Slim plaagbeheer: Hoe ’n feromoon mannetjiesmotte mislei
Estimated reading time: 3 minutes
Insekdoders vorm steeds die grondslag van aartappelmotbeheer. Toenemende regulatoriese beperkings, voedselveiligheidsvereistes en die risiko van insekdoderweerstand dwing produsente en agronome egter om verder as bloot ’n spuitprogram te kyk. Dit is juis waar geïntegreerde plaagbeheer (GPB) sy waarde bewys – ’n benadering wat uiteenlopende strategieë kombineer om die verskillende lewensstadia van ’n plaag doeltreffend te teiken.
Die wetenskap van ’n feromoon
Feromone is chemiese stowwe wat organismes afskei om ’n spesifieke gedragsreaksie by individue van dieselfde spesie te ontlok. In plantbeskerming is geslagsferomone die algemeenste toepassing. Wyfies produseer hierdie chemikalieë natuurlik om mannetjies vir paring te lok. Produkte soos Insect Science se Last Call™ PTM boots hierdie natuurlike sein kunsmatig na om aartappelmotmannetjies doelgerig te lok.
Die chemiese formulering kombineer die spesiespesifieke geslagsferomoon van die wyfie-aartappelmot met ’n klein hoeveelheid insekdoder. Die mannetjiesmot word deur die feromoon gelok, kom met die druppel in aanraking en vrek. Omdat die feromoon uiters spesiespesifiek is, word nie-teiken insekte soos bestuiwers, natuurlike vyande en biologiese beheeragente grotendeels onaangeraak gelaat.
Waarom hierdie strategie werk
Konvensionele insekdoders teiken hoofsaaklik larwes wat reeds binne-in die plant voed. In daardie stadium het die skade dikwels reeds begin. ’n Loken-moor produk soos Last Call™ PTM gryp vroeër in die lewensiklus in deur die volwasse mannetjiesmot te teiken voordat paring kan plaasvind. Dit beperk die aantal bevrugte wyfies en verminder uiteindelik die getal eiers wat die volgende generasie oplewer.
Die effek is nie oornag sigbaar nie. Omdat slegs volwasse mannetjies geteiken word, neem dit tyd voordat die bevolking merkbaar afneem. Daarom is die tydsberekening van toediening noodsaaklik. Toediening vroeg in die seisoen, wanneer plaagvlakke nog laag is, lewer die beste langtermyn resultate.
Veldproewe waarin lokvalvangste voor en ná toediening vergelyk is, toon konsekwent ’n afname in die aantal gevange motte wanneer Last Call™ PTM as deel van ’n standaard chemiese beheerprogram gebruik word.
Meer as net ’n beheerproduk

Last Call™ PTM is ’n gereed-vir-gebruikvetformulering wat maklik met die hand aangewend kan word en geen vermenging voor toediening vereis nie. Die formulering is reënbestand en hoef nie ná reënval weer toegedien te word nie, wat dit ’n gerieflike en betroubare oplossing vir produsente maak.
Deur ’n insekdoder met ’n spesiespesifieke feromoon te kombineer wat slegs mannetjiesmotte lok, bied Last Call™ PTM ’n bykomende werkingsmeganisme vir plaagbeheer en speel dit ’n belangrike rol in insekweerstandbestuur. Omdat slegs mannetjiesmotte geteiken word, is die seleksiedruk op die insekdoder aansienlik laer as by konvensionele voldekbespuitings, wat sodoende help om die ontwikkeling van weerstand te vertraag.
Die produk word nie as ’n breëdek-insekdoder toegedien nie. Dit beperk mense se blootstelling aan die produk en verbeter die veiligheid van toediening. Verder word Last Call™ PTM slegs op die nie-eetbare dele van die gewas toegedien, wat beteken dat geen onthoudingstydperk van toepassing is nie.
Dié voordele maak Last Call™ PTM ’n doeltreffende omgewings- en gebruikersvriendelike hulpmiddel vir GPB-programme. Vir bestellings of vir meer inligting oor die korrekte toediening van hierdie produk, stuur ’n e-pos na info@insectscience.co.za
