Estimated reading time: 5 minutes
Die aartappel-groentoer word jaarliks deur die Oos-Vrystaatse of OVS-aartappelwerkgroep in Bethlehem aangebied. Die geleentheid bied ’n belangrike platform vir die uitruil van kennis en tegnologievernuf, en bied ‘n netwerkgeleentheid vir produsente en ander rolspelers in die bedryf.
Produkte op die proefbank
Die program het afgeskop met Asearch Agri-Tech se produkproewe. Kunsmis, blaarvoeding en gewasbeskermingsoplossings soos insek- en swamdoders is vertoon. Die fokus was weer op landbouchemiese produkte en innovasie.
Proefdeelnemers, ondersteun deur die Asearch Agri-Tech-span, is die geleentheid gebied om hul inskrywings wat onder eg Oos-Vrystaatse toestande verbou is, ten toon te stel.
Proefdeelnemers was onder meer Andermatt Madumbi, Hygrotech SA, AECI Plant Health, Bancella, FMC, Corteva, N Laboratories, Villa Crop Protection, Atlas Plant Nutrition, Bayer, Afrikelp, Syngenta, Dux Agri, BASF en ICA International Chemicals.
Herhalings is vroegoggend uitgegrawe sodat hierdie deelnemers die aartappels wat met hul onderskeie produkte geplant en behandel is, met produsente kon deel. Hulle het ook gesels oor die prestasie, eienskappe en potensiaal van hul produkte. Dié praktiese benadering het direkte interaksie bevorder en waardevolle insigte gebied.
Die besoekers het later na die Lavender Hill-landgoed vertrek, waar kultivars uit die droëland kultivarproef vertoon en gaargemaak is. Fick en Seun Boerdery in Reitz het dié kultivars verbou. Tydens die praktiese demonstrasie is skyfies van die verskillende kultivars voorberei, wat aan besoekers die geleentheid gebied het om die gehalte en verwerkingseienskappe daarvan eerstehands te evalueer.
GWK en FPD het die prestasie van die onderskeie kultivars wat vir die proef ingeskryf is, onder spesifieke produksietoestande demonstreer.
Vir jonk en oud
Leerders van omliggende hoërskole in Reitz en Bethlehem, soos Witteberg en Voortrekker, neem jaarliks aan die groentoer deel om meer oor die praktyk en waarde van landbou te leer.
Vanjaar het Attie van den Berg, ondervoorsitter van die OVS-aartappelwerkgroep, sy insig oor aartappelproduksie en die spesifieke dinamika van produksie in die Vrystaatse omgewing gedeel.
As deel van die demonstrasie het hy ook die gebruik van ’n sogenaamde elektroniese aartappel verduidelik; dit word aangewend om gehalte tydens hantering te monitor en bestuur.
Verskeie borge het uitstallings gehou wat deur die loop van die dag op die grasperk by Lavender Hill besigtig kon word. VKB, handelaar en vennoot van Case en ’n sleutelverskaffer in die VKB Meganisasie- en die Jupidex-handelaarsnetwerke, het vir ’n indrukwekkende reeks uitstallings gesorg. Dit het onder meer presisie-graanplanters van Equalizer, ’n kunsmisstrooier van Kverneland en ’n baler van McHale wat deur Jupidex beskikbaar gestel is, ingesluit.
Die nuutste hommeltuigtegnologie is vertoon, terwyl Case se 140 Maxxum-trekkers en ’n Husqvarna TS 114 groot belangstelling gelok het. Die jaarlikse aanbied van hierdie dag sou nie moontlik wees sonder die waardevolle ondersteuning van ons borge nie.
Landboudinamika onder die loep
Die formele program is in die saal voortgesit met ’n voordrag deur prof André Duvenhage van die Noordwes-Universiteit, waarin hy die dinamika van die landbousektor ontleed het. Sy aanbieding het gefokus op die uitdagings en geleenthede wat produsente in ’n veranderende ekonomiese en beleidsomgewing in die gesig staar.
Volgens prof Duvenhage word produsente toenemend gekonfronteer met ’n komplekse en dinamiese omgewing waarin ekonomiese druk, beleidsonsekerheid en strukturele uitdagings hand aan hand loop. Hy het daarop gewys dat faktore soos stygende insetkoste, infrastruktuurbeperkings en wisselende beleidsrigtings beduidende risiko’s vir volhoubare landbouproduksie inhou.
Hy het terselfdertyd beklemtoon dat hierdie veranderende omgewing ook geleenthede skep vir aanpasbare en innoverende produsente.
Deur tegnologie te benut, bestuurspraktyke te optimaliseer en sterker vennootskappe binne die waardeketting te bou, kan produsente hul mededingendheid versterk en nuwe markgeleenthede ontsluit. Volgens prof Duvenhage lê die sleutel tot sukses daarin om risiko’s strategies te bestuur, terwyl geleenthede doelgerig benut word.
Willie Jacobs, uitvoerende hoof van Aartappels SA, het daarna oor die stand van die Suid-Afrikaanse aartappelbedryf uitgebrei en gefokus op strategiese prioriteite vir volhoubare groei. Hy het verwys na die Aartappels SA-kongres wat op 22 en 23 Julie vanjaar plaasvind en gesê dit is belangrik dat produsente deelneem, veral wat die beoogde aanpassing van heffingsgelde betref.

’n Hoogtepunt van die groentoer was die aankondiging van die 2026 OVS-aartappelboer van die jaar, met Bees Claassen van BIC Boerdery in Petrus Steyn wat as die wenner gekroon is. Die aankondiging is gesamentlik deur Jacobs en Murray Thompson, voorsitter van die Aartappels SA-raad, gedoen.

Samesyn en samewerking
Die dag se verrigtinge is afgesluit met ’n heerlike middagete wat verdere geleentheid vir gesprekvoering gebied het. Na afloop van die program het Thompson en Jacobs ’n afsonderlike sessie met produsente gehou, waartydens hulle weereens ’n beroep gedoen het om deelname aan die komende kongres. – Anjé Venter, Aartappels SA

Vir meer inligting, stuur ’n e-pos aan die outeur by anje@potatoes.co.za.