Aartappelplante wat met Fusarium spp., Macrophomina spp. en Rhizoctonia spp. geïnfekteer is.
Aartappelplante wat met Fusarium spp., Macrophomina spp. en Rhizoctonia spp. geïnfekteer is.

Is houtskoolvrot ’n opkomende aartappelsiekte?

Estimated reading time: 3 minutes

Houtskoolvrot word deur Macrophomina phaseolina veroorsaak. Die patogeen is reeds in 1969 op sonneblomme en sojabone in Suid-Afrika gerapporteer. Dit het ’n wye gasheerreeks en kan meer as 500 plantspesies besmet, insluitend ekonomies-belangrike gewasse soos mielies, sonneblomme, sojabone, groenbone en katoen. Hoewel M. phaseolina al regoor Suid-Afrika aangemeld is, is die rapportering daarvan by aartappels beperk.

Houtskoolvrot – die tekens

Simptome sluit die verwelking en vergeling van blare in. Geïnfekteerde stingels ontwikkel sagte, donker letsels waarin klein, swart strukture (mikrosklerotia) gevorm word.

Knolle kan ook deur M. phaseolina besmet word en het vlak, waterdeurdrenkte letsels tot gevolg. Die knolweefsel binne hierdie letsels word grys en raak uiteindelik swart as gevolg van swamgroei. Indien knolinfeksies vinnig ontwikkel, kan dit ’n sagtevrot veroorsaak wat van wit na pienk en uiteindelik na swart verander.

Simptome op die stingels kan maklik met Verticillium-verwelk of swartstam by aartappels verwar word. Verder word simptoomidentifikasie bemoeilik omdat die siekte gereeld saam met ander patogene voorkom.

Indien houtskoolvrot in aartappels vermoed word, kan die Aartappels SA-streeksbestuurder gekontak word sodat monsters na die Landbounavorsingsraad (LNR)-kampus vir Groente, Industriële en Medisinale Plante gestuur kan word vir bevestiging. ’n Opname van die siekte sal waardevol wees om die risiko van houtskoolvrot by aartappels in Suid-Afrika te bepaal.

Voorkoms in aartappels

Tydens die projek oor vroeë afsterwing by aartappels, wat van 2020 tot 2022 in Limpopo plaasgevind het, is verskeie M. phaseolina-isolate in aartappelmonsters gevind. Al die isolate wat verkry is, is in die laboratorium getoets en het binne sewe tot 14 dae beduidende simptome op aartappelknolle getoon.

Aartappelknolle wat met Fusarium solani, F. oxysporum en Macrophomina phaseolina besmet is.

Houtskoolvrot kom meer algemeen onder warm weerstoestande voor, wanneer plante onder stres verkeer. Pandey en Basandrai (2021) het aangedui dat die voorkoms en erns van houtskoolvrot waarskynlik met klimaatsverandering sal toeneem. Siekte-ontwikkeling hang van verskeie faktore af, maar temperatuur en grondvog speel ’n groot rol. Volgens die literatuur is die patogeen veral aktief wanneer grondtemperature van 32°C of hoër in gewasse soos mielies en sojabone voorkom.

Prof Jacquie van der Waals het ook gevind dat ’n M. phaseolina-isolaat by ’n temperatuur van 45°C kan groei (Jordaan en Van der Waals, 2015). Wokocha (2000) het verder gerapporteer dat sojaboonplante onder waterstrestoestande meer vatbaar is vir M. phaseolina-infeksie. Diourte et al. (1995) het bevind dat houtskoolvrot by sorghum deur middel van die korrekte waterprogram bestuur kan word.

Dit wil dus voorkom asof hoë temperature en lae grondvog aartappelplante onder erge stres kan plaas en hulle meer vatbaar maak vir infeksie en siekte-ontwikkeling. Min inligting is egter beskikbaar oor die uitwerking van temperatuur en vogvlakke op die ontwikkeling van houtskoolvrot by aartappels. Hierdie projek sal dus fokus op die effek wat temperatuur en vogvlakke op besmetting en siekte-ontwikkeling het.

Nuwe studies op aartappels

M. phaseolina het ’n wye gasheerreeks en die meeste van dié vatbare plante word in wisselbou met aartappels gebruik. M. phaseolina vorm mikrosklerotia in die grond en op plantmateriaal; hierdie strukture kan vir jare in die grond oorleef.

Studies oor kruisinokulasie is egter nodig om te bevestig of isolate vanaf mielies en sonneblomme ook siekte by aartappels kan veroorsaak. Aartappels SA se nuwe projek oor M. phaseolina sal die patogenisiteit van isolate wat vanaf mielies en sonneblomme verkry is, op aartappels toets. – dr René Sutherland, dr Elsie Cruywagen, Lesiba Ledwaba, dr Juanita Engelbrecht en dr Mariette Truter