Ceres-kultivarproef onder besproeiing op Donkerbos in 2024/25

Estimated reading time: 8 minutes

Produsente in die Ceresproduksiegebied plant sowat 1.27% van die totale hektaar onder aartappels in Suid-Afrika. Hulle plant verwerkingsaartappels sowel as tafelaartappels onder besproeiing (651 ha in die 2024-oesjaar). Die prominentste kultivars wat in hierdie streek geproduseer word, is FL2108, Sifra, FL2006, Avalanche en Lanorma.

Die kultivarproef is uitgevoer op Donkerbos in die Koue Bokkeveld wat in die winterreënvalgebied lê en ontvang die afgelope ses jaar ’n gemiddelde jaarlikse reënval van ongeveer 647 mm, volgens die Donkerbos-weerstasie wat op die plaas self geleë is. Somers in hierdie streek is warm, terwyl winters baie koud en nat is danksy gereelde sneeu op die omliggende berge.

Hoofaanplantings geskied tussen Oktober en November, terwyl enige vroeë of laat aanplantings die risiko loop om deur reënskade geaffekteer te word.

Proefontwerp en -besonderhede

Die kultivarproefperseel bestaan uit sandgrond en is in ’n ewekansige blokontwerp met drie herhalings per kultivar uitgelê. Tabel 1 bevat relevante tegniese inligting rakende die proef. Grondmonsters is voor plant geneem om die proefperseel se grondvoedingstatus te bepaal (Tabel 2).

Ingesluit in die kultivarproef is kultivars met kort en lang groeitydperke – derhalwe kan dit die uiteindelike opbrengs van sekere kultivars beïnvloed. Die lengte van groeitydperke is aan die aard van die seisoen onderhewig, maar word gesien as die hoeveelheid tyd wat verloop vanaf opkoms tot natuurlike loofafsterwe. Tabel 3 beskryf hoe hierdie groeitydperke van kultivar tot kultivar verskil. Plantgereedheid van moere ten tyde van die plant van die proef, sowel as standpersentasie en halmtelling wat later in die groeitydperk waargeneem is, word ook in Tabel 3 aangedui.

Die evaluering van nuwe kultivars soos in die Ceres-kultivarproef, verskaf resultate wat onder andere op opbrengs- en bemarkingsindeks betrekking het. Die bemarkingsindeks van die betrokke kultivars word bereken deur elke kultivar volgens gehalte en groottegroepe (byvoorbeeld Klas 1 groot of Klas 2 groot-medium) te klas en sorteer.

Prysvergelykings word dan met markpryse, soos verkry ten tyde van oes, getref. Die prestasie van nuwe kultivars kan egter nie net op die resultate van een spesifieke seisoen geskoei word nie, omdat klimaat van een jaar na ’n volgende kan wissel. Juis daarom word die kultivars verkieslik oor ’n aantal seisoene getoets.

Uitwerking van klimaatstoestande

Soos met enige gewas is temperatuur, waterbeskikbaarheid (hetsy goeie besproeiingskedulering of reënval), asook hitte-eenhede belangrike faktore wat ’n wesenlike invloed gedurende die aartappelplant se groeitydperk het. Hierdie faktore word dus in aanmerking geneem wanneer kultivarprestasie geëvalueer word. Toepaslike weerdata word verkry vanaf ’n weerstasie op die plaas waar die proef geplant word.

Die 2024/25-seisoen (Figuur 2) het ondergemiddelde reënval gedurende die meerderheid van die aktiewe groeiseisoen ervaar. Omdat die proef onder besproeiing plaasgevind het, is optimale besproeiingskedulering toegepas, wat waarskynlik een van die faktore is wat tot die bogemiddelde opbrengs bygedra het.

Minimum- en maksimumtemperature word in Figuur 3 uiteengesit. Die seisoen het met tye groot wisselinge in maksimumtemperature getoon, met altesaam 47 dae waarop temperature bo 30°C en drie dae bo 35°C aangeteken is.

Die versameling van hitte-eenhede gedurende ’n groeitydperk is ’n belangrike faktor in die ontwikkeling van ’n aartappelplant.

Die tendens van hitte-eenhede wat vir hierdie seisoen se kultivarproef op Donkerbos beskikbaar is, blyk deurlopend amper gelyk te wees met die langtermyndatatendens van hitte-eenhede (Figuur 4).

Opbrengs en kultivareffek

Opbrengsdata wat tydens oesdag aangeteken word, word aan statistiese verwerking met behulp van die GenStat®-program onderwerp. Die Tukey-toets van kleinste betekenisvolle verskille (KBV) is gebruik om die gemiddeld te skei. Die kultivareffek gedurende hierdie proef (Figuur 5) was statisties beduidend (p<0.05) en die koëffisiënt van variasie was laag (7.1%). Hierdie faktore dui daarop dat die proef baie goed uitgevoer is en die resultate derhalwe betroubaar is.

Die opbrengs van elke kultivar word deur die proefgemiddeld gedeel, met die proefgemiddeld van al die kultivars wat as 100% geneem word. Hierdeur word ’n opbrengsindeks bepaal en word elke kultivar se prestasie in terme van opbrengs, as ’n persentasie van die proefgemiddeld gelees.

Die gemiddelde opbrengs van die proef vir die 2024/25-seisoen is 113.66 t/ha – aansienlik hoër as die vorige ses seisoene se gemiddeld van 93.2 t/ha, en moontlik ’n rekordopbrengs in die geskiedenis van hierdie kultivarproef. Die verhoogde opbrengs kan aan ’n goeie sameloop van omstandighede en goeie bestuur toegeskryf word – onder andere optimale plant- en oestyd, goeie grond en goeie besproeiingskedulering. Lilly, 91A3, Sifra, Foxy, Markies en Mondial het die beste opbrengs gelewer met geen statistiese verskil in opbrengs nie. Sifra, Lilly en Palace het die beste bemarkingsindeks behaal.

’n Goeie bemarkingsindeks word toegeskryf aan ’n hoër opbrengs van groot aartappels en/of aartappels van goeie gehalte. Groottegroepverspreiding en graderingsevaluasies in aartappels is onontbeerlik om ’n kultivar se bemarkbaarheid te bepaal. Die kultivars Sifra, Lilly en Palace, wat ’n goeie bemarkingsindeks behaal het, het goed presteer in hierdie evaluasies (Figuur 6 en 7).

Kultivarprestasie

Soos die aard van seisoene is, wissel die prestasie van kultivars van seisoen tot seisoen, bloot omdat klimaat van een seisoen na ’n volgende nooit eenders is nie. Derhalwe is dit belangrik om konsekwente kultivarprestasie oor ’n aantal seisoene in ag te neem. Die stabiliteit van kultivars die afgelope drie en vyf seisoene word in Figuur 8 en 9 aangedui.

Die hoofredes vir afgradering word in Tabel 4 aangedui. Misvorming en stingelentvrot was die grootste redes vir die afgradering van aartappels na Klas 2 en 3. Stingelentverrotting kom gewoonlik aan die einde van ’n groeiseisoen voor. Dit word veroorsaak deur besmetting van die stolons met die patogeen Fusarium spp., wat deur die vaskulêre weefsel na die knolle versprei word.

Laastens, wanneer gekyk word na interne gehalte van aartappels, kan prosesseringseienskappe ook geëvalueer word. Om aan prosesseringsvereistes te voldoen, moet kultivars onder andere aan ’n soortlike gewig (SG) van ≥1.075 voldoen (Tabel 5).

Verskeie kultivars het die gewenste SG-vereiste behaal. Interne gehalte word ook nagegaan om vas te stel of die kultivars holhart of bruinvlek toon, maar geen kultivars het enige interne defekte getoon nie. – Enrike Verster, Aartappels SA

Spesiale dank aan die medewerkers by Donkerbos, die Ceres-aartappelwerkgroep, deelnemers FPD, GWK, RSA, Wesgrow, Provision Agri en ander betrokke Aartappel SA-personeel. Vir meer inligting, stuur ’n e-pos na enrike@potatoes.co.za