Bestuur laatroes beter met Syngenta se waarskuwingsmodel

Estimated reading time: 3 minutes

Die ou gesegde dat voorkoming beter as genesing is, geld vir enige pes en plaag, veral by aartappelproduksie. Laatroes, oftewel Phythophthora infestans, ontwikkel vinnig wanneer dagtemperature tussen 15 en 24°C, en nagtemperature rondom 10°C is, en daar genoeg vog is vir die swamstruktuur wat spore (bekend as sporangia) vrystel om te ontkiem. Die meeste sporangia sal sterf as hulle selfs net een uur aan sonlig en droë lug blootgestel word.

Onder optimale toestande kan laatroes baie vinnig ontwikkel en letsels kan binne drie dae ná infeksie sigbaar wees. Die feit dat 900 000 sporangia binne enkele dae in elke letsel kan ontwikkel, verklaar waarom laatroes soos ‘n veldbrand deur ‘n aartappelland versprei.

Dié produkte takel laatroes

Syngenta het twee produkte wat laatroes op aartappels vasvat, naamlik REVUS® wat mandipropamied bevat, sowel as RIDOMIL GOLD® Flo wat MEFENOXAM™ bevat. Die aktiewe bestanddele is uitsluitlik ontwikkel om oömisete, die patogeenklas waaraan laatroes behoort, te beheer.

REVUS® word voorkomend aanbeveel omdat dit verhoed dat swamspore ontkiem en groei. Aangesien die produk slegs translaminêr deur die blaar beweeg, moet die teikenarea deeglik benat word. REVUS® word ná toediening in die waslaag van die plant opgeneem en dit verseker uitstekende reënvastheid sodra die spuitoplossing droog word.

In RIDOMIL GOLD® Flo word die MEFENOXAM™ komponent vinnig ná toediening deur die plant se blare en groen stamme opgeneem, en opwaarts vervoer om spoorvorming en miseliumgroei te inhibeer. RIDOMIL GOLD® Flo bevat ook die nie-sistemiese kontak aktiewe bestanddeel, chlorotaloniel, wat die voorkomende beheer van ‘n wye spektrum van plantpatogene moontlik maak.

Sy twee aktiewe bestanddele met hul verskillende metodes van werking, verleen aan RIDOMIL GOLD® Flo ‘n ingeboude weerstandbestuursfunksie wat dit ‘n noodsaaklike komponent van ‘n voorkomende laatroesbeheerprogram maak.

Wanneer die produsent onkant betrap word as gevolg van veranderde toestande, kan RIDOMIL GOLD® Flo wel toegedien word om laatroes kuratief te beheer. Produsente moet egter onthou dat weerstand onder sulke omstandighede kan ontwikkel en dat beheer nie noodwendig doeltreffend sal wees nie.

Waarskuwingsmodel

Om laatroes beter te bestuur, het Syngenta ‘n waarskuwingsmodel ontwikkel om siekterisiko te voorspel op grond van weervoorspellings wat deur ‘n groot aantal weerstasies regoor die land verskaf word. Die weermodel word twee keer per week gesimuleer om ‘n vyfdagvoorspelling per weerstasie te genereer.

Indien die volgende vyf dae ‘n risiko vir die ontwikkeling van laatroes inhou, kry die agent of produsent wat vir die diens geregistreer is, ‘n WhatsApp-boodskap wat dit aandui.

Agente en produsente kan vir verskeie weerstasies registreer en kies in watter maande hulle boodskappe wil ontvang. So word verseker dat waarskuwings tot die betrokke streek se produksietye beperk word.

Omdat die uitdagings verbonde aan aartappelproduksie voortdurend verander, word die siektes en probleme waarteen die model waarsku deurlopend aangepas. Tans word siektewaarskuwings vir vroeë- en laatroes uitgereik. Die jongste toevoegings is waarskuwings teen hittestremming en ryp.

Die model gee slegs ‘n aanduiding van hoe gunstig klimaatstoestande is vir die ontwikkeling van ‘n spesifieke siekte en neem byvoorbeeld nie die kultivar, groeistadium of mikroklimaat in ‘n aartappelsirkel in ag nie.

LEES DIE PRODUKETIKET VOOR GEBRUIK

REVUS® bevat mandipropamied (Reg. nr. L8617, Wet 36 van 1947). SKADELIK. RIDOMIL GOLD® bevat MEFENOXAM™ (Reg. nr. L6669, Wet 36 van 1947). Beide is die geregistreerde handelsmerke van ’n Syngenta Groepmaatskappy. Syngenta Suid-Afrika (Edms.) Beperk, Privaatsak X60, Halfway House, 1685. Tel (011) 541 4000. www.syngenta.co.za. © Syngenta Ag, 2000. Kopiereg voorbehou. Alle ongemagtigde vermeerdering word verbied.

Produsente en agente kan gratis vir die siektewaarskuwingsdiens registreer by www.syngenta.co.za/service/weather-and-risk-map-service.