersentasie en halmtelling wat later in die groeitydperk waargeneem is, word in Tabel 3 aangedui.

Kultivar-evaluering

Die evaluering van nuwe kultivars soos in die Marble Hall-kultivarproef, bied resultate wat onder andere opbrengs en bemarkingsindeks behels. Die aartappels in hierdie proef is slegs in groottegroepe gesorteer oor ‘n tafel wat vir prosesseringsmarkte sorteer.

Groottes is uiteengesit as groot (70 mm in diameter), groot-medium (65 mm), medium (55 mm), klein (50 mm) en ekstra klein (45 mm).

Die gehalte van die aartappels was baie goed en geen noemenswaardige redes vir afgradering is opgemerk of aangeteken nie. Prysvergelykings is gemaak met gemiddelde markpryse ten tyde van oes. Die prestasie van nuwe kultivars kan wel nie net op die resultate van een bepaalde seisoen geskoei word nie, aangesien klimaat van een jaar na ’n volgende kan wissel. Juis daarom word die kultivars verkieslik oor ’n aantal seisoene geëvalueer.

Water en temperatuur

Soos met enige gewas is temperatuur en waterbeskikbaarheid (hetsy goeie besproeiingskedulering of reënval) belangrike faktore wat ‘n wesenlike invloed gedurende die aartappelplant se groeitydperk het. Hierdie faktore word dus in aanmerking geneem wanneer die prestasie van kultivars geëvalueer word. Toepaslike daaglikse en langtermyn weerdata word vanaf ’n gekose Landbounavorsings- of LNR-weerstasie verkry, wat so na as moontlik aan die proefperseel geleë is.

Die reënvaltendens vir die 2024-seisoen (Figuur 2) toon ’n aansienlik laer reënval as die normale langtermyngemiddeld in die tweede en derde maand na plant (ongeveer tydens knolinisiasie tot knolvulling).

Besproeiingskedulering was uiteraard goed bestuur oor die groeitydperk wat grootliks in die wintermaande val. ‘n Hoër reënval het in Oktober gevolg tydens die laatstadiums en met loofafsterwe.

Minimum- en maksimumtemperature word in Figuur 3 uiteengesit.

Altesaam 40 dae van maksimumtemperature bo 30°C en 12 dae bo 35°C is in die seisoen gemeet, met ‘n week in die middel van September waartydens temperature konstant bo 30°C en selfs bo 35°C was. ‘n Dramatiese wisseling in maksimum- en minimumtemperature op belangrike groeistadiums kan ‘n negatiewe invloed op knolinisiasie en ontwikkeling hê. Die medewerker het aan die begin van Julie swaar ryp aangeteken op die plaas waar die proefperseel geleë is. Dit het ‘n rol in die uiteindelike opbrengs gespeel.

Die versameling van hitte-eenhede gedurende ’n groeitydperk is ’n belangrike faktor om die groei en ontwikkeling van gewasse te verstaan. Die tendens van hitte-eenhede beskikbaar vir hierdie seisoen se kultivarproef blyk ietwat hoër as die langtermyn datatendens van hitte-eenhede te wees (Figuur 4), met Augustus en September wat warm maksimumtemperature getoon het.

Opbrengs en kultivareffek

Opbrengsdata wat tydens oesdag versamel word, word aan statistiese verwerking met behulp van die GenStat®-program onderwerp. Die Tukey-toets van kleinste betekenisvolle verskille (KBV) is gebruik om die gemiddeld te skei. Die kultivareffek gedurende hierdie proef (Figuur 5) was statisties beduidend (p<0.05) en die koëffisiënt van variasie was binne perke (16.6%). Hierdie faktore dui daarop dat die proef goed uitgevoer is en die resultate derhalwe betroubaar is.

Die opbrengs van elk van die kultivars word deur die proefgemiddeld gedeel, met die proefgemiddeld van al die kultivars wat as 100% geneem word. Hierdeur word ’n opbrengsindeks geskep en word elke kultivar se prestasie in terme van opbrengs, as ’n persentasie van die proefgemiddeld gelees.

Die gemiddelde opbrengs van die proef vir die 2024-seisoen is 42.8 t/ha, ‘n paar ton per ha laer as die vorige seisoen. Sound, Moonlight en P1 het die beste opbrengs behaal en dieselfde drie kultivars het ook die beste bemarkingsindeks bereik. Groottegroepverspreiding is ‘n belangrike evaluasie wanneer gekyk word na ’n kultivar se bemarkbaarheid in die prosesseringsbedryf (Figuur 6).

Tesame met grootte, is onder meer gehalte, knolvorm en soortlike gewig (SG) ook beduidend vir verwerkers.

Gehalte-eienskappe vir verwerking

Laastens, wanneer gekyk word na die interne gehalte van aartappels, veral met die oog op verwerking, moet prosesseringseienskappe ook geëvalueer word.

Om aan prosesseringsvereistes te voldoen, moet kultivars onder andere aan ’n skyfiekleurnorm van >50 en ’n SG van ≥1.075 voldoen (Tabel 4). Alle kultivars het aan die skyfiekleur- en SG-vereistes voldoen. Interne gehalte was deur die bank goed en geen wesenlike probleme soos bruinvlek of holhart is waargeneem nie. Tabel 5 bevat foto’s van die baktoetse. – Enrike Verster, Aartappels SA

’n Spesiale woord van dank aan die produsent, Jaco van den Heever, Danie Marais en Frank Osler van PepsiCo, Jeanine van Jaarsveld van FPD, en Damien Da Cal en Dikgetho Mokoena van Aartappels SA. Vir meer inligting, stuur ‘n e-pos na enrike@potatoes.co.za