Grondmikrobes is die dryfveer van aartappelgesondheid, opbrengs en volhoubare landbou

Estimated reading time: 7 minutes

Wanneer jy deur jou aartappellande loop, ’n handvol grond optel, en die reuk van vars grond in jou neus opkruip, het jy al ooit gewonder waar daardie reuk vandaan kom, en wat presies in die grond onder jou voete gebeur? Dit is een van die eerste tekens dat jou grond werklik leef.

Daardie vars grondreuk is afkomstig van aktinomisete wat soos swamme lyk, maar as bakterieë identifiseer. Hulle skei ’n onskadelike gas genaamd geosmin af, terwyl hulle lewensbelangrike funksies in die grond verrig. Die gas word vrygestel wanneer dit reën of die grond versteur word.

Grond is die basis van die voedselketting, maar dit bly die fondament van lewe en landbou. Gesonde grond produseer gesonde gewasse, stoor water, filtreer besoedeling en ondersteun miljarde mikrobes wat vir belangrike ondergrondse funksies verantwoordelik is. Moderne aartappelverbouing plaas egter enorme druk op hierdie lewendige stelsel.

Gesonde grond, gesonde aartappels

Dit is algemeen bekend dat aartappels een van die mees intensief-bestuurde gewasse in die landboubedryf is. Gereelde en intensiewe grondbewerking, monokultuur, swaar bemestingsprogramme, besproeiing, beroking en oesprosesse versteur die grondekosisteem voortdurend. Hierdie praktyke verminder mettertyd grond-organiese materiaal, beskadig die grondstruktuur en onderdruk voordelige mikrobiese gemeenskappe. Die gevolg is swakker grondveerkragtigheid, stadiger voedingstofsiklusse, verhoogde siektedruk en ’n toenemende afhanklikheid van chemiese insette.

Grond is vir dekades hoofsaaklik as ’n fisiese en chemiese stelsel beskou wat deur kunsmis en landbouchemikalieë ‘reggestel’ moes word. Navorsing bevestig egter toenemend dat grond ’n lewende stelsel is wat deur mikrobes soos bakterieë, swamme, aktinomisete en protosoë aangedryf word. Een teelepel gesonde grond kan miljarde mikrobes bevat wat voortdurend onder die grondoppervlak funksioneer.

Hierdie organismes vorm die ondergrondse ‘fabriek’ wat vir ontbinding, voedingstofmineralisering, waterregulering, aggregaatstabiliteit en siekte-onderdrukking verantwoordelik is. In gesonde aartappelgronde help aktiewe mikrobiese gemeenskappe met ’n wye verskeidenheid mikrobes om voedingstowwe soos fosfor, stikstof en kalium uit worteluitskeidings en dooie of ontbindende materiaal te ontgin. Dit word dan in plantbeskikbare vorms vrygestel wat grondaggregasie verbeter, sterker wortelgroei stimuleer en anti-mikrobiese verbindings produseer wat grondoorgedraagde patogene onderdruk.

Aartappelwortels speel ook ’n belangrike rol in hierdie verhouding. Aartappels stel worteluitskeidings in die risosfeer vry wat grondmikrobes voed. Hierdie uitskeidings bepaal watter mikrobiese gemeenskappe in die grond oorheers, asook die spesifieke funksies wat hulle tydens die verskillende plantontwikkelingstadiums verrig.

Daar is ’n voordurende ondergrondse stryd tussen voordelige mikrobes en patogene om ’n ewewig te handhaaf. Wanneer mikrobiese aktiwiteit en diversiteit afneem, verdig die grond en raak dit biologies onaktief en selfs struktureel onstabiel. Dit vertraag voedingstofsiklusse, verhoog siektedruk en maak die grond minder bestand teen droogte, hitte en intensiewe verbouing.

Belangrikheid van grondmikrobiologie

Aartappelverbouing kan hierdie agteruitgang versnel indien die grond nie versigtig bestuur word nie. Gereelde grondbewerking is veral skadelik, aangesien dit swamnetwerke vernietig, erdwurmtonnels laat ineenstort en sensitiewe mikrobiese habitatte versteur. Mikrobes wat aangepas is vir dieper, suurstofarm grondlae, word skielik aan suurstof en sonlig blootgestel, terwyl oppervlakorganismes in suurstofbeperkte omgewings begrawe word.

In menslike terme is dit asof die Koisan in ’n oogwink na die Noordpool verplaas word, en die Eskimo’s na die Kalahari-woestyn. Beide sal groot aanpassings moet maak om in hul nuwe omgewings te oorleef. Hierdie versteurings ontwrig die funksionering van die grondekosisteem op groot skaal.

Tydens aartappelmonokultuur neem mikrobiese verskeidenheid af omdat die grond voortdurend aan dieselfde worteluitskeidings en oesreste blootgestel word. Mikrobiese gemeenskappe raak gevolglik meer gespesialiseerd, wat ideale toestande skep vir patogene soos gewone skurf, swartskurf, Verticillium-verwelk en knopwortelaalwurms.

Swaar bemestingsprogramme en die gebruik van aggressiewe landbouchemikalieë kan voordelige mikrobes verder onderdruk, wat die grond se natuurlike biologiese vrugbaarheid verminder. Namate die grondbiologie verswak, probeer produsente dikwels om opbrengste te handhaaf deur bloot meer kunsmis toe te dien, maar opbrengste kan steeds daal omdat die grondekosisteem self nie meer doeltreffend funksioneer nie.

Ons het ons grond in ’n dwelmverslaafde verander wat nie deur die seisoen kan kom sonder ’n ‘chemiese oplossing’ nie. Nes ’n dwelmverslaafde wat nie oornag gerehabiliteer kan word nie, kan ons nie verwag dat ons grond binne ’n paar jaar sal herstel van die onbedoelde gevolge van dekades se onoordeelkundige kunsmistoedienings nie. Waarnemings dat siektes in aartappelgronde toeneem en dat chemiese kunsmis toenemend toegedien moet word om dieselfde opbrengs te verseker, is jou grond se kreet om hulp. Maar hou moed, want rehabilitasie is moontlik.

Impak van landboupraktyke

Volhoubare en herlewingslandboupraktyke geniet toenemende aandag in aartappelproduksiestelsels. Hierdie praktyke – insluitend verminderde grondversteuring, wisselbou, dekgewasse, behoud van oesreste, kompostoediening en biostimulante – help om die ekologiese balans te herstel, mikrobiese aktiwiteit te stimuleer en grondgesondheid te verbeter. Dit neem die natuur sowat 2 000 jaar om ’n skrale 6 cm se vrugbare bogrond op te bou, terwyl 10 ton bogrond wat eweredig oor 1 ha versprei is, slegs 2.35 mm dik is. Daarom sal ons alles in ons vermoë moet doen om ons bogrond te bewaar.

Wisselbou met graangewasse, peulgewasse, Brassicas of lusern in aartappelstelsels stimuleer ’n groter verskeidenheid mikrobiese gemeenskappe. Deur verskillende wortelstelsels en worteluitskeidings in die grond in te bring, help hierdie praktyk om siektesiklusse te onderbreek. Daarbenewens hou dekgewasse, lewende wortels, die behoud van oesreste en organiese aanvullings die mikrobiese aktiwiteit tussen aartappelgewasse aan die gang. Dit voorsien voortdurend voedingstofryke worteluitskeidings aan grondorganismes en voorkom grondverliese tydens oorstromings.

Volhoubare en herlewingslandboupraktyke kan egter nie bloot op grond van visuele waarnemings en aannames geëvalueer word nie. Aartappelprodusente benodig praktiese hulpmiddels om te bepaal of hul bestuurspraktyke werklik grondgesondheid oor die kort- en langtermyn verbeter.

Kwantifiseer lewe in die grond

Swak opkoms, ongelyke groei, verminderde knolvorming, voedingstekorte of verhoogde siektedruk verskyn dikwels eers wanneer grondbiologiese wanbalanse reeds ver gevorder is. Uiters sensitiewe mikrobiese aanwysers bied produsente egter die geleentheid om veranderinge in grondfunksionering vroegtydig te identifiseer en dien sodoende as waardevolle vroeë-waarskuwingstelsels in volhoubare aartappelproduksie. Jy kan immers nie bestuur wat jy nie kan meet nie.

Anders as konvensionele grondontledings wat slegs ’n ‘oomblik in tyd’ bied van voedingstowwe in jou grond, dui die mikrobiese aanwysers of die grondekosisteem self nog behoorlik funksioneer. Van die belangrikste biologiese aanwysers bepaal die teenwoordige koolstoffraksies, mikrobiese aktiwiteit, en die verskeidenheid funksies wat deur mikrobes verrig word.

Koolstofbronbenuttingsontledings help om te bepaal hoe doeltreffend mikrobiese gemeenskappe verskillende voedingstowwe as energiebron kan benut, en bied insig in die funksionele vermoë en aanpasbaarheid van die grondekosisteem. Maklik-afbreekbare koolstoffraksies soos worteluitskeidings, vars oesreste en gedeeltelik-ontbinde organiese verbindings dien as onmiddellike energiebron vir mikrobes.

Grond wat ryk is aan maklik-afbreekbare voedingstowwe toon gewoonlik sterker mikrobiese aktiwiteit, beter voedingstofsiklusse, groter aggregaatstabiliteit en beter waterhouvermoë. Die monitering van koolstofbronbenutting is veral belangrik in aartappelstelsels, aangesien intensiewe verbouing dikwels die verlies aan organiese materiaal versnel.

Mikrobiese aktiwiteitstoetse dryf voedingstofsiklusse en meet die tempo waarteen komplekse voedingstowwe in die grond in eenvoudiger elemente omgeskakel en deur plantwortels opgeneem kan word. Netso word koolstofsiklusse en die tempo van oesresontbinding weerspieël. Aangesien maklik-afbreekbare voedingstowwe en mikrobiese aktiwiteit relatief vinnig op landboubestuursveranderinge reageer, dien dit as waardevolle aanwysers van die impak van herlewingslandboupraktyke op grondfunksionering.

Mikrobiese funksionele verskeidenheidsontledings evalueer die reeks funksies wat deur mikrobiese gemeenskappe verrig word. Ekosisteme met ’n hoë mikrobiese verskeidenheid is gewoonlik meer veerkragtig en weerstandig, aangesien hulle ’n groter verskeidenheid kosbronne kan benut, voedingstofsiklusse onder stresvolle toestande kan handhaaf en vinniger van eksterne versteurings kan herstel.

Mikrobiologie as bestuursmiddel

Dit is uiters belangrik om in ag te neem dat geen enkele mikrobiese ontleding op sy eie kan bepaal of grond gesond of ongesond is nie. Grondmikrobiologie is hoogs dinamies en word deur faktore soos die seisoen, temperatuur, vog, besproeiing, kultivar, groeistadium van die gewas en bestuurspraktyke beïnvloed. Daarom is herhaalde monitering en evaluering oor tyd noodsaaklik.

In aartappelstelsels word grondmonsters dikwels voor plant, tydens aktiewe vegetatiewe groei of knolvulling, en ná oes geneem. Baie produsente neem ook monsters voor en ná dekgewasse, kompostoedienings of biologiese behandelings om te bepaal of hierdie praktyke grondfunksionering en volhoubare landbou bevorder.

Konsekwente langtermyn monitering stel produsente in staat om tendense te identifiseer, eerder as om op geïsoleerde metings staat te maak. Toenemende mikrobiese aktiwiteit, hoër beskikbaarheid van voedselbronne en verbeterde mikrobiese verskeidenheid dui dikwels daarop dat herlewingslandboupraktyke besig is om grondveerkragtigheid en biologiese vrugbaarheid te herstel. Sodoende dra dit by tot volhoubare en winsgewende aartappelproduksie vir toekomstige geslagte.

Ons is aangestel as toesighouers oor ons gronde, ’n verantwoordelikheid wat ons met erns moet aanvaar. Die realiteit is eenvoudig: Sonder gesonde grond is daar geen produsente nie, geen landbou nie, en uiteindelik geen lewe nie. – dr Johan Habig, grondmikrobioloog, Metson World