Estimated reading time: 7 minutes
Limpopo is ’n groot aartappelproduksiestreek waar 121 produsente aartappels op sowat 12 760 ha (ongeveer 24.8% van die land se totale kommersiële aartappels) produseer. Die mees prominente kultivars wat in die streek vir tafelverbruik en verwerking geproduseer word, is Mondial, Panamera en Sifra.
Tom Burke val in Suid-Afrika se tropiese somerreënvalgebied (Figuur 1) en ontvang die afgelope 19 jaar ’n gemiddelde jaarlikse reënval van 375 mm, volgens die nabygeleë Landbounavorsingsraad- of LNR-weerstasie. Winters in hierdie streek is koel en kort, terwyl somers baie warm en lank is.

Gedurende die wintermaande (Mei tot Julie) wissel die streek se langtermyn temperature tussen ‘n gemiddelde minimum van 6°C en maksimum van 27°C, met min dae waar die kwik onder 0°C daal. Twee produksieseisoene is dus hier moontlik: ’n vroeë aanplanting van Januarie tot Maart, met die hoofaanplanting van April tot Julie. As gevolg van hierdie twee aanplantingstydperke lewer die streek een van die grootste bydrae tot die bedryf in Suid-Afrika.
Proefontwerp en besonderhede
Die Tom Burke-kultivarproef is in ’n ewekansige blokontwerp met vier herhalings per kultivar uitgelê. Tabel 1 bevat bykomende tegniese inligting oor die proef.

Die kultivarproef sluit kultivars met kort en lang groeitydperke in; derhalwe kan dit die uiteindelike opbrengs van sekere kultivars beïnvloed. Die lengte van groeitydperke is aan die aard van die seisoen onderhewig, maar word beskou as die hoeveelheid tyd wat verloop vanaf opkoms tot natuurlike loofafsterwe. Grondontledings wat voor plant geneem is, word in Tabel 2 uiteengesit. Die gebruiklike groeitydperk van kultivars sowel as plantgereedheid en standtellings word in Tabel 3 aangedui.


Bemarkingsverwante resultate
Die evaluering van nuwe kultivars soos in die Tom Burke-kultivarproef, bied resultate wat onder meer op opbrengs- en bemarkingsindekse betrekking het. Die bemarkingsindeks van die betrokke kultivars word bereken deur elke kultivar op grond van gehalte en groottegroepe (byvoorbeeld Klas 1 groot of Klas 2 grootmedium) te klas en sorteer.
Prysvergelykings word dan getref met markpryse wat ten tyde van oes verkry is. Die prestasie van nuwe kultivars kan egter nie net op die resultate van een spesifieke seisoen geskoei word nie, aangesien die klimaat van een jaar na ’n volgende kan wissel. Juis daarom word die kultivars verkieslik oor ’n aantal seisoene getoets.
Seisoenale aspekte
Soos met enige gewas is temperatuur, beskikbaarheid van water (hetsy goeie besproeiingskedulering of reënval) asook hitte-eenhede, belangrike faktore wat ’n wesenlike invloed gedurende die aartappelplant se groeitydperk het. Hierdie faktore word in aanmerking geneem wanneer die prestasie van kultivars geëvalueer word. Toepaslike daaglikse weerdata van die seisoen word vanaf die naaste LNR-weerstasie verkry.
Die reënvaldata word in Figuur 2 aangedui. Baie min reën is gedurende hierdie seisoen aangeteken. Aangesien Tom Burke somerreënval ontvang, is voldoende besproeiingskedulering baie belangrik, veral gedurende belangrike groeitydperke wanneer dit warm is.

Minimum- en maksimumtemperature word in Figuur 3 uiteengesit. Altesaam 31 dae met temperature bo 35°C en slegs een dag bo 40°C is aangeteken – minder as in vorige seisoene. Een voorval van effense ryp is vir twee dae aan die begin van Julie aangeteken.

Die versameling van hitte-eenhede gedurende ’n groeitydperk is ’n belangrike faktor in die ontwikkeling van ’n aartappelplant. Die tendens van hitte-eenhede wat vir hierdie seisoen beskikbaar is, blyk effens hoër, maar baie naby aan die langtermyn datatendens te wees (Figuur 4).

Opbrengs en kultivareffek
Opbrengsdata wat tydens oesdag aangeteken word, word aan statistiese verwerking met behulp van die GenStat®-program onderwerp. Die Tukey-toets van kleinste betekenisvolle verskille (KBV) is gebruik om die gemiddelde te skei. Die kultivareffek gedurende hierdie proef (Figuur 5) was statisties beduidend (p<0.05) en die koëffisiënt van variasie was baie goed (7.2%). Hierdie faktore dui daarop dat die proef so goed as moontlik uitgevoer is en die resultate derhalwe betroubaar is.

Die opbrengs van elke kultivar word deur die proefgemiddelde gedeel, met die proefgemiddelde van al die kultivars wat as 100% geneem word. ’n Opbrengsindeks word hierdeur bepaal en elke kultivar se prestasie word dan in terme van opbrengs as ’n persentasie van die proefgemiddelde gelees.
Die gemiddelde opbrengs van die proef vir die 2025-seisoen is 75.84 t/ha, wat hoër is as die vorige drie seisoene se gemiddelde van 62.9 t/ha. Foxy het statisties die beste opbrengs gelewer, en het saam met Sound die beste bemarkingsindekse behaal. ’n Goeie bemarkingsindeks word toegeskryf aan ’n hoër opbrengs van groot aartappels en/of ’n goeie persentasie goeie-gehalte aartappels. Groottegroepverspreiding en gradering is veelseggende evaluasies wat die bemarkbaarheid van ’n aartappelkultivar betref (Figure 6 en 7).


Die hoofredes vir afgradering word in Tabel 4 aangedui. Dit is egter noemenswaardig dat die gehalte deurgaans besonder goed was. Vergroening, mot en ander insekte het egter die grootste invloed op die gehalte van aartappels in hierdie proef gehad.

Laastens, wanneer gekyk word na die interne gehalte van aartappels, kan prosesseringseienskappe ook geëvalueer word. Om aan verwerkingsvereistes te voldoen, moet kultivars aan ’n skyfiekleurnorm van >50 en ’n soortlike gewig (SG) van ≥1.075 voldoen (Tabel 5). Al die kultivars het aan die vereiste skyfiekleur voldoen, terwyl slegs Palace en Valor aan beide die korrekte skyfiekleur en SG voldoen het. Geen interne defekte soos bruinvlek of holhart is waargeneem nie. – Enrike Verster, Aartappels SA

Spesiale dank aan Jako Nel (produsent), Schalk Grobbelaar (werkgroepvoorsitter), deelnemers FPD en RSA, asook Ané du Plessis en ander betrokke Aaartappels SA-personeel. Vir meer inligting, stuur ’n e-pos na enrike@potatoes.co.za