Van links is Johan Koekemoer en Michelle van Wyk van die Vivo Boerebemarkingsdag, Marné Anderson van Plaas Media, Marthinus Roets, voorsitter van die Vivo Boerebemarkingsdagkomitee, en Karin Changuion-Duffy en Du Preez de Villiers van Plaas Media. (Foto: Vivo Boerebemarkingsdagkomitee)

Aartappelbedryf kruis en dwars bespreek by Vivo Boerebemarkingsdag

Marné Anderson (middel) van Plaas Media het die stalletjies saam met Petrus Dreyer en Annemarie van der Merwe van Aartappels SA besoek.

Die Vivo Boerebemarkingsdag het die afgelope paar jaar tot ’n prominente landbouskou gegroei. Plaas Media het op 4 September hierdie geleentheid in die verre noorde van die land bygewoon om meer oor die aartappelbedryf in Limpopo te hore te kom.

FP Coetzee, bestuurder van inligting en streeksdienste by Aartappels SA, het die jongste marktendense bespreek.

Die boeredag het aan FP Coetzee, Aartappels SA se bestuurder van inligting en streeksdienste, die ideale geleentheid gebied om ’n omvattende oorsig van die stand van sake in die bedryf te bied. Ongeveer 60 aartappelprodusente en markagente het aandagtig na sy markverslag geluister voordat tyd afgestaan is om die uitdagings in die bedryf onder die loep te neem. ’n Lewendige debat het tussen produsente en markagente gevolg oor die faktore wat die aartappelprys beïnvloed.

Limpopo-aartappels onder die loep

Limpopo, tradisioneel een van die belangrikste aartappelproduserende streke, het in die begin van September 21% minder sakke gelewer as in dieselfde tydperk verlede jaar, terwyl al die ander streke landswyd op ’n rekordjaar afgestuur het. Dit het produsente behoorlik laat kopkrap, want gewoonlik lei laer markvoorraad tot hoër pryse, maar op hierdie tydstip het die pryse grootliks sywaarts beweeg.

Sowat 60 produsente en agente het aan ’n debat oor die faktore wat die aartappelprys beïnvloed, deelgeneem. CT van der Merwe van AL3 Boerdery het ook sy mening gelug.

Volgens die gesprek kan dit nie aan ’n enkele rede toegeskryf word nie, maar eerder aan verskeie faktore wat saamwerk, insluitend direkte verkope, grootteklassifikasie, verwerkingsvraag en die algemene markdinamika. Ander uitdagings waarmee produsente worstel is markonsekerheid, wisselende pryse en produksierisiko’s.

Markagente het daarop gewys dat grootteklassifikasie al hoe belangriker word. Volgens hulle word te veel ‘groot’ aartappels in sekere gevalle bemark, terwyl ‘medium-groot’ aartappels onder druk geplaas word.

Markagente meen ook dat talle produsente gereeld direk aan kliënte verkoop, gewoonlik teen pryse wat laer is as die amptelike markprys. Hulle meen dit bemoeilik pogings om pryse te beskerm en te stabiliseer.

Ten spyte van die heersende uitdagings was die produsente tevrede met die huidige markprys en bly die langtermyn vooruitsigte van die bedryf positief. – Du Preez de Villiers, Plaas Media

Vir meer inligting, of om uit te vind oor volgende jaar se Vivo Boerebemarkingsdag, stuur ’n e-pos na info@vivoboeredag.co.za of besoek www.vivoboeredag.co.za.