Ceres-kultivarproef_Donkerbos 2026_1

Ceres-kultivarproef onder besproeiing by Donkerbos in 2025/26

Estimated reading time: 8 minutes

Produsente in die Ceresproduksiegebied plant sowat 1.52% van die totale hektare onder aartappels in Suid-Afrika. Hulle plant verwerkings- en tafelaartappels onder besproeiing. Die prominentste kultivars wat in hierdie streek geproduseer word, is FL2108, Sifra, FL2006, Avalanche en Lanorma.

Die kultivarproef is uitgevoer by Donkerbos in die Koue Bokkeveld, wat in die winterreënvalgebied lê. Die omgewing ervaar warm somers, terwyl winters baie koud en nat is weens gereelde sneeu op die omliggende berge. Hoofaanplantings in hierdie streek geskied tussen Oktober en November, en enige vroeë of laat aanplantings loop die risiko van reënskade.

Hoofaanplantings in die Ceres-streek geskied tussen Oktober en November, en enige vroeë of laat aanplantings loop die risiko van reënskade.

Proefontwerp en -besonderhede

Die proefperseel bestaan uit sandgrond en is in ’n ewekansige blokontwerp met drie herhalings per kultivar uitgelê.

Tabel 1 bevat bykomende tegniese inligting oor die proef. Grondmonsters is voor plant geneem om die grondvoedingstatus van die proefperseel te bepaal (Tabel 2).

Die kultivarproef sluit kultivars met kort en lang groeitydperke in; derhalwe kan dit die uiteindelike opbrengs van sekere kultivars beïnvloed. Die lengte van groeitydperke is aan die aard van die seisoen onderhewig, maar word beskou as die hoeveelheid tyd wat verloop vanaf opkoms tot natuurlike loofafsterwe. Tabel 3 sit uiteen hoe hierdie groeitydperke van kultivar tot kultivar verskil. Die plantgereedheid van moere ten tyde van plant, sowel as die standpersentasie en halmtelling wat later in die groeitydperk waargeneem is, word ook in Tabel 3 aangedui.

Die evaluering van nuwe kultivars soos in die Ceres-kultivarproef, bied resultate wat onder meer op opbrengs- en bemarkingsindekse betrekking het. Die bemarkingsindeks van die betrokke kultivars word bereken deur elke kultivar op grond van gehalte en groottegroepe (byvoorbeeld Klas 1 groot of Klas 2 groot-medium) te klas en sorteer.

Prysvergelykings word dan getref met markpryse wat ten tyde van oes verkry is. Die prestasie van nuwe kultivars kan egter nie net op die resultate van een spesifieke seisoen geskoei word nie, aangesien die klimaat van een jaar na ’n volgende kan wissel. Juis daarom word kultivars verkieslik oor ’n aantal seisoene getoets.

Uitwerking van klimaatstoestande

Soos met enige gewas is temperatuur, waterbeskikbaarheid (hetsy deur goeie besproeiingskedulering of reënval), asook hitte-eenhede belangrike faktore wat ’n wesenlike invloed op die aartappelplant se groeitydperk het. Hierdie faktore word dus in aanmerking geneem wanneer die prestasie van kultivars geëvalueer word. Toepaslike weerdata word verkry vanaf ’n weerstasie op die plaas waar die proef geplant word.

Die 2025/26-seisoen (Figuur 2) het ietwat bogemiddelde reënval in die meeste van die aktiewe groeiseisoen (Oktober tot Maart) ontvang. Hierdie somerreënval in ’n winterreënvalgebied het tot ’n bogemiddelde opbrengs bygedra.

Minimum- en maksimumtemperature word in Figuur 3 uiteengesit. Die betrokke seisoen het met tye groot skommelinge in maksimumtemperature ervaar. Altesaam 59 dae met temperature bo 30°C en vyf dae met temperature bo 35°C is aangeteken – meer as in die vorige seisoen.

Die versameling van hitte-eenhede gedurende ’n groeitydperk is ’n belangrike faktor in die ontwikkeling van ’n aartappelplant. Die tendens van hitte-eenhede wat vir hierdie seisoen se kultivarproef by Donkerbos beskikbaar is, blyk deur die aktiewe groeitydperk (November en Desember) effens hoër as die langtermyn datatendens van hitte-eenhede te wees (Figuur 4).

Opbrengs en kultivareffek

Opbrengsdata wat tydens oesdag aangeteken word, word aan statistiese verwerking met behulp van die GenStat®-program onderwerp. Die Tukey-toets van kleinste betekenisvolle verskille (KBV) is gebruik om die gemiddelde te skei. Die kultivareffek gedurende hierdie proef (Figuur 5) was statisties beduidend (p<0.05) en die koëffisiënt van variasie was laag (10.6%). Hierdie faktore dui daarop dat die proef baie goed uitgevoer is en die resultate derhalwe betroubaar is.

Die opbrengs van elk van die kultivars word deur die proefgemiddelde gedeel, met die proefgemiddelde van al die kultivars wat as 100% geneem word. Hierdeur word ’n opbrengsindeks geskep en word elke kultivar se prestasie in terme van opbrengs as ’n persentasie van die proefgemiddelde gelees.

Die gemiddelde opbrengs van die proef vir die 2025/26-seisoen is 120.14 t/ha, wat aansienlik hoër is as die vorige vyf seisoene se gemiddelde van 104.9 t/ha. Dit is boonop wéér ’n rekordopbrengs vir hierdie kultivarproef. Die verhoogde opbrengs kan aan ’n goeie sameloop van omstandighede en goeie bestuur toegeskryf word. Dit sluit ’n optimale plant- en oestyd, goeie grond en doeltreffende besproeiingskedulering in.

Die gemiddelde opbrengs van die proef vir die 2025/26-seisoen is 120.14 t/ha, wat wéér n rekordopbrengs vir hierdie kultivarproef is.

Die meeste van die kultivars in die proef het uitstekend presteer, sonder enige statistiese verskil in opbrengs. Lanorma, Foxy en 91A3 het die beste bemarkingsindeks behaal. ’n Goeie bemarkingsindeks word toegeskryf aan ’n hoër opbrengs van groot aartappels en/of ’n goeie persentasie goeie-gehalte aartappels. Groottegroepverspreidings en graderingsevaluasies in aartappels is onontbeerlik by die bepaling van ‘n kultivar se bemarkbaarheid. Die genoemde kultivars met die hoogste bemarkingsindeks het goed presteer in hierdie evaluasies (Figuur 6 en 7).

Kultivarprestasie

Soos die aard van seisoene is, wissel die prestasie van kultivars van seisoen tot seisoen. Dit is bloot omdat klimaat van een seisoen na ’n volgende nooit eenders is nie. Daarom is dit belangrik om konsekwente kultivarprestasie oor ’n aantal seisoene in ag te neem. Die stabiliteit van kultivars oor die afgelope drie en vyf seisoene word in Figuur 8 en 9 aangedui.

Die hoofredes vir afgradering word in Tabel 4 aangedui. Bruinskurf, misvorming, insekskade en stingelentvrot was die grootste redes vir die afgradering van aartappels. Stingelentverrotting kom gewoonlik aan die einde van die groeiseisoen voor. Dit word veroorsaak deur besmetting van die stolons met die patogeen, Fusarium spp., wat deur die vaskulêre weefsel na die knolle gedra word.

Laastens, wanneer gekyk word na die interne gehalte van aartappels, kan prosesseringseienskappe ook geëvalueer word. Om aan prosesseringsvereistes te voldoen, moet kultivars aan onder meer ’n soortlike gewig (SG) van ≥1.075 voldoen (Tabel 5). Verskeie kultivars het die gewenste SG-vereiste behaal. Interne gehalte word ook nagegaan om vas te stel of die betrokke kultivars tekens van holhart of bruinvlek toon. Geen kultivar het enige interne defekte getoon nie.

Spesiale dank aan die betrokke boerdery en medewerkers by Donkerbos, die Ceresaartappelwerkgroep, deelnemers FPD, GWK, RSA en WesGrow, en betrokke Aartappels SA-personeel. – Enrike Verster, Aartappels SA