Geenbewerking in mielie-oesreste.
Geenbewerking in mielie-oesreste.

Die pilare van herlewingslandbou in aartappelverbouing

Aartappels is een van die belangrikste voedselgewasse ter wêreld en voed miljoene mense. Intensiewe aartappelverbouing, met sy afhanklikheid van gereelde grondbewerking, sintetiese insette en monokultuurrotasies, het egter sy tol op grondgesondheid in ons aartappellande geëis.

Algemene kwessies sluit in ’n afname in grondorganiese materiaal en grondgesondheid, gronderosie en -verdigting, verminderde waterhouvermoë, ’n verlies aan voordelige grondbiologie, toenemende plaag- en siektedruk, en ’n afname in insetgebruiksdoeltreffendheid. Hierdie tendense bedreig nie net die langtermyn lewensvatbaarheid van aartappelboerdery nie, maar dra ook by tot breër omgewingsprobleme soos voedingstofafloop, kweekhuisgasvrystellings en ’n verlies aan biodiversiteit.

Die klimaatskrisis vererger die uitdaging. Aartappelopbrengste is kwesbaar vir onreëlmatige reënval, hittegolwe, droogte en veranderende plaagpatrone. Daarom is talle produsente op soek na boerderystelsels wat nader aan die natuur werk, en nie daarteen nie. Dit sluit stelsels in wat grondgesondheid herstel, klimaatsveerkragtigheid bou en boerderywinsgewendheid ondersteun.

Herlewingslandbou in fokus

Die verskil tussen konvensionele aartappelboerdery en herlewingslandbou beklemtoon ’n kritieke verskuiwing in landbouparadigmas. Terwyl tradisionele (konvensionele) metodes op die onmiddellike maksimalisering van opbrengste met baie hoë insette fokus, dikwels ten koste van langtermyn grondgesondheid, bied herlewingslandboupraktyke ’n holistiese benadering wat produktiwiteit met ekologiese integriteit balanseer.

Dié skuif spreek nie net die omgewingsimpak van aartappelverbouing aan nie, maar open ook moontlikhede vir volhoubare voedselproduksie wat by veranderende klimaatstoestande kan aanpas en biodiversiteit kan ondersteun.

Om herlewingslandbou suksesvol in aartappelverbouing staan te maak, moet ses pilare oor die lang termyn gehandhaaf word. Die voordele verskyn nie oornag nie, maar is gewaarborg wanneer die pilare konstant en korrek toegepas word. Elke produsent sal vanaf dag een moet bepaal hoe om hierdie pilare die beste in sy of haar stelsel te integreer, hetsy tydens die aartappelseisoen of gedurende die vier tot vyf jaar tussen die aartappelseisoene. Albei is ewe belangrik.

Pilaar 1: Die kernbeginsels

Die gelyktydige toepassing van die volgende herlewingslandboubeginsels sal verskeie omgewings-, sosiale en finansiële voordele inhou. Hoewel die meeste beginsels die maklikste tussen aartappelseisoene toegepas word, is daar ook geleenthede hiervoor tydens die aartappelseisoen.

  • Minimalisering van grondversteuring: Vermindering van bewerking om die afwaartse siklus in grondagteruitgang te stuit. Dit beperk ook die gebruik van brandstof, arbeid, asook die herstel en vervanging van toerusting (Foto 1).
  • Die instandhouding van lewende wortels: Die gebruik van dekgewasse en diverse rotasies om wortels so lank as moontlik in die grond te hou en grondgesondheid voor of nadat ’n aartappelgewas geplant is, te bevorder. Wortels skei sappe en suikers af wat die beste kos vir mikrobes in die grond is. Dit verbeter grondstruktuur, voorkom gronderosie, breek verdigting af, verhoed die loging van voedingstowwe en verhoog organiese materiaal in die grond (Foto 2).
  • Gewasdiversiteit: Die gebruik van gewasrotasies en assosiasies om diversiteit bo en onder die grond te verhoog. Die twee belangrikste voordele vir aartappels is die afname in siektes en ’n verhoging in grondvrugbaarheid (Foto 3).
  • Permanente bedekking van die grondoppervlak: Die gebruik van deklae, oesreste en dekgewasse om die grond teen waterafloop, erosie, temperatuurskommelings, verdamping en onkruiddruk te beskerm (Foto 4).
  • Integrasie van vee: Die gebruik van goed-beplande weiding in die rotasiestelsel om voedingstowwe te sirkuleer en grondlewe te stimuleer (Foto 5).

Pilaar 2: Goeie landboupraktyke

Hoewel spesifieke praktyke wissel volgens streek, grondtipe en boerderystelsel, pas herlewingsprodusente in aartappelverbouing aanvullende praktyke soos hier gelys toe. Hoewel die meeste van hierdie praktyke die maklikste tussen aartappelseisoene toegepas word, bied die aartappelseisoen self ook verskeie geleenthede hiervoor.

  • Strookbewerking of geenbewerking.
  • Eenjarige weidings (of dekgewasse) met vee-integrasie (Foto 6).
  • Langer, meerjarige weidings met vee-integrasie.
  • Tussenverbouing (intercropping) met kontantgewasse soos mielies en sonneblomme (Foto 7).
  • Gebruik van kompos en biologiese aanvullings.
  • Vermindering en verandering van sintetiese kunsmis en plaagdoders.
  • Die gebruik van sagter en omgewingsvriendeliker grond- en plantprodukte.
  • Integrasie van biologiese plaagbeheer.
  • Bewaringsbuffers en bestuiwerstroke.
  • Innoverende waterbestuurstrategieë.
  • Plantmaats of companion cropping (Foto 8).

Pilaar 3: Bestuursdoeltreffendheid

Herlewingslandbou verhoog die doeltreffendheid van aartappelproduksie deur die 4R-voedingsbestuursraamwerk (regte bron, regte hoeveelheid, regte tyd, regte plek) saam met pilare een en twee toe te pas.

  • Regte bron: Die gebruik van biologiese grondaanvullings, kompos en dekgewasse (soos wieke of winterertjies) om natuurlike, stadigvrystellende voedingstowwe saam met geteikende minerale kunsmis te voorsien.
  • Regte hoeveelheid: Voedingstoedienings word presies by die behoefte van die gewas aangepas deur middel van gereelde sap- en grondontledings, wat die gebruik van chemiese kunsmis met 12 tot 30% verminder.
  • Regte tyd: Voeding word deur blaar- of kanttoedienings tydens piek knolgroeistadia gelewer, eerder as ’n enkele groot dosis aan die begin.
  • Regte plek: Voedingstowwe (organies en sinteties) word naby die wortelsone geplaas met minimale grondversteuring, wat die grondmikrobiome se vermoë om voedingstowwe te sirkuleer verbeter.

Pilaar 4: Proewe op die plaas

Proewe op die plaas is noodsaaklik om innoverend en veerkragtig te bly (Foto 9). Die beste manier om herlewingslandboubeginsels en -praktyke te leer en binne elke unieke situasie of boerdery aan te pas, is om daarmee te eksperimenteer.

Die wetenskaplike plaasproef in Kinross,
Mpumalanga.

Produsente kan dit self aanpak, of met tegniese kundiges, navorsers en insetverskaffers saamwerk om die gehalte en skaal van die proewe te verhoog. Hoe meer wetenskaplik en statisties korrek die proewe is, hoe beter en meer betroubaar is die resultate. Dié resultate vorm die basis van hoe die produsent herlewingslandbou op die res van die plaas gaan implementeer.

Plaasproewe is nooit eenmalig nie; dit vorm ’n permanente deel van die boerdery se volhoubaarheidsplan, hou die produsent skerp en toekomsgerig, en sorg dat die boerdery volhoubaar bly.

In ’n tipiese plaasproef word herlewingslandbou met konvensionele aartappelverbouing vergelyk. Die herlewingslandbou-proefbehandeling word ontwerp deur die beste plaaslike kennis, praktyke en produkte te kombineer wat deur die produsent toegepas kan word. Baie van hierdie praktyke sal nuut wees en neem tyd om te bemeester. Goeie raad is om net te begin en nooit op te hou probeer nie – dit is ’n lewenslange reis wat goed beloon sal word.

Pilaar 5: Monitor, leer en pas aan

Monitering is ’n onlosmaaklike deel van plaasproewe, innovering en die aanpassing van herlewingslandbou. Om te meet is immers om te weet. ’n Doeltreffende moniteringsplan begin met die keuse van spesifieke, relevante, betroubare en meetbare maatstawwe (aanduiders).

Sojabone op goeie deklaag grondbedekking

Die belangrikste hiervan sluit grondgesondheid (fisies, chemies en biologies, insluitend grondoorgedraagde siektes), grondbedekking (Foto 10), gewasgesondheid en -gehalte, produksie (gewasse, biomassa en vleis), winsgewendheid, veerkragtigheid en risiko, en die koolstofvoetspoor in.

Om te bepaal waar en hoe die monitering gedoen word, is ’n ruimtelike moniteringsraamwerk noodsaaklik. Die twee belangrikste benaderings is ruitwaarnemings en homogene grondbestuurseenhede. Proefplotte word apart gemonitor om spesifieke wetenskaplike data te genereer.

Spesifieke en permanente waarnemings- of moniteringspunte word bepaal deur die spesifieke moniteringsraamwerk (ruit of grondbestuurseenhede). Ruitwaarnemings word op ’n sekere waarnemingsdigtheid gedoen, gewoonlik elke 0.5 tot 2 ha vir eenjarige gewasse.

Homogene grondbestuurseenhede word op grondkaarte, satellietbeelde of oesdata gebaseer. Grondwaarnemingspunte word ook op elke 0.5 tot 2 ha binne ’n eenheid geplaas, waarna daar gewoonlik een saamgestelde grondmonster per grondbestuurseenheid geneem word deur monsters by al die waarnemingspunte te versamel. Alle verdere metings rakende aksies, gewasse en diere word op dieselfde punte en in dieselfde eenhede uitgevoer.

Die frekwensie van waarnemings wissel volgens die doel en metode van elke maatstaf, maar behels tipies ’n jaarlikse meting op dieselfde tydstip. Hierdie jaarlikse waarnemings word teenoor basislyndata gemeet om tendense en veranderinge oor tyd noukeurig te ontleed.

So ’n langtermyn moniteringsdatastel is goud werd om deurlopend te leer en herlewingslandbou korrek aan te pas. Dit bied ’n selfs groter voordeel om hierdie data en lesse met ’n groter groep produsente te deel en saam met hulle te leer. Dit is dus raadsaam om by ’n studiegroep aan te sluit of self een te skep.

Gesonde grond met erdwurms.

Uiteindelik is herlewingslandbou uitkomsgebaseerd: Sukses word nie gemeet aan die streng nakoming van ’n kontrolelys of resep nie, maar aan tasbare en volhoubare verbeterings in grondgesondheid, biodiversiteit, plaaswinsgewendheid en ekostelselfunksie (Foto 11).

Pilaar 6: Ekonomies-lewensvatbaar

’n Algemene bekommernis oor herlewingslandbou is die ekonomiese lewensvatbaarheid daarvan binne ’n mededingende aartappelmark. Die bewyse ten gunste van herlewingslandbou is egter al hoe meer bemoedigend. Belangrike ekonomiese aandrywers sluit in:

  • Insetbesparing: Verminderde kunsmis-, plaagdoder- en brandstofkoste danksy minder bewerking en doeltreffender voedingstofsiklusse.
  • Opbrengsstabiliteit: Hoër veerkragtigheid teen weerstoestande en plaagdruk, wat oor tyd tot meer konsekwente opbrengste lei.
  • Nismarkte: Daar is ’n groeiende vraag na aartappels wat met herlewingspraktyke geproduseer is.
  • Aansporings: Al hoe meer geleenthede vir betalings wat met grondkoolstofvaslegging, biodiversiteit en ekostelseldienste verband hou.

Ten slotte

Aartappelprodusente wat reeds herlewingslandbou toepas, rapporteer sowel kostebesparings as ’n verbetering in gewasgehalte nadat hulle die beginsels en goeie praktyke soos rotasies, dekgewasse, biologiese middels en veeintegrasie toegepas het. Sommige verkry nou toegang tot nismarkte en ontvang koolstofkrediete.

Uiteindelik kan herlewingslandbou help om aartappelprodusente se risiko en volhoubaarheid te verbeter in ’n era van wisselvallige inset- en kommoditeitspryse asook klimaatsonsekerheid, wat na ’n aantreklike idee vir produsente mag klink. – Dr Hendrik Smith, ASSET Research

Vir meer inligting, stuur ’n e-pos na smith.hendrik@gmail.com.