Noord-Kaap kultivarproef onder besproeiing op Douglas in 2023

Die Noord-Kaap is ’n aartappelproduksiestreek waar 18 produsente op 2 214 ha aartappels vir die land se varsproduktemarkte produseer. Nagenoeg 60.74% van hierdie streek se aartappelproduksie bestaan uit moerproduksie.

Lanorma, Sifra en Mondial is die mees prominente kultivars vir kommersiële produksie in hierdie streek. Douglas val in Suid-Afrika se droë kontinentale gebied (Figuur 1) met ’n gemiddelde reënval van ongeveer 200 mm vir die afgelope ses jaar. Winters is koud met ryp wat gereeld voorkom, terwyl somers baie warm word.

Hierdie kultivarproef by Douglas is uitgevoer in sandleemgrond en die proef is uitgelê in ’n ewekansige blokontwerp met drie herhalings per kultivar. Tabel 1 verskaf ander tegniese inligting rakende die proef.

Ingesluit in die kultivarproef is kultivars met kort en lang groeitydperke; derhalwe kan groeitydperke die uiteindelike opbrengs van kultivars beïnvloed. Die lengte van die groeitydperke is onderhewig aan die aard van die seisoen, maar word gesien as die hoeveelheid tyd wat verloop vanaf opkoms tot natuurlike loofafsterwe. ’n Aartappelplant se leeftyd word verdeel in vyf groeifases, naamlik spruitontwikkeling, vegetatiewe groei, knolinisiasie, knolvulling en volwassenheid.

Ingesluit in die kultivarproef is kultivars met kort en lang groeitydperke. Derhalwe kan groeitydperke die uiteindelike opbrengs van kultivars beïnvloed.

Tabel 2 sit uiteen hoe hierdie groeitydperke van kultivar tot kultivar verskil. Omgewingsfaktore en bestuurspraktyke beïnvloed ook die verskillende groeifases en wanneer dit ’n aanvang neem.

Stand en aantal halms beïnvloed knolgrootte en opbrengs. Die aantal ogies per knol is kultivar-afhanklik en kan die hoeveelheid spruite wat per knol voortgebring word, bepaal.

In hierdie verband is die plantgereedheid van moere baie belangrik, aangesien beter plantgereedheid gewoonlik veroorsaak dat moere na behore spruit. Plantgereedheid van moere ten tyde van die plant van die proef, sowel as standpersentasie en halmtelling wat later in die groeitydperk waargeneem is, word in Tabel 2 aangedui.

Die evaluering van nuwe kultivars soos in hierdie kultivarproef verskaf resultate rakende, onder andere, opbrengs en bemarkingsindeks. Die bemarkingsindeks van die betrokke kultivars word bereken deur elke kultivar te klas en sorteer volgens gehalte en groottegroepe (byvoorbeeld: Klas 1 Groot of Klas 2 Groot-medium).

Dienooreenkomstige prysvergelykings word dan gemaak met markpryse soos verkry ten tyde van oesdatum.

Die prestasie van nuwe kultivars kan nie net op die resultate van een bepaalde seisoen geskoei word nie, omdat klimaat van een jaar na ’n volgende wissel. Juis daarom word die kultivars verkieslik oor ’n aantal seisoene getoets.

Soos met enige gewas is die temperature, beskikbaarheid van water (hetsy goeie besproeiingskedulering of reënval), sowel as hitte-eenhede belangrike faktore wat wesenlike invloed uitoefen gedurende die aartappelplant se groeitydperk. Hierdie faktore word dus in aanmerking geneem wanneer die prestasie van kultivars geëvalueer word.

Reënval en besproeiing

Die seisoen se reënval was heelwat laer as die normale langtermyngemiddelde reënval vir die hele groeiseisoen (Figuur 2). In hierdie droë kontinentale streek word daar uiteraard swaar gesteun op goeie besproeiingskedulering vir aartappels.

Temperature en hitte-eenhede

Minimum- en maksimumtemperature word in Figuur 3 uiteengesit.

Vanaf einde Mei is temperature onder vriespunt gereeld aangeteken. Die voortdurende temperature onder vriespunt het natuurlike loofafsterwe tot gevolg.

Die versameling van hitte-eenhede gedurende ’n groeitydperk is ’n belangrike faktor in die ontwikkeling van ’n plant. Die tendens van hitte-eenhede beskikbaar vir die kultivarproef van hierdie betrokke seisoen, blyk ietwat hoër as die tendens van langtermyn hitte-eenhede te wees (Figuur 4).

Die opbrengsindeks

Opbrengsdata versamel tydens oesdag word onderwerp aan statistiese verwerking met behulp van die GenStat®-program. Die Tukey-toets van kleinste betekenisvolle verskille is gebruik om die gemiddelde te skei. Die kultivareffek gedurende hierdie betrokke proef (Figuur 5) was statisties beduidend (p<0.05) en die koëffisiënt van variasie was aanvaarbaar laag (12%).

Hierdie faktore dui daarop dat die proef goed uitgevoer is en die resultate derhalwe betroubaar is.

Die opbrengs van elkeen van die kultivars word deur die proefgemiddeld gedeel (die proefgemiddeld van al die kultivars word as 100% geneem). Hierdeur word ’n opbrengsindeks geskep en word elke kultivar se prestasie in terme van opbrengs as ’n persentasie van die proefgemiddeld gelees.

Die gemiddelde opbrengs van die proef vir die 2023-seisoen is 44.88 t/ha. Die kultivars Sababa, Lilly, 11Z49A1, Mondial en Lanorma het statisties betekenisvol die hoogste opbrengs gelewer. Lilly het die hoogste bemarkingsindeks behaal en dit kan toegeskryf word aan ’n goeie opbrengs in medium en knolle, asook min Klas 3-knolle

In die week van oes, was die markpryse van Klas 1 Medium-grootte aartappels ongeveer R5 hoër as Klas 1 Groot aartappels en dit sal ‘n invloed hê op die bemarkingsindeks soos uitgebeeld op die grafiek, waar Lilly die hoogste bemarkingsindeks behaal het. Die hoofredes vir afgradering van elke kultivar (Tabel 3) word ondersoek om te bepaal watter uitdagings die betrokke kultivars gehad het in terme van die kwaliteitsindeks. Motskade, misvorming en bruinskurf was die grootste redes vir afmerking.

Laastens, om te voldoen aan prosesseringsvereistes, moet kultivars aan ’n skyfiekleurnorm van >50 en ’n soortlike gewig (SG) van ≥1.075 voldoen. Slegs King Russet het aan die SG- en skyfiekleurvereistes voldoen (Tabel 4). – André Prins, GWK, en Enrike Verster, Aartappels SA

Spesiale dank aan die betrokke produsent en boerdery, die Noord-Kaap Aartappelwerkgroep asook Anjé Erasmus, Damien da Cal en Dikgetho Mokoena van Aartappels SA. Vir meer inligting, kontak André Prins by andrep@gwk.co.za of Enrike Verster by enrike@potatoes.co.za.