FP Coetzee, bestuurder van inligting en streeksdienste by Aartappels SA, het klem gelê op die belangrikheid van strategiese voorraadbestuur om prysstabiliteit te verseker.
FP Coetzee, bestuurder van inligting en streeksdienste by Aartappels SA, het klem gelê op die belangrikheid van strategiese voorraadbestuur om prysstabiliteit te verseker.

Limpopo-streeksvergadering beklemtoon verantwoordelike bemarking

Estimated reading time: 6 minutes

Die 2025 Limpopo-streeksvergadering van Aartappels SA het produsente byeengebring rondom twee sleuteltemas: verantwoordelike bemarking en vertroue in markagente. Met ’n rekordoes in sig en markdinamika wat voortdurend verander, was die behoefte aan strategiese insig groter as ooit. Die vergadering het tydens die 32ste bemarkingsweek van die aartappelseisoen plaasgevind en is as deel van die jaarlikse Vivo Boerebemarkingsdag aangebied.

FP Coetzee, Aartappels SA se bestuurder van inligting en streeksdienste, het die vergadering met ’n bedryfsoorsig afgeskop. Suid-Afrika het net meer as 500 aartappelprodusente, met 52 500 ha onder aanplanting. In Limpopo word die langtermyn gemiddelde aanplanting op 12 100 ha geraam, maar vanjaar is 12 221 ha amptelik op die boeke aangeteken.

Volgens Coetzee kon dié syfer selfs die 13 000 ha-kerf oorskry het.

Die provinsie was egter nie die enigste streek waar ’n groter oes verwag is nie. Trouens, Aartappels SA se inligting het aangedui dat die 2025-seisoen se totale lewering die jaarlikse gemiddelde opbrengs met tot tien miljoen 10 kg-sakke kon oorskry. Volgens Coetzee was daar ander faktore buiten die hoër as verwagte oes, wat ook tot ’n verhoogde aartappelaanbod bygedra het.

Limpopo se markaandeel staan op ongeveer 23%, met mededinging uit die Wes- en Oos-Vrystaat, asook die Noord-Kaap. ’n Bottelnek het in Mei ontstaan weens vakansiedae en reën, wat die oes van aartappels vertraag het. Die Oos-Vrystaat het later hoë volumes gelewer, wat pryse onder druk geplaas het. Sommige oeste het tot 54 t/ha op droëland opgelewer.

Teen week 32 van die kalenderjaar was 60% van die oes reeds gelewer, met die res nog op die land. Die prys op die varsproduktemark het op R39,08 gestaan – laer as in 2022. Coetzee het produsente aangemoedig om lesse uit daardie jaar in gedagte te hou wanneer hulle bemarkingsbesluite neem.

Die 800 000-sakkie drempel

Vergelykings tussen 2022 en 2024 toon dat produksie in albei jare byna identies was: onderskeidelik 257 miljoen en 256 miljoen 10 kg-sakke. Tog het die gemiddelde markprys met R20 verskil. ’n Sleutelfaktor wat dié verskil verklaar, is die sogenaamde ‘magiese’ getal van 800 000 tot 850 000 sakkies op die mark.

Wanneer daaglikse volumes dié drempel oorskry, ervaar die markte afwaartse prysdruk. As volumes onder die drempel bly, kry pryse gewoonlik ondersteuning. In 2022 was die mark gemiddeld 5,1 dae bo die drempel, teenoor 2,7 dae in 2024.

Aangesien die aartappelbedryf in die onlangse verlede besonder goeie pryse op die mark behaal het, het Aartappels SA verwag dat pryse op ’n stadium sou insink. Goeie pryse bly selde ‘ongestraf’; daarom was dit net ’n kwessie van tyd voordat die mark weer ’n laer prysmarge sou ervaar. Die tempo waarteen groot volumes deur die mark beweeg, het ’n saamgestelde invloed op pryse. “Druk ons groot volumes in ’n kort tyd, plunder ons die prys. Versprei ons dit oor tyd, kry ons pryse ondersteuning.”

Strategiese spanwerk nodig

Coetzee meen bemarking is ’n emosionele ding. As ’n kleiner produsent wat self 1 ha kool plant, verstaan hy hoe groot volumes vanaf megaboere die prys van sy produk drasties kan beïnvloed. Hy raai produsente aan om saam te werk, met markagente te kommunikeer en laer grade en baba-aartappels uit die varsproduktemark te hou om volumes te verminder en gehalte te beskerm.

Verskeie produsente het Coetzee se standpunte ondersteun. Voorstelle het ingesluit:

  • Verwyder onverkoopte produk na sewe dae.
  • Stuur verouderde produk saam met leë vragmotors terug.
  • Vermy direkte plaasverkope wat die markprys ondermyn.

Een produsent het gewaarsku dat hoë hitte-eenhede op die land produkgehalte kan benadeel en aangedui dat dit beter is om laer grade vroegtydig van die markvloer te verwyder om groter verliese te voorkom. ’n Ander het voorgestel dat onverkoopte produk vir veevoer gebruik word.

’n Derde het beklemtoon dat samewerking tussen produsente kostes kan verminder.

Volgens Deon van Zyl, besturende direkteur van Grow Fresh Produce, bied marktoestande tans ’n ideale geleentheid om verbruikers aan die waarde van aartappels as voedsame, bekostigbare kos te herinner.

Deon van Zyl, besturende direkteur van Grow Fresh Produce.

Markagente gemaan oor etiek

Francois Knowles, registrateur van die Raad vir Landbouprodukte-agente (APAC), het gesê APAC het die afgelope tyd opgemerk dat daar ’n toenemende tendens onder sommige markagente is om ‘gereserveerde verkope’ vir kopers terug te hou. “’n Koper sal gewoonlik ’n markagent bel en vra om byvoorbeeld 10 000 sakke aartappels te reserveer, omdat hy laat gaan wees en nie dadelik by die mark kan uitkom nie.”

Francois Knowles, registrateur van APAC, het markagente gewaarsku om eties en regverdig op te tree om markpryse en produsente te beskerm.

Die situasie het al so vererger dat APAC selfs situasies kan identifiseer waar sakkies vir tot agt dae opsy gehou word vir so ’n koper. “Agente is merkwaardige mense en is die produsent se lewenslyn. As ‘n agent egter oneties optree, is dit ’n groot probleem,” het Knowles gewaarsku.

“Hierdie gereserveerde verkope word dikwels op krediet uitgereik, en buite die wetgewende raamwerk. Julle speel met vuur.”

APAC se ouditspan identifiseer vinnig onetiese praktyke wanneer voorraad van die markvloer af verdwyn en eers dae later weer verskyn – iets wat die markprys negatief beïnvloed.

Hy het beklemtoon dat sulke gedrag nie net oneties is nie, maar ook tot ’n tweede misdryf kan lei, aangesien produsente volgens APAC se reëls binne vyf dae betaal moet word. Daar is dikwels op verskeie vlakke ’n wanbalans tussen voorraad en syfers. “Die druk waaronder markagente verkeer is enorm en ek het groot begrip daarvoor, maar uiteindelik is dit belangrik dat APAC ons agente en produsente ten alle koste moet beskerm. Dit is ononderhandelbaar.”

Verwerking neem toe

Op ’n positiewe noot het Coetzee gesê die verwerking van aartappels neem toe. Tans word tussen 19 en 21% van Suid-Afrika se aartappels verwerk, terwyl die wêreldwye tendens op 25% staan. Verwerkingsvolumes het van tussen 420 000 en 450 000 ton tot meer as 500 000 ton gestyg. Die groeiende vraag na aartappelskyfies in supermarkte het hierdie toename in verwerking en prysvlak gestimuleer.

Die vergadering het bevestig dat sukses in die aartappelbedryf nie net van goeie oeste afhang nie, maar ook van slim bemarking, etiese praktyke en spanwerk. Coetzee het opsommenderwys opgemerk: “As ons voorraadbestuur reg is, sal die prys na homself omsien. Dis veronderstel om so te werk.”

Vir meer inligting, stuur ’n e-pos na fpcoetzee@potatoes.co.za.

Posted in ,