EndoPrime® SC: Versterk opbrengspotensiaal in aartappels, van die wortels af
’n Mikorisa is ’n voordelige wortelswam wat ’n natuurlike samewerkingsverhouding (simbiose) met gewaswortels vorm. Die mikorisae in EndoPrime® SC ontwikkel swamdrade, bekend as hifes, wat voedingstowwe en water buite die wortel se natuurlike opneemarea kan bereik. Vandaar die betekenis van ‘miko’ – ‘risa’, wat letterlik ‘swam’ – ‘wortels’ beteken. Volgens die vervaardiger, Mycorrhizal Applications, dui navorsing daarop dat hierdie ‘wortelswamme’ die opneemarea van ’n plantwortel betekenisvol kan vergroot.
Hierdie mikorisa- en plantwortelsimbiose bepaal dat die plant die mikorisa van koolhidrate en vette voorsien, terwyl die mikorisaswam die plant van water en nutriënte voorsien wat andersins ontoeganklik vir die plantwortels sou wees. Daar is bepaal dat hierdie hifes, of swamdrade, met nutriëntopname meer effektief is as die plantwortels.
Beperkings in die veld
In moderne aartappelproduksiestelsels word hierdie natuurlike ondersteuning egter dikwels beperk. Grondversteuring, intensiewe bewerking en wisselende klimaatstoestande kan die natuurlike mikorisa-aktiwiteit in die grond verminder. Gevolglik benut gewasse nie altyd die volle potensiaal van hul wortelstelsels tydens die belangrike vroeë groeifases nie.
Vir aartappelprodusente is vroeë vestiging en eenvormige groei sleutelfaktore wat opbrengs en knolgehalte bepaal. Selfs waar bemestingsprogramme geoptimaliseer word, is die beperking steeds dat die plant slegs kan benut wat binne die bereik van sy wortelstelsel is.
Vroeë seisoenstres, lae grondtemperature of beperkte wortelgroei kan die opname van water en voedingstowwe beperk, wat die gewas se potensiaal reeds vroeg in die seisoen inperk. Dit is juis in hierdie fase waar wortelondersteuning ’n belangrike rol speel. EndoPrime® SC is ontwerp om hierdie beperking aan te spreek deur die funksionele wortelstelsel uit te brei en die gewas se toegang tot beskikbare hulpbronne te verbeter.
EndoPrime® SC in ’n neutedop
EndoPrime® SC, wat deur Mycorrhizal Applications in die Verenigde State vervaardig word en deur Philagro SA (Edms) Bpk in Suid-Afrika versprei word, bevat vier verskillende spesies arbuskulêre mikorisa-swamme. Elke spesie dra by tot die algehele funksionering en stabiliteit van die simbiotiese verhouding tussen plant en grond.
Hierdie mikorisa word tydens plant direk naby die saadknolle toegedien, waar dit met die ontwikkelende wortelstelsel kan assosieer. Hierdie assosiasie begin reeds in die vroegste stadiums van wortelontwikkeling, wat dit moontlik maak om die gewas van die begin af te ondersteun.
Die proses waardeur die mikorisa en wortel met mekaar assosieer, behels ’n vorm van biochemiese kommunikasie. Die plant gee as’t ware ‘toestemming’ vir die swam om op die wortel te vestig en die simbiotiese verhouding te inisieer.
Wanneer EndoPrime® SC tydens plant toegedien word, begin die mikorisa spoedig om die wortels te koloniseer en ’n uitgebreide netwerk van hifes in die omliggende grond te vorm. Hierdie netwerk funksioneer as ’n verlenging van die wortelstelsel. Die praktiese implikasie hiervan is dat die gewas toegang kry tot ’n groter grondvolume. Dit beteken dat water en voedingstowwe meer effektief vanuit die grond opgeneem kan word.
Een van die belangrikste voordele is verbeterde fosforopname. Fosfor is ’n noodsaaklike voedingstof vir wortelontwikkeling en energie-oordrag in die plant, maar is dikwels in vorme in die grond vasgelê wat nie maklik beskikbaar is nie. Mikorisa stel organiese sure en ensieme vry wat help om hierdie fosfor in ’n opneembare vorm te omskakel.
Beter grond en waterbenutting
Droogtetoestande, wisselende grondvog en temperatuurpersentasies kan die plant se vermoë om voedingstowwe op te neem beperk. Deur die wortelstelsel vroeg te ondersteun, kan EndoPrime® SC help om hulpbronne meer effektief te benut en ’n buffer teen hierdie stresfaktore te bied. Verder kan die uitgebreide hifenetwerk help om water beter in die wortelsone te benut en te mobiliseer, wat belangrik is in areas waar water ’n beperkende faktor is.
Benewens nutriëntopname dra mikorisa ook by tot verbeterde grondstruktuur. Dit geskied deur die produksie van ’n natuurlike glikoproteïen wat help om gronddeeltjies te bind. Hierdie binding bevorder grondaggregasie, wat weer lei tot beter waterretensie, verbeterde infiltrasie en minder erosie rondom die wortelsone.
Hierdie aspek is veral belangrik onder Suid-Afrikaanse toestande waar water ’n beperkende faktor kan wees. Deur water beter in die grondprofiel te behou, kan gewasse tydens droogteperiodes langer toegang tot vog hê. Dit sal voordelig wees vir aartappels wat op droëlande geproduseer word.

EndoPrime® SC op die plaas
In ’n veldproef wat gedurende die 2021/22-seisoen in die Mooirivier-gebied in KwaZulu-Natal uitgevoer is, is ’n duidelike en konsekwente reaksie op EndoPrime® SC waargeneem. Teen die geregistreerde dosis van 150 ml/ha is ’n opbrengsverhoging van 1.4 t/ha behaal in vergelyking met die onbehandelde kontrole. Die proewe het ook aangedui dat EndoPrime® SC verenigbaar is met sekere produkte wat algemeen tydens aartappelplanting gebruik word, sonder waarneembare nadelige interaksies gedurende die proeftydperk in die veld.
Addisionele behandelings waar EndoPrime® SC met asoksistrobien-swamdoders gekombineer is, het verdere opbrengsverhogings getoon, waarskynlik as gevolg van beter wortelgesondheid gedurende vroeë ontwikkeling. Hierdie resultate bevestig dat die ondersteuning van wortelontwikkeling tydens plant, ’n direkte bydrae tot verbeterde opbrengsontwikkeling kan maak.
Vir produsente beteken hierdie verbeterings nie net hoër opbrengs nie, maar ook beter benutting van bestaande insette. Dit sluit kunsmis en water in, wat beide toenemend duur en skaars raak. EndoPrime® SC bied die potensiaal om tot ’n beduidende verhoging in bemarkbare opbrengs te lei wanneer die produk volgens die geregistreerde etiket aangewend word. Soos met enige produk wat uit lewendige mikrobes bestaan, is hierdie opbrengsverhogings nie vir alle gebiede en klimaatstoestande dieselfde nie, en sal dit nie gewaarborg kan word nie.
EndoPrime® SC vervang nie bestaande programme nie, maar werk aanvullend om hul effektiwiteit te verbeter. Dit laat produsente toe om meer waarde uit hul bestaande produksiestelsels te haal. EndoPrime® SC word tydens plant in-voor toegedien. Hierdie posisionering naby die saadknolle is belangrik om vroeë kontak tussen die mikorisa en die wortelstelsel te verseker.
Die produk kan met bestaande plantpraktyke geïntegreer word en is versoenbaar met verskeie ander landbou-insette, mits dit volgens etiketriglyne gebruik word. Raadpleeg jou gewasadviseur of kontak die registrasiehouer vir verenigbaarheid met ander landboumiddels, veral wanneer EndoPrime® SC in-voor of in ’n tenkmengsel saam met ’n swamdoder toegedien word, aangesien swamdoders ’n risiko vir mikorisa kan inhou.
Philagro SA het met ontwikkelingsproewe in 2021/22 bevestig dat EndoPrime® SC in ’n tenkmengsel met asoksistrobien toegedien kan word, sonder enige nadelige effek op EndoPrime® SC se werking.
Begin die seisoen reg
Deur die natuurlike simbiose tussen plante en mikorisa te benut, bied EndoPrime® SC ’n wetenskaplik-ondersteunende en praktiese oplossing om wortelontwikkeling te bevorder. Die resultaat is ’n doeltreffender benutting van water en nutriënte, groter veerkragtigheid onder strestoestande en die potensiaal vir verbeterde opbrengs.
Begin die seisoen reg met EndoPrime® SC – ’n biologiese hulpmiddel wat gewasprestasie, insetdoeltreffendheid en weerbaarheid versterk. Dit is ideaal vir produsente wat uitdagende, droogtegeteisterde toestande moet trotseer.
Lees die etiket voor gebruik. MycoApply® EndoPrime® SC, Reg no M480, Wet 36 van 1947. Rhizophagus irregularis (381 propagule/ml), Claroideoglomus luteum (381 propagule/ml), Claroideoglomus claroideum (381 propagule/ml), Claroideoglomus etunicatum (381 propagule/ml). Gevaar: Veroorsaak ernstige oogskade. Philagro SA (Edms) Bpk, Reg No 1998/010658/07. Postnet Suite #378, Privaatsak X025, Lynnwoodrif, 0040. Tel 012 348 8808. – Johan Marais, produkbestuurder biorasionale produkte, Philagro
Vir meer inligting, stuur ’n e-pos aan die outeur by johan.marais@philagro.co.za
