Gebalanseerde voeding vir aartappels
Estimated reading time: 3 minutes
Die toediening van kaliumnitraat is die doeltreffendste op gewasse wat chloriedsensitief is, groot hoeveelhede koolhidrate produseer, gereelde bobemesting ontvang, in sanderige of lae pH-grond groei, hidroponies verbou of in koeler klimate gekweek word.
Aartappels is ’n hoë-waarde gewas wat groot volumes droëmateriaal (DM) produseer, wat hulle swaar verbruikers van stikstof en kalium maak. Die knolle alleen verwyder ’n aansienlike hoeveelheid kalium per hektaar, maar die hele plant – insluitend blare en stingels – neem ongeveer 1.5 tot twee keer meer kalium op as wat die knolle op hul eie verbruik.
In praktiese terme trek ’n aartappelgewas sowat 8 tot 8.8 kg kalium/ton produksie uit, wat alles óf vanuit die grond óf uit kunsmis afkomstig moet wees. Die stikstofbehoefte beloop sowat 4.5 kg/ton. Kaliumnitraat lewer albei hierdie voedingstowwe in ’n enkele toediening, en daar is verskeie redes waarom aartappels so goed daarop reageer.
1. Beheer van wortelsone-pH
Aartappels floreer die beste in grond met ’n lae bufferkapasiteit en laer pH, aangesien dit geneig is om skoner knolle en minder siekteprobleme te lewer. Die stikstofbron wat gebruik word het egter ’n groot uitwerking: Vanaf ’n begin-pH van bykans 5 kan ammoniumgebaseerde stikstof die risosfeer-pH afdruk tot ‘n pH van ongeveer 3.5, terwyl nitraatgebaseerde stikstof dit tot sowat 6.5 kan verhoog. Dit verteenwoordig ’n bykans duisendvoudige verskil in suurheid reg by die worteloppervlak, afhangend van die stikstofvorm wat gebruik word.
2. Balans van voedingstofopname
Plantwortels poog om ’n elektrochemiese ewewig te handhaaf. Ammoniumione dra ’n positiewe lading en ding direk met ander noodsaaklike katione soos kalium, magnesium en kalsium vir opname mee. Nitraat, daarenteen, dra ’n negatiewe lading en ondersteun juis groter opname van dieselfde voordelige katione.
3. Nitrifikasie in sanderige grond
In grond met ’n lae klei-inhoud, soos dié in die Wes-Kaapse Sandveld-streek, vind die natuurlike omskakeling van ammonium na nitraat (nitrifikasie) skaars plaas. Toegediende ammoniumkunsmis is dus geneig om sy ammoniumvorm te behou.
Koue grondtemperature soos met winteraanplantings, tesame met herhaalde ammoniumtoedienings, verskuif die ammonium-tot-nitraat-verhouding in die wortelsone nóg verder. Sodra dié verhouding ongeveer 25:75 oorskry, begin dit plantegroei en opbrengs om die voorafgenoemde redes benadeel.
4. Energiekoste van stikstof
Plante skakel nitraat hoofsaaklik in die blare na bruikbare organiese verbindings om, aangedryf deur ligenergie wat tydens fotosintese vasgevang word. Ammonium, daarenteen, kan slegs in die wortels verwerk word.
Hierdie omskakeling verbruik koolhidrate wat vanaf die blare afgevoer word, eerder as om ligenergie direk te gebruik. Te veel ammoniumstikstof dreineer dus die plant se koolhidraatreserwes, wat DM-opbou, finale opbrengs en gehalte kan verlaag.
5. Chloried en knolgehalte
Chloriedvrye kunsmis is geneig om DM-inhoud, styselinhoud en die spesifieke gewig van knolle te verhoog, wat dit die voorkeurkeuse maak vir die verbouing van verwerkings- en skyfieaartappels. Produsente wat uitsluitlik op kaliumsulfaat staatmaak om chloried te vermy, eindig dikwels met oormatige sulfaattoediening wat die grond se voedingstofbalans kan ontwrig.
Swael is ’n noodsaaklike voedingstof, maar slegs in klein hoeveelhede: Oormatige sulfaat voeg meestal net ongewenste soutgehalte tot die wortelsone by, sonder om bykomende voordele te bied.
Gevolgtrekking
Kaliumnitraat stel produsente in staat om volop nitraat te voorsien, terwyl ammoniumtoevoeging laag gehou word – iets wat moeilik is om met kaliumchloried of kaliumsulfaat alleen te bereik. Dit lewer kalium en stikstof saam in ’n vorm wat die opname van ander katione wat die plant benodig, bevorder.
Vrywaring: Sover SQM se kennis strek, is die inligting in hierdie artikel akkuraat. Die toepassing van voorwaardes van gebruik en aanwending volgens die aanbevelings is buite SQM se beheer. Geen waarborg word gegee rakende die akkuraatheid van enige data of stellings in hierdie artikel nie. SQM ontken enige verantwoordelikheid of aanspreeklikheid met betrekking tot die toepassing van die aanbevelings en sal onder geen omstandighede aanspreeklik wees vir enige spesifieke, toevallige of gevolglike skade wat uit sodanige gebruik voortspruit nie. – Johan Fick, SQM
Vir meer inligting, stuur ’n e-pos aan Johan Fick by Johan.Fick@sqm.com of besoek www.sqm.com