Boere, agente, akademici en ander rolspelers in die aartappelbedryf by Aartappels SA se jaarkongres en Moerkwekersforum, wat in Julie by die Indaba Hotel in Fourways gehou is. (Foto: Du Preez de Villiers)
Boere, agente, akademici en ander rolspelers in die aartappelbedryf by Aartappels SA se jaarkongres en Moerkwekersforum, wat in Julie by die Indaba Hotel in Fourways gehou is. (Foto: Du Preez de Villiers)

Klimaatslim boerdery is die nuwe normaal: Aartappels SA wys die pad vorentoe

Estimated reading time: 11 minutes

“Aartappelboere moet ophou om hulself as slegs veerkragtig te beskou. Veerkragtigheid impliseer dat jy eers ’n terugslag moes beleef. Ons moet eerder vooruitbeplan, risiko’s bestuur en die gereedskap wat reeds tot ons beskikking is gebruik.”

Aartappels SA-personeel by hul stalletjie tydens die kongres. Van links is Willie Jacobs, hoof uitvoerende beampte, Jodie Hattingh, landboubesigheidsanalis, Anje Venter, streekskoördineerder Oos-Vrystaat en KwaZulu-Natal, en Zodwa Mnisi, logistieke en aankopebestuurder. (Foto: Lynette Louw)

Met dié boodskap het Willie Jacobs, uitvoerende hoof van Aartappels SA, die toon aangegee vir die organisasie se jaarkongres en Moerkwekersforum wat op 22 en 23 Julie by die Indaba Hotel in Fourways aangebied is.

Die boodskap was duidelik: Klimaatsverandering is nie meer ’n toekomsuitdaging nie – dit is die werklikheid waarin aartappelboere vandag moet produseer. Die oplossing lê nie daarin om bloot aan te pas nadat probleme ontstaan het nie, maar om proaktief te beplan, tegnologie te benut en wetenskaplike kennis toe te pas om selfs nuwe geleenthede uit ’n veranderende klimaat te skep.

Die spelreëls het verander

Gerhard Posthumus, voorsitter van Aartappels SA se Moerkwekersforum. (Foto: Ansa Vermeulen)

Tradisionele boerderymodelle waarop boere vir dekades staatgemaak het, is vir ’n betreklik stabiele klimaat ontwikkel. Vandag bestaan daardie stabiliteit nie meer nie. Die boodskap wat deur die hele kongres weerklink het, was dat onsekerheid die nuwe normaal geword het, veral ná die afgelope seisoen wat besonders uitdagend vir die aartappel- en moerbedryf was.

Wisselvallige weerstoestande, uiterste hitte, veranderende reënvalpatrone en toenemende druk van plae en siektes het produsente opnuut herinner dat suksesvolle boerdery toenemend afhang van hoe goed risiko’s bestuur word. Dit beteken tydige instandhouding van toerusting, die keuse van die beste genetiese materiaal, die aanvaarding van nuwe tegnologie en die ondersteuning van ’n gesonde, georganiseerde bedryf.

Hoewel klimaatsverandering groot uitdagings meebring, het verskeie sprekers daarop gewys dat Suid-Afrika unieke voordele geniet. Van die koel Weskus tot die warmer produksiegebiede van Mpumalanga, beskik die land oor ’n buitengewone verskeidenheid mikroklimate. Hierdie diversiteit bied geleenthede wat talle ander aartappelproduserende lande nie het nie. Die uitdaging is om hierdie verskillende klimaatsones beter te verstaan, produksiepraktyke daarvolgens aan te pas, en kultivars te ontwikkel wat in die verskillende klimaatsomstandighede pas.

Aartappels hou van koelte

Prof Martin Steyn van die Universiteit van Pretoria het die wetenskap agter klimaatsverandering se invloed op aartappelverbouing verduidelik. Hy het gesê klimaatmodelle toon ’n paar belangrike tendense: stygende atmosferiese CO2-vlakke, hoër gemiddelde temperature, veranderende reënvalpatrone, en meer intense en onvoorspelbare weersomstandighede.

Aartappels is egter ’n gematigde gewas wat optimaal in koeler toestande presteer; daarom gaan hitte- en droogtestres al hoe groter uitdagings word.

Navorsing wat reeds meer as tien jaar gelede begin is, het interessante resultate opgelewer. In groeitonnels waar temperatuur en CO2-vlakke beheer word, is vasgestel dat verhoogde CO2 wel opbrengste kan verhoog, maar dat hoër temperature hierdie voordeel grootliks uitwis. Daarom word produsente aangemoedig om plantdatums, waar moontlik, aan te pas om uitermatige hitte te vermy.

Prof Steyn waarsku egter dat daar grense is. “Jy kan eenvoudig nie vroeër plant nie, want dan raak ryp weer ’n risiko. En wanneer droogtes voorkom, is besproeiingswater nie altyd beskikbaar nie.” Dit beteken dat besproeiingsbestuur in die toekoms een van landbouers se belangrikste vaardighede sal word.

’n Eie weerstasie word onmisbaar

Een van die sterkste temas tydens die kongres was dat data die nuwe landbou-inset geword het. Gabrielle Redelinghuys, projekbestuurder by Villa Crop Protection, het produsente aangemoedig om hul eie ‘klimaattelkaart’ op te stel en ’n weerstasie te installeer. Volgens haar is sogenaamde hiper-plaaslike data waardevoller as algemene streekvoorspellings. ’n Weerstasie vertel presies wat op ’n spesifieke plaas gebeur – insluitend temperatuur, humiditeit, wind, reënval en verdamping – en bied produsente die geleentheid om betyds besluite te neem. Hierdie data moet egter nie bloot versamel word nie. Boere moet leer om klimaatterminologie te verstaan, die beskikbare toepassings (apps) beter te benut en hulself met kundiges te omring wat die data kan interpreteer. Net so belangrik is grondige kennis van verskillende kultivars en hoe elkeen op spesifieke klimaatsomstandighede reageer.

Die genetika van môre

Plantteling speel ’n sleutelrol in klimaatslim boerdery. Prof Maryke Labuschagne van die Departement Plantkunde aan die Universiteit van die Vrystaat het verduidelik dat moderne teeltegnologie vandag veel wyer strek as net die seleksie van enkele gene. Waar telers vroeër op individuele eienskappe gefokus het, maak nuwe biotegnologie en geenredigering dit moontlik om groepe gene gelyktydig te selekteer. Die fokus is op hitteverdraagsaamheid, droogtebestandheid, siekteweerstand, hoër opbrengste en verbeterde aanpasbaarheid.

Volgens prof Labuschagne is Suid-Afrika se grootste uitdaging egter beperkte teelkapasiteit. “Ons teel eenvoudig nie vinnig genoeg nie,” sê sy. Daarom moet nuwe tegnologie gebruik word om teelprogramme te versnel, terwyl die genetiese basis voortdurend verbreed word om meer weerstandbiedende kultivars te ontwikkel.

Die paneellede tydens ’n gesprek oor klimaatslim aartappelboerderypraktyke was, van links, Franelyn Rossouw, aartappelboer, prof Maryke Labuschagne van die Universiteit van die Vrystaat, Gabrielle Redelinghuys, projekbestuurder by Villa Crop Protection, en prof Martin Steyn van die Universiteit van Pretoria. (Foto: Du Preez de Villiers)

Elke druppel tel

Die bekende klimaatwetenskaplike, prof Guy Midgley, het die belangrikheid van waterbestuur beklemtoon. Volgens hom is die verhoging van grond se koolstofinhoud een van die grootste geleenthede wat bestaan. Meer organiese materiaal verbeter nie net grondgesondheid nie, maar verhoog ook die waterhouvermoë van die sandgronde waarin baie aartappels verbou word.

Prof Midgley het produsente aangemoedig om hul plase se unieke risiko’s deeglik te verstaan. Waar water in die toekoms beperk kan raak, moet produksiebesluite reeds nou aangepas word. Hy het ook gewaarsku oor Suid-Afrika se grondwaterbronne. Monitering van groot akwifere toon reeds kommerwekkende tendense. Grondwatervlakke daal al hoe meer en daar bestaan kommer dat intensiewe besproeiing reeds ’n rol speel.

Logistieke en data

Die tweede dag se verrigtinge het ’n aantal interessante paneelbesprekings opgelewer wat nou by die eerste dag se sessies aangesluit het. ‘n Gesprek oor die rol van data en tegnologie in die logistieke ketting het ‘n aantal interessante feite opgelewer maar ook die boodskap tuisgebring: As tegnologie reg aangewend word, kan dit ‘n merkbare verskil in die aartappelprodusent se produksie- én bemarkingsukses te weeg bring.

Norman Celliers, groep uitvoerende hoof van AFGRI, het produsente aangemoedig om instrumente en tegnologie (soos toepassings wat die oplaai van vragte op plase monitor) te omarm, omdat dit data lewer waarmee vermorsing verminder kan word. “Data maak vroeë beplanning en die tydige identifisering van probleme moontlik,” het hy gesê. Die huidige ‘data-ontploffing’ maak dit egter moeilik om te weet wat om te gebruik en hoe dit gebruik moet word.

Pieter van Zyl, algemene bestuurder van Freshmark, het interessante feite vanuit ’n kleinhandelsperspektief gedeel, soos waarom dit belangrik is om die vraag na ’n produk te bepaal en watter rol tegnologie in hierdie opsig kan speel om beide die produsent en die kleinhandel by te staan. Hy het onder meer verwys na die ‘vraagopbou’ vir naweke en openbare vakansiedae. Koopgewoontes onder die LSM-groepe verskil en tendense toon dat die grootste hoeveelheid aartappels verkieslik op ’n Donderdag of Vrydag in kleinhandelwinkels beskikbaar moet wees, wanneer 50% van aankope gewoonlik plaasvind.

Daar is ook ’n toename in vraag op die 15de van ’n maand, wanneer staatsamptenare hul salarisse ontvang. Daarbenewens toon data dat kleinhandelaars daagliks meer produkte tussen 12:00 en 16:00 verkoop. Hy het opgemerk dat die Generasie Z-groep die minste aartappels verbruik en dat bemarkingspogings op hulle behoort te fokus.

Stefan la Grange, besturende direkteur van DP World SSA, het die bespreking afgesluit met die opmerking dat die aartappelverspreidingsnetwerk sal baat by data wat aandui waar en wanneer voorraad geplaas moet word om die beste prys te kry en dit vir die verbruiker bekostigbaar te maak. “Dit moet van punt tot punt gekarteer word, maar dit is belangrik om die basislyn vas te stel en in relevante tegnologie te belê.”

Wat die verbruiker werklik koop

’n Paneelbespreking oor verbruikersen marktendense het nou by die logistieke bespreking aangesluit. Hierdie sessie is deur Mzimasi Jalisa van Jay Jay Farming gelei. Louis von Zeuner, afgetrede adjunk-uitvoerende groephoof van Absa, het afgeskop met ’n aanhaling uit McKinsey-navorsing wat toon dat mense tans slegs betaal vir produkte waarvan die waarde sigbaar is, soos goeie kos teen ’n bekostigbare prys. Aartappels, het hy gesê, het die potensiaal om hierdie behoefte aan te spreek.

Dr Carmen Muller van die Universiteit van Pretoria het verduidelik dat die Suid-Afrikaanse mark redelik uniek is en nie noodwendig met verbruikers in ander lande vergelyk moet word nie. Sy het verwys na die pilare van voedselsekerheid: beskikbaarheid, benutting (nuttige voedingstowwe), toegang (finansieel en fisiek), stabiliteit (stabiele pryse en voorraad), en agentskap, wat beteken verbruikers het seggenskap oor die produk wat hulle verlang.

Aartappels en uie is tans van die enigste onverwerkte voedsel onder die 17 mees-gekoopte stapelvoedselprodukte. “Indien aartappels egter nie sigbaar is nie, sal dit nie in die kosmandjie beland nie, omdat die laer LSM-groepe nie ‘n emosionele verbintenis met aartappels het nie. Bekostigbaarheid bly die grootste dryfveer.”

Louis de Kock jr, een van die stigters van Nile.ag, het klem gelê op die rol van digitalisering om boere meer direk met verbruikers te verbind, hoewel plaaslike realiteite in hierdie opsig in ag geneem moet word. Hy het boere aangeraai om ’n meer aktiewe rol in die bemarking van hul aartappels te speel en te verseker dat minder tussengangers betrokke is. Dit is wel meer werk om direk te lewer; daarom moet produsente seker maak dat hulle die kanale wat hulle wil gebruik, verstaan.

Die paneellede tydens ’n bespreking oor verbruikers- en marktendense was, van links, Mzimasi Jalisa van Jay Jay Farming en die Aartappels SA-raad, Louis von Zeuner, afgetrede adjunk-uitvoerende groephoof van Absa, dr Carmen Muller van die Universiteit van Pretoria, Steven Wolfaardt van PepsiCo Suid-Afrika, en Louis de Kock jr van Nile.ag. (Foto: Lynette Louw)

Is produsente lief vir tegnologie?

Nog ’n tegnologie-gefokusde paneelbespreking is gelei deur Sandveldprodusent, Johan Stephan van Stephan & Seun Boerdery, en hier is weer eens bevestig dat die regte gebruik van tegnologie die produsent tot ‘n groot mate kan bevoordeel.

Bruno Leite Teixeira Perroni, Lindsay Corporation se senior verkoopsbestuurder vir Europa, Afrika, en die Midde-Ooste, het op besproeiingstegnologie gefokus en gesê die grootste sprong van die bedryf in die onlangse verlede, was dié van afstandbeheer. Die nuwe uitdaging is om toerusting se werksverrigting en prestasie in data uit te druk en dit reg aan te wend om produksie en winsgewendheid te verhoog.

Hy het onder meer verwys na presisiebesproeiing asook ’n studie oor veranderlike besproeiing wat in Nieu-Seeland gedoen is. Die proewe het getoon dat sommige produsente tussen 20 en 35% van hul gewone waterverbruik met behulp van hierdie stelsels kon verminder. Boonop is foutrapportering op besproeiingstoerusting ook baie meer akkuraat.

Hy het wel beklemtoon dat boere nie data alleen hoef te probeer interpreteer nie, aangesien dit juis hierdie aspek is wat produsente kan ontmoedig om tegnologie te gebruik. Verskaffers is daar om te help met interpretasie en aanbevelings, wat vertroue skep. Goeie tegnologie, het hy gesê, is met werklike ervaring op die plaas belyn.

Werner Piek, hoof van Cropwise by Syngenta, het gesê die tempo waarteen digitale platforms in die landbou aanvaar en gebruik word, is nie baie hoog nie. “Boere is van nature pessimisties, maar dit is belangrik om te verstaan dat tegnologie nie die boer vervang nie; dit is bloot ’n instrument wat as raadgewer gebruik word.” Hy het kommentaar gelewer op die groot aantal instrumente wat beskikbaar is en produsente aangeraai om slegs een te kies wat die regte antwoorde gee en dit ten volle te benut, eerder as om ses of sewe te gebruik wat nie konsekwente aanbevelings lewer nie.

Die sitrusbedryf was by vanjaar se kongres teenwoordig om hulle ondervinding met tegnologieaanvaarding en die gebruik van data te deel. Volgens Coenraad Fraenkel, voorligtingsbestuurder van Citrus Research International in die Wes- en Noord-Kaap, is hulle benadering om nié met die gesofistikeerdste tegnologie te begin, indien die basislyn nie in plek is nie. Seisoenale afwykings kan byvoorbeeld met tegnologie soos weerstasies gevolg word, waarna die data gebruik kan word om tendense te bepaal en bestuur dienooreenkomstig aan te pas. Dit is die tipe tegnologie wat maklik deur boere ingespan kan word en hulle op ‘n praktiese bestuursvlak kan baat.

Volgens Karidas Tshintsholo, stigter en uitvoerende hoof van Khula!, is een van die probleme met data en tegnologie dat rolspelers nie altyd verstaan wat die ander wil hê of doen nie. Beleggers wil byvoorbeeld weet wat en hoe ’n boer produseer voordat fondse bewillig word. Tegnologie stel so ’n belegger in staat om toegang tot inligting soos die vogvlakke op ’n betrokke plaas te verkry. Tegnologie maak ook risikoprofilering moontlik en stel die belegger in staat om sy of haar beplanning te doen.

Soos talle ander sprekers, het hy ook na die magdom beskikbare tegnologieë en toepassings verwys en opgemerk: “Tegnologieë kry nut wanneer dit in kombinasie gebruik word, terwyl kunsmatige intelligensie alles saamtrek om data te genereer. Tegnologie is egter bloot ’n instrument wat ’n mededingende voordeel bied; dit vervang nie die mensekomponent nie.”

In ’n neutedop

Dit was duidelik uit hierdie en verskeie ander paneelbesprekings dat die suksesvolle aartappelprodusent van die toekoms nie die een gaan wees wat ná elke krisis weer moet opstaan nie. Dit sal eerder die produsent wees wat vooruitbeplan, sy plaas met nuttige data bestuur, die beste genetika gebruik, sy grond gesond hou, water behoorlik bestuur en die jongste tegnologie met selfvertroue en insig aanwend. Die nuwe maatstaf is vooruitbeplanning, presisie en volhoubare innovasie. – Du Preez de Villiers en Lynette Louw, Plaas Media

Posted in ,