Estimated reading time: 4 minutes
Die meeste nuwe kliënte wat ek ontmoet se buitelandse beleggings is goed gestruktureer en weldeurdag. Soms is daar egter individue wat geld uit die land geneem het en hul eie beleggings hanteer. Hulle het byvoorbeeld aandele of beursverhandelde fondse op buitelandse aandelebeurse gekoop, of gebruik maatskappye se sogenaamde effektetrusts om hulle beleggings te bestuur.
Sommige van hierdie beleggings vaar baie goed, maar daar gaan sekere belastingimplikasies hiermee gepaard. Hierdie individue was onder die indruk dat die winste, rente en dividende wat hulle op die geld verdien, in die buiteland gaan bly en slegs daar belas gaan word.
Belastingpligtigheid
Individue wat Suid-Afrikaanse inwoners vir belastingdoeleindes is, is belastingpligtig op hulle wêreldwye inkomste. Dit sluit alle kapitaalwins in wat jy genereer as jy ’n aandeel of ’n mutual fund teen ’n wins verkoop, asook rente en dividende wat jy in die buiteland verdien. Tensy wetgewing of ’n dubbel-belastingooreenkoms anders bepaal, kan jy swaarder belas word as wat jy verwag het.
Die groot probleem begin egter by die kliënt se dood, wanneer die buitelandse boedel afgehandel en boedelbelasting betaal moet word. In sekere jurisdiksies kan dit tot 40% beloop. Die proses kan ook baie duur wees en lank neem om af te handel. In hierdie tyd is die belegging gewoonlik nie vir die naasbestaandes toeganklik nie, wat nog groter trauma en finansiële stres kan meebring.
Verskeie beleggingshuise in Suid-Afrika het hierdie probleme aangepak en ’n oplossing in die vorm van ’n beleggingsplatform binne ’n polis ontwikkel. Dit hou verskeie voordele in: Jy kry gekonsolideerde verslagdoening met toegang tot ’n groot verskeidenheid fondsbestuurders regoor die wêreld en boonop, in die meeste gevalle, teen laer fondsbestuurskoste.
Die versekeraars betaal alle belasting. Dit beteken jy hoef nie aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) verslag te doen oor dividende, kapitaalwins, wisselkoerswinste of rente wat jy op hierdie produk ontvang nie. Ooreenkomstig artikel 29A van die Inkomstebelastingwet, 1962 (Wet 58 van 1962) betaal die versekeraar 12% kapitaalwinsbelasting en 30% belasting op rente en ander inkomste. Vergelyk dit met die maksimumkoers van 45% wat deur individue betaalbaar is.
Boedelvoordele
Gewoonlik is daar die opsie om meer as een persoon as begunstigde te benoem om met die belegging voort te gaan. Dit beteken die belegging bly voortbestaan indien een van die polishouers sterf. So nie kan begunstigdes aangewys word om die opbrengs van die belegging te ontvang as die polishouer sterf.
In hierdie gevalle gaan die belegging dus nooit deel van jou boedelproses wees nie en die gepaardgaande vertragings word uitgeskakel. Geen eksekuteursfooie sal betaalbaar wees nie. Jy kan ook duur boedelberedderingskoste en oorsese boedelbelasting vermy, omdat buitelande bates binne die beleggingspolis uitgesluit is van hierdie belastings en prosesse.
’n Menigte van hierdie polisse gee jou die opsie om internasionale aandeletransaksies op die gewone manier, in samewerking met jou gemagtigde aandelemakelaar, binne hierdie produk aan te gaan.
Likiditeit
Hierdie beleggingsprodukte is onderhewig aan die beperkings en reëls van die Langtermynversekeringswet, 1998 (Wet 52 van 1998). Jy mag byvoorbeeld in die eerste vyf jaar net een (gedeeltelike of volle) onttrekking aangaan, en die onttrekkingsbedrag word beperk.
Dit kan probleme skep indien jy skielik fondse benodig. Die meeste produkte oorbrug hierdie probleem deur meer as een polis binne die beleggingsplan uit te reik. Met die uitreiking van byvoorbeeld tien polisse, kan jy dus tien onttrekkings binne die eerste vyf jaar aangaan. Na die aanvanklike vyf jaar het jy oor die algemeen onbeperkte toegang tot jou beleggings.
Addisionele beleggings kan bygevoeg word en is in die eerste jaar onbeperk. Daarna geld sekere beperkings waarvan beleggers bewus moet wees, aangesien dit implikasies vir toegang tot die belegging het.
Beleggingshuise het almal ’n reeks beskikbare produkte. Die aantal beskikbare en tipe fondse verskil van verskaffer tot verskaffer. Raadpleeg ’n kundige, geregistreerde finansiële adviseur om te sorg dat die belegging moeitevry en teen die laagste koste aangegaan word én boonop belastingvriendelik is. – Carel Botma, PSG Wealth-adviseur
Die inligting in hierdie artikel is nie finansiële, belasting-, regs- of beleggingsadvies nie en die maatskappye in die PSG Konsult Groep waarborg nie die geskiktheid of potensiële waarde daarvan nie. Aangesien individuele behoeftes en risikoprofiele verskil, stel ons voor dat jy jou gekwalifiseerde finansiële adviseur raadpleeg indien nodig. PSG Wealth Financial Planning (Pty) Ltd is ’n gemagtigde finansiële diensverskaffer (FDV 728).
Vir meer inligting kontak Carel Botma van PSG Wealth, Preller Walk, Bloemfontein en/of Ladybrand by 087 820 7451 of carel.botma@psg.co.za.