Estimated reading time: 3 minutes
Nile.ag, ’n toonaangewende landboutegnologie-platform, het R200 miljoen se befondsing van bekende internasionale beleggers verkry ten einde meer landbouprodusente toegang te gee tot digitale verhandeling.
Hierdie transaksie is gelei deur die Cathay AfricInvest Innovation Fund, met beleggings deur die Nederlandse Ontwikkelingsbank, FMO.
Groei maak nuwe deure oop
Nile het sedert sy bekendstelling in 2021 merkwaardige groei beleef.
Verlede jaar alleen het produsente 225 000 ton se produkte deur sy aanlynmark verhandel. Die maatskappy verwag dat hierdie volumes oor die volgende 12 maande minstens sal verdubbel, namate meer produsente digitale toepassings gebruik om transaksiekoste te verminder en deursigtigheid te verhoog.
Wat begin het as ’n aanlynmark om varsprodukteverkope te fasiliteer, het in ’n omvattende digitale ekostelsel vir landbouprodusente ontwikkel wat die verskaffing van landbou-insette en -finansiering insluit.
Produsente kan transaksies oor hul hele produksiesiklus aanlyn bestuur – van die bestel van saad en kunsmis rondom planttyd, tot die aankoop van verpakkingsmateriaal wanneer produkte geoes word. Nile bied verskillende finansieringsopsies om hierdie transaksies op terme te fasiliteer.
Met oestyd kan kliënte hul gewasse deur Nile se aanlynmark aan plaaslike en internasionale kopers verkoop. Die proses word deur omvattende datadienste gerig, en produsente het die opsie om betaling onmiddellik met aflewering te ontvang.
Kommersiële kopers van varsprodukte is toenemend op soek na alternatiewe tot staatsbeheerde varsproduktemarkte. Vir kopers bied Nile ’n eenstop-oplossing om meer as 100 kategorieë varsprodukte regstreeks van produsente te verkry.
Hierdie regstreekse verbintenis verminder nie net voedselvermorsing nie, maar verlaag ook transaksiekostes en verseker hoë-gehalte varsprodukte.
Nile bied ‘n verskeidenheid logistieke oplossings waartydens die koueketting deurentyd gehandhaaf word. Produkte wat nie direk vanaf produsente aan kopers gelewer word nie, kan deur Nile se verspreidingsentrum in Centurion, sowel as kleiner verspreidingspunte in Oos-London en Mahikeng gelewer word. Nile verhandel reeds varsprodukte na meer as 50 lande en het onlangs sy handelsnetwerk uitgebrei na kopers in die Midde-Ooste en Suidoos-Asië, wat aan landbouers ongekende toegang tot wêreldmarkte bied.

Hoe befondsing bestee gaan word
In ’n onderhoud met Landbouweekblad het Louis de Kock, medestigter van Nile, gesê die maatskappy is verheug oor die internasionale befondsing omdat dit nie net toegang gee tot groter kapitaalbronne nie, maar ook geleenthede bied om by die beste landboutegnologiemaatskappye in die wêreld te leer. Die FMO belê onder meer heelwat in Suid-Oos Asië, wat die toon in landboutegnologie aangee.
Die nuwe befondsing sal hoofsaaklik aangewend word om Nile se groei te versnel deur sy markplek vir landbou-insette uit te brei na ‘n wyer verskeidenheid van kategorieë, en om innoverende finansieringsoplossings te ontwikkel wat produsente in staat sal stel om hierdie insette te koop.
Volgens De Kock gaan Nile ook hard werk om verdere uitvoergeleenthede vir produsente te ontsluit. “Indië is vir ons belangrik en ons het reeds goeie vennote op ander digitale platforms wat varsprodukte deur ons digitale platform aankoop en versprei.”
Hy benadruk dat die landbou ’n langtermynbedryf is en nie iets wat in ’n oogwink verander kan word nie. Dit verg tyd om vertroue te wen en organies te groei; daarom is dit vir Nile belangrik om beleggers met langtermyndenke aanboord te kry – net soos produsente wat oor die langtermyn vir hul boerderye beplan.
Vir meer inligting, besoek www.nile.ag, stuur ‘n e-pos na team@nile.ag of skakel 065 735 7581.