Estimated reading time: 7 minutes
Die Oos-Vrystaat is ’n groot aartappelproduksiestreek waar bykans 19% van die land se kommersiële aartappels op sowat 9 523 ha geproduseer word. Die mees prominente kultivars wat in hierdie streek vir tafelverbruik geproduseer word, is Mondial, Panamera en Lanorma.
Reitz val in Suid-Afrika se gematigde somerreënvalgebied (Figuur 1) en ervaar die afgelope 20 jaar ’n gemiddelde jaarlikse reënval van sowat 509 mm. Hierdie streek ervaar warm somers en baie koue winters, met ryp wat vanaf middel Mei tot vroeg September kan voorkom.

Proefontwerp en besonderhede
Die kultivarproef by Reitz is in ’n ewekansige blokontwerp met drie herhalings per kultivar uitgelê. Tabel 1 bevat bykomende tegniese inligting rakende die proef.

Die kultivarproef sluit kultivars met kort en lang groeitydperke in; derhalwe kan dit die uiteindelike opbrengs van sekere kultivars beïnvloed. Die lengte van groeitydperke is aan die aard van die seisoen onderhewig, maar word beskou as die hoeveelheid tyd wat verloop vanaf opkoms tot natuurlike loofafsterwe.
Tabel 2 sit uiteen hoe hierdie groeitydperke van kultivar tot kultivar verskil. Plantgereedheid van moere ten tyde van die plant van die proef, sowel as standpersentasie en halmtelling wat later in die groeitydperk waargeneem is, word ook in Tabel 2 aangedui.

Die evaluering van nuwe kultivars soos in die Reitz-kultivarproef bied resultate wat onder andere op opbrengs- en bemarkingsindeks betrekking het. Die bemarkingsindeks van die betrokke kultivars word bereken deur elke kultivar volgens gehalte en groottegroepe (byvoorbeeld Klas 1 groot of Klas 2 groot-medium) te klas en sorteer.
Prysvergelykings word dan met markpryse, soos verkry ten tyde van oes, getref. Die prestasie van nuwe kultivars kan egter nie net op die resultate van een spesifieke seisoen geskoei word nie, omdat klimaat van een jaar na ’n volgende kan wissel. Juis daarom word die kultivars verkieslik oor ’n aantal seisoene getoets.
Seisoenale aspekte
Soos met enige gewas is temperatuur, waterbeskikbaarheid (hetsy goeie besproeiingskedulering of reënval) en hitte-eenhede van die belangrike faktore wat ’n wesenlike invloed gedurende die aartappelplant se groeitydperk het. Hierdie faktore word dus in aanmerking geneem wanneer die prestasie van kultivars geëvalueer word.
Toepaslike daaglikse en langtermyn weerdata vir die afgelope seisoen word verkry vanaf ’n nabygeleë Hortec-weerstasie en ’n gekose Landbounavorsingsraad (LNR)-weerstasie wat so na as moontlik aan die proefperseel geleë is.
Die reënvaltendens vir die 2024/25-seisoen (Figuur 2) toon heelwat meer reën as die kumulatiewe langtermyn gemiddeld. Uitermatige bogemiddelde reënval is veral tydens die laaste maande voor oes aangeteken, wat groter persentasie weggooi-aartappels op grond van gehalte meegebring het (Figuur 7).

Minimum- en maksimumtemperature word in Figuur 3 uiteengesit. Die betrokke seisoen het besonder groot wisselinge in maksimumtemperature ervaar, veral tydens die eerste drie maande van die groeitydperk.

Die versameling van hitte-eenhede gedurende ’n groeitydperk is ’n belangrike faktor in die ontwikkeling van ’n aartappelplant. Die tendens van hitte-eenhede wat vir hierdie seisoen se kultivarproef op Reitz beskikbaar is, blyk naby aan, maar tog ’n aks hoër te wees, as die langtermyn datatendens van hitte-eenhede (Figuur 4).

Opbrengs en kultivareffek
Opbrengsdata wat tydens oesdag versamel word, word aan statistiese verwerking met behulp van die GenStat®-program onderwerp. Die Tukey-toets van kleinste betekenisvolle verskille (KBV) is gebruik om die gemiddelde te skei. Die kultivareffek gedurende hierdie proef (Figuur 5) was statisties beduidend (p<0.05) en die koëffisiënt van variasie was laag (13.5%). Hierdie faktore dui daarop dat die proef so goed as moontlik uitgevoer is en die resultate derhalwe betroubaar is.

Die opbrengs van elk van die kultivars word deur die proefgemiddeld gedeel, met die proefgemiddeld van al die kultivars wat as 100% geneem word. Hierdeur word ’n opbrengsindeks bepaal en word elke kultivar se prestasie in terme van opbrengs as ’n persentasie van die proefgemiddeld gelees.
Die gemiddelde opbrengs van die proef vir die 2024/25-seisoen is 39.8 t/ha, wat maar ’n raps laer is as die opbrengsgemiddeld van die vorige seisoen. Die proefgemiddeld vir die vier seisoene waarin die proef tot op hede uitgevoer is, is 41.1 t/ha.
Lady Luce en Lanorma het die beste opbrengs gelewer met geen statistiese verskil in opbrengs nie. Hierdie kultivars het ook die beste bemarkingsindeks behaal. ’n Goeie bemarkingsindeks word toegeskryf aan ’n hoër opbrengs van groot aartappels en/of aartappels van goeie gehalte.
Groottegroepverspreiding en gradering is onontbeerlike evaluasies wanneer gekyk word na die bemarkbaarheid van ’n kultivar (Figuur 6 en 7).


Die hoofredes vir afgradering word in Tabel 4 aangedui. Mot en sagtevrot was die grootste redes vir die afgradering van kultivargehalte in hierdie proef. Laasgenoemde kan gedeeltelik toegeskryf word aan die uitermatige nat toestande gedurende die tydperk voor uithaal.

Soos die aard van seisoene is, wissel die prestasie van kultivars van seisoen tot seisoen, bloot omdat klimaat van een seisoen na ’n volgende nooit eenders is nie.
Derhalwe is dit belangrik om konsekwente kultivarprestasie oor ’n aantal seisoene in ag te neem. Die stabiliteit van kultivars in die afgelope drie seisoene word in Figuur 8 aangedui. Mondial en Sound toon die meeste konsekwentheid oor drie seisoene.

Laastens, wanneer gekyk word na die interne gehalte van aartappels, kan prosesseringseienskappe ook geëvalueer word.
Om aan prosesseringsvereistes te voldoen, moet kultivars aan ’n skyfiekleurnorm van >50 en ’n soortlike gewig (SG) van ≥1.075 voldoen (Tabel 5). Talle kultivars het die vereiste skyfiekleur getoon, maar slegs Lady Alicia het aan beide vereistes voldoen. – Enrike Verster, Aartappels SA

Spesiale dank aan die betrokke boerdery en medewerker, Fick & Seun Bdy, die Oos-Vrystaatse Aartappelwerkgroep, asook deelnemers FPD, GWK en RSA.
Vir meer inligting, stuur ’n e-pos na enrike@potatoes.co.za.