Belastingskok by die beëindiging van vruggebruik

Estimated reading time: 4 minutes

Kleinjan erf ‘n plaas by sy pa, Piet, onderhewig daaraan dat sy ma, tannie Annie, lewenslange vruggebruik geniet. Kleinjan boer voort en betaal aan tannie Annie ’n maandelikse inkomste of haar huur in die aftreeoord. Almal is tevrede (behalwe miskien klein Annie) tot tannie Annie sterf en die Ontvanger sy deel opeis.

Neem aannames in ag

Klein Annie erf tannie Annie se boedel om te vergoed vir die plaas wat Kleinjan geërf het. Tannie Annie het beleggings van R2 miljoen, wat bestaan uit erfgeld van haar man en geld wat sy self bymekaargemaak het. Kleinjan het destyds by oom Piet se afsterwe R1 miljoen se boerderybates (vee en implemente) geërf. Ons gebruik die volgende aannames:

  • Tannie Annie se ouderdom toe oom Piet oorlede is: 62 jaar volgende verjaarsdag (vv).
  • Tannie Annie se ouderdom by haar afsterwe: 82 jaar (vv).
  • Kleinjan se ouderdom by tannie Annie se afsterwe: 56 jaar (vv).
  • Waarde van plaas by oom Piet se dood: R2 500 000.
  • Waarde van plaas by tannie Annie se dood: R7 000 000.
  • Tannie Annie se maandelikse inkomste wat deur Kleinjan betaal is: R15 000.

Artikel 3(2)(a) van die Boedelbelastingwet, 1955 (Wet 45 van 1955) bepaal dat enige vruggebruik (en ander soortgelyke regte) wat ’n persoon by sy/haar dood geniet het, ’n bate sal wees in sy/haar boedel. Artikel 5(1)(b) bepaal hoe die waarde van so ’n reg (in dié geval, vruggebruik) bereken moet word.

Die artikel bepaal dat die beëindigingswaarde van die vruggebruik bereken word deur die markwaarde van die eiendom waaroor die vruggebruik geniet is, te kapitaliseer teen 12% oor ’n faktor wat die lewensverwagting van die eienaar (Kleinjan) of ’n korter tydperk verteenwoordig. In hierdie geval is dit R7 000 000 x 12% x 7.14414 = R6 001 077. Hierdie waarde mag egter nie die markwaarde (R7 000 000) minus die eienaarswaarde (toe die reg by oom Piet se dood geskep is) oorskry nie.

‘n Laer persentasie belasting

Die vruggebruikswaarde by oom Piet se dood was R2 500 000 x 12% x 7.16020 = R2 148 060. Die eienaarswaarde was R2 500 000 – R2 148 060 = R351 940. En R7 000 000 – R351 940 = R6 648 060. Ons gebruik dus die kleinste van R6 001 077 en R6 648 060 vir ons berekening – met ander woorde R6 001 077 – as die waarde vir boedelbelasting.

Die Kommissaris van Inkomste laat jou toe om ’n laer persentasie as 12% te gebruik indien jy hom kan oortuig dat die bate ’n laer opbrengs gelewer het. Kleinjan kan moontlik wegkom met 2.6% (maandelikse inkomste van R15 000 per maand wat hy aan tannie Annie betaal het as ’n persentasie van die kapitaal, naamlik R7 miljoen). Enige verbeterings wat hy aan die eiendom aangebring het, is ook aftrekbaar van die waarde. Gebaseer op bogenoemde, sal tannie Annie se belasbare boedel as volg lyk:

  • Eie bates R2 000 000
  • Beëindigingswaarde van vruggebruik R6 001 077
  • Totaal R8 001 077
  • Korting (Artikel 4A) R5 648 060*
  • Belasbare boedel R2 353 017
  • Boedelbelasting @ 20% R470 603

Artikel 11 van die Boedelbelastingwet bepaal verder dat die persoon wat die voordeel ontvang, proporsioneel verantwoordelik sal wees vir die boedelbelasting daarop. Dus sal Kleinjan verantwoordelik wees vir 75% van die boedelbelasting en die boedel vir 25%.

Verkoop eerder vruggebruik

Indien Kleinjan die plaas sou verkoop of aan iemand anders as sy gade laat vererf, sal daar ’n kapitaalwinsimplikasie wees. BTW kan ook ’n probleem wees met vruggebruik, afhangend van die omstandighede.

Dit kan vir ’n vruggebruiker voordelig wees om eerder die vruggebruik gedurende sy/haar leeftyd aan die eienaar te verkoop, as om dit te laat vererf of dit te skenk (met gevolglike skenkingsbelasting).

* ’n Gedeelte van die artikel 4A-korting is reeds by oom Piet se dood gebruik. In ons voorbeeld word geen verdere kortings in ag geneem nie.Deur, Rynoe Smith, PSG Wealth

Posted in ,