Sandveld-kultivarproef onder besproeiing by Aurora in 2025/26
Estimated reading time: 9 minutes
Die Sandveld-produksiestreek produseer sowat 13.12% van die totale aartappeloes in Suid-Afrika, op ongeveer 6 967 ha in somer- en winteraanplantings. Hierdie streek voorsien aartappels en moere aan die hele voorsieningsketting, wat uitvoer en tafel- en verwerkingsdoeleindes insluit. Tafelaartappels word hoofsaaklik na Angola en moere na Mosambiek uitgevoer. Die prominentste kultivars wat hier vir tafelverbruik en verwerking geproduseer word, is Mondial, Sifra, FL2108 en Valor.
Die proef is op die plaas Rietfontein in die Aurora-omgewing, aan die westelike voet van Piketberg, uitgevoer. Die area is in Suid-Afrika se winterreënvalstreek geleë, met ’n gemiddelde jaarlikse reënval van sowat 395 mm wat die afgelope 21 jaar by die naaste Landbounavorsingsraad (LNR)-weerstasie aangeteken is.
Die omgewing geniet ’n Mediterreense klimaat met warm somers en koue, nat winters. Aartappels word regdeur die jaar in die Sandveld geproduseer en die aanplanting is tipies vir die streek. Die meeste aartappels word egter in Februarie en Junie geplant.

Proefontwerp en besonderhede
Die kultivarproef is in sandgrond uitgevoer en in ’n ewekansige blokontwerp met drie herhalings per kultivar uitgelê. Tabel 1 bevat bykomende tegniese inligting oor die proef en Tabel 2 die bemestingsprogram vir die afgelope seisoen. Grondmonsters is voor plant geneem om die grondvoedingstatus van die proefperseel te bepaal (Tabel 3). Regstellings aan die spilpunt is op ’n wisselende basis gedoen.



Die kultivarproef sluit kultivars met kort en lang groeitydperke in; dit kan die uiteindelike opbrengs van sekere kultivars beïnvloed. Die lengte van groeitydperke is aan die aard van die seisoen onderhewig, maar word beskou as die hoeveelheid tyd wat verloop vanaf opkoms tot natuurlike loofafsterwe. Tabel 4 sit uiteen hoe hierdie groeitydperke van kultivar tot kultivar verskil.

Die plantgereedheid van moere op die plantdag, sowel as die standpersentasie en halmtelling wat later in die groeitydperk waargeneem is, word ook in Tabel 4 aangedui.
Bemarkingsverwante resultate
Die evaluering van nuwe kultivars soos in die Aurora-kultivarproef verskaf resultate wat onder meer betrekking het op opbrengs- en bemarkingsindekse, sowel as bakgehalte en prosesseringseienskappe.
Die bemarkingsindeks van die betrokke kultivars word bereken deur elke kultivar op grond van gehalte en groottegroepe (byvoorbeeld Klas 1 groot of Klas 2 groot-medium) te klas en sorteer.
Prysvergelykings word dan getref met markpryse wat ten tyde van oes verkry is. Die prestasie van nuwe kultivars kan egter nie net op die resultate van een spesifieke seisoen geskoei word nie, aangesien klimaat van een jaar na ’n volgende wissel. Juis daarom word die kultivars verkieslik oor ’n aantal seisoene geëvalueer.
Klimaats- en weertoestande
Soos met enige gewas is temperatuur, straling, waterbeskikbaarheid (hetsy deur goeie besproeiingskedulering of reënval), asook hitte-eenhede belangrike faktore wat ’n wesenlike invloed gedurende die aartappelplant se groeitydperk het. Hierdie faktore word dus in aanmerking geneem wanneer die prestasie van kultivars geëvalueer word. Toepaslike weerdata word vanaf ’n nabygeleë weerstasie verkry. Die 2025/26-seisoen (Figuur 2) het aansienlik ondergemiddelde reënval ontvang, hoewel Aurora in die winterreënvalgebied val.

Minimum- en maksimumtemperature word in Figuur 3 uiteengesit. Die betrokke seisoen het met tye groot skommelinge in maksimumtemperature ervaar.

Altesaam 94 dae van temperature bo 30°C en 32 dae bo 35°C is gedurende die groeitydperk aangeteken – meer as in die vorige seisoen. Temperature was regdeur die aktiewe groeitydperk byna voortdurend hoog.
Hitte-eenhede en straling
Die versameling van hitte-eenhede gedurende ’n groeitydperk is ’n belangrike faktor in die ontwikkeling van ’n aartappelplant. Die tendens van hitte-eenhede wat vir die 2025/26-seisoen se Aurora-kultivarproef beskikbaar is, toon dat die hitte-eenhede gedurende die tydperk tussen plant en uithaal effens hoër was as die afgelope paar seisoene (Figuur 4).

Nog ’n belangrike faktor om in ag te neem is die hoeveelheid daaglikse straling (Figuur 5). Dit is ’n meting van die hoeveelheid sonligenergie wat ’n horisontale oppervlakte tref. ’n Toename in straling lei tot meer fotosintese gedurende die groeitydperk. Die gemiddelde daaglikse straling vir die afgelope seisoen was laer as die vorige seisoene – moontlik weens meer mistige en bewolkte dae – wat ’n verklaring vir die swakker opbrengste bied.

Indien langtermyn data in ag geneem word, was die akkumulasie van straling – wat daagliks gemeet is – 8.45% laer in die 2025/26-seisoen as gedurende vorige seisoene. Straling, en gevolglik fotosintese en uiteindelike opbrengs vir die hele seisoen, was minder as in vorige seisoene.
Opbrengs en kultivareffek
Opbrengsdata wat tydens oesdag versamel is, is statisties verwerk met die GenStat®-program. Die Tukey-toets van kleinste betekenisvolle verskille (KBV) is gebruik om die gemiddelde te skei. Die kultivareffek tydens hierdie proef (Figuur 6) was statisties beduidend (p<0.05) en die koëffisiënt van variasie was binne perke (12.3%). Hierdie faktore dui daarop dat die proef baie goed uitgevoer is en die resultate derhalwe betroubaar is.

Die opbrengs van elke kultivar word deur die proefgemiddelde gedeel, met die proefgemiddelde van al die kultivars wat as 100% geneem word. Hierdeur word ’n opbrengsindeks bepaal en word elke kultivar se prestasie in terme van opbrengs, as ’n persentasie van die proefgemiddelde gelees.

vir die 2025/26-seisoen is 73.8 t/ha.
Die gemiddelde opbrengs van die proef vir die 2025/26-seisoen is 73.8 t/ha, wat aansienlik laer is as die vorige vyf seisoene se gemiddelde van 92.1 t/ha. Die kultivar, Avalanche, het statisties die beste opbrengs gelewer.
Avalanche en Valor het die beste bemarkingsindeks behaal. ’n Hoë bemarkingsindeks word toegeskryf aan ’n hoër opbrengs van groot aartappels en/of ’n goeie persentasie goeie-gehalte aartappels. Byvoorbeeld, ’n hoë persentasie onbemarkbare aartappels sal ’n bemarkingsindeks benadeel.
Groottegroepverspreiding en gradering is belangrike evaluasiekriteria wanneer na die bemarkbaarheid van ’n kultivar gekyk word (Figuur 7 en 8). In hierdie proef is slegs Klas 1- en 2-aartappels geklas, teenoor onbemarkbare (weggooi) aartappels.


Kultivarprestasie
Soos die aard van seisoene is, wissel die prestasie van kultivars van seisoen tot seisoen, bloot omdat klimaat van een seisoen na ’n volgende nooit eenders is nie. Daarom is dit belangrik om konsekwente kultivarprestasie oor ’n aantal seisoene in ag te neem.
Die afgelope drie en vyf seisoene se variasie in kultivars word in Figuur 9 en 10 aangedui. Lanorma en Sifra toon in hierdie proef die meeste stabiliteit oor ’n tydperk van vyf jaar, met P1 en Lanorma wat oor die afgelope drie seisoene baie konsekwent presteer het.


Aalwurmskade was die grootste rede vir die afgradering van aartappels vanaf bemarkbaar na weggooi, en daarom is houvermoë nie na afloop van die proef getoets nie. Die voorkoms van aalwurms was uiters hoog en was by alle kultivars teenwoordig. Geringe tot geen ander defekte het afgradering veroorsaak nie. Sound, S1, Sifra, Lilly, P1, Mondial en 93A15 het die beste onder die hoë aalwurmdruk gevaar.
Laastens, wanneer gekyk word na die interne gehalte van aartappels, kan prosesseringseienskappe ook geëvalueer word. Om aan prosesseringsvereistes te voldoen, moet kultivars onder meer aan ’n soortlike gewig (SG) van ≥1.075 en ’n skyfiekleurwaarde van >50 voldoen (Tabel 5). Volgens LNR-analises het die meeste kultivars die verlangde skyfiekleur behaal, maar slegs Markies het aan die SG-vereiste voldoen (Tabel 5). – Enrike Verster, Aartappels SA, Piet Brink, Sandveld-werkgroep, en Albert de Villiers, produsent
