Nuwe dryfkrag vir innovasie by Aartappels SA
Estimated reading time: 3 minutes
Aartappels SA het op 1 Maart vanjaar die aanstelling van Annemarie van der Merwe as bestuurder van navorsing en innovasie aangekondig.
Annemarie, ’n boorling van George, se belangstelling in landbou is reeds op skoolvlak geprikkel. Haar pa het ’n groot groentetuin gehad en skoolvakansies het sy op haar oupa, en later haar oom, se plaas in die Oos-Kaap deurgebring. Op hoërskool het sy Landbouwetenskap as vak geneem en toe al begin om haar eie aartappels en groente te plant.
Na skool het sy Grondkunde en Agronomie aan die Universiteit van die Vrystaat studeer. Omdat besigheidsbestuur ‘n belangrike aspek van boerdery is, het sy later ook ’n Magister in Bedryfsadministrasie (MBA) aan die Noordwes-Universiteit voltooi. Sy het haar meestersgraad in Grondkunde aan die Universiteit Stellenbosch verwerf en is tans besig met haar doktorsgraad in Agronomie. Haar studie fokus op die bestuur van stikstof in koring wat in bewaringsboerderystelsels verbou word.
Navorsing bied antwoorde
Sy was gedurende haar loopbaan by verskeie landbou-instansies betrokke, insluitend Nitrophoska, Omnia en Suidwes Landboukoöperasie. By Wildeklawer het sy navorsing op verskillende groentesoorte gedoen, onder meer kultivarproewe met wortels, uie, aartappels en pampoene.
Sy was ook betrokke by ‘n ondersoek na alternatiewe metodes vir die beheer van siektes in groente.
Sy het later by die Departement van Landbou in die Wes-Kaap aangesluit, waar haar navorsing op wisselbou- en bewerkingstelsels, asook stikstofproewe op koring en kanola gefokus het.
In haar nuwe rol is Annemarie van mening dat, hoewel verskillende dissiplines oorvleuel, die beginsels dieselfde bly. Die kennis en ervaring wat sy in haar vorige werksomgewings opgedoen het, kom nou handig te pas. Aartappels SA befonds navorsing oor verskeie aspekte van die bedryf en haar verantwoordelikheid is om toe te sien dat hierdie navorsing in lyn is met die strategiese rigting waarin die bedryf beweeg.
Haar rol is ook om lede toegang te bied tot tegnologie en inligting wat die waardeketting sal verbeter. “Ons fokus op optimale hulpbronbenutting, verbeterde gewasbeskerming en innoverende tegnologie wat die aartappelbedryf ondersteun. Die uiteindelike doel is om die risiko vir die produsent te verminder; dit strek veel wyer as net kultivarontwikkeling.”
Boer beter
Die navorsing waarby sy betrokke is behels meer as bloot die primêre produk. Fokusareas sluit onder meer alternatiewe gebruike vir aartappels, die beskikbaarstelling van data en digitale ondersteuning, asook water- en grondgesondheid in. Verlengde raklewe en beter algehele aartappelgehalte geniet ook aandag.
Navorsing oor onder meer aalwurmbeheer, dekgewasse, satellietmonitering en die gebruik van weerstasies stel produsente in staat om beter te produseer en terselfdertyd risiko’s te verminder. Historiese data en intydse weerinligting help om die waarskynlikheid van siektes en plae te voorspel.
“Dit is belangrik om te onthou dat aartappelprodusente voortdurend daarna streef om opbrengs/ha te verhoog. Verlede jaar is 2.76 miljoen ton aartappels regoor Suid-Afrika geproduseer. Dit beteken dat verbruikers deurgaans toegang tot vars aartappels het. Die bedryf het boonop R15.3 miljard tot landbou bygedra,” verduidelik Annemarie.
Heelwat ander interessante projekte is daarop gemik om nuwe markte vir die aartappelbedryf te ontsluit. Dit sluit die ontwikkeling van glutenvrye meel uit aartappels, asook die gebruik van aartappels as die substraat waarop insekte kan voed wat as diereproteïene gebruik word, in.
Toekomsvisie en tegnologie
Annemarie glo grondgesondheid en die beheer van aalwurms en peste soos aartappelmot en Tuta absoluta, sal altyd belangrik bly. “Dit is bevestig in die resultate van ’n onlangse nasionale opname onder ons lede.
Ons ondersoek alternatiewe beheermaatreëls, met ’n groter fokus op omgewingsvriendelike produkte en wisselboustelsels wat die volle gewassiklus in ag neem – nie net die jaar waarin aartappels verbou word nie.”
Annemarie is baie opgewonde oor Aartappels SA se toepassing wat produsente toegang tot satellietbeelde, weervoorspellings en daaglikse markinligting bied.
“Aartappels SA voorsien produsente van onafhanklike, beproefde inligting sodat hulle beter besluite kan neem om meer winsgewend te boer.” – Koos du Pisanie, Plaas Media
Vir meer inligting, stuur ‘n e-pos na annemarie@potatoes.co.za