Estimated reading time: 9 minutes
Die Sandveld Aartappelkwekersorganisasie (SAKO) het onlangs sy jaarvergadering in die NG Kerksaal in Lambertsbaai gehou. Van die onderwerpe op die agenda was die regulatoriese omgewing waarbinne landbou moet funksioneer, klimaatsverandering en hoe dit landbou in die Sandveld beïnvloed, die Aartappels SA-toep, aartappelpryse, asook produksie- en bemarkingstendense.
Monique Coetzee, voorsitter van SAKO, het gesê in die Sandveld draai alles om water. Deurlopende navorsing en weerstasies verskaf data wat produsente in staat stel om water te bespaar en beter te boer. In hierdie opsig neem SAKO se werkgroep die leiding om beter praktyke te ontwikkel.
Kommer oor watergebruik
Coetzee het haar kommer uitgespreek oor ‘n ekologiese reserwebepaling van die Sandveld se waterbronne deur die Departement van Waterwese en Sanitasie. Die voorlopige bevindinge kan ‘n negatiewe impak op die voortsetting van aartappelboerdery in die Sandveld hê.
Dus het SAKO vir Aartappels SA en Agri Wes-Kaap gevra om kommentaar daarop te lewer, sodat die moontlike ekonomiese gevolge van die verslag aan die departement uitgewys kan word. “Die departement is tans besig om die finale verslag vir publikasie in die Staatskoerant voor te berei,” het Coetzee gesê.
Sy het gesê die geohidrologie-maatskappy, GEOSS, onder leiding van sy besturende direkteur, Julian Conrad, doen al vir 30 jaar ondergrondse watermonitering in die Sandveld. Weens die komplekse aard van die gebied verskil die beskikbaarheid en gehalte van water aansienlik tussen die verskillende dele van die Sandveld. Dit is daarom noodsaaklik om die gebied in individuele sones te bestudeer.
“‘n Oorhoofse aanbeveling kan nie vir die hele gebied gemaak word nie. Dit is belangrik dat deurlopende monitering gedoen word om waterbestuur te verbeter, en ingeligte en doelgerigte besluite te neem.”

Die elektroniese aartappel
Aartappels SA het ‘n elektroniese aartappel ontwikkel wat produsente in hul paklyn kan sit om aan te dui waar aartappels moontlik op die lyn beskadig kan word. Aandag kan dan gegee word aan daardie areas om skade aan die aartappels te voorkom en uiteindelik meer geld te maak, het FP Coetzee, Aartappels SA se hoof van inligting, tydens die vergadering gesê.
Alles gaan oor handelsmerke en gehalte. “Aartappels met relatief min meganiese skade kan R5 tot R10/sakkie meer behaal as aartappels met baie meganiese skade. Teen ‘n verskil van R10/sakkie, werk dit uit op R35 000 wat per vrag (link) verloor word.”
Swak voorraadbestuur
Hy het ook gesê produsente het die afgelope paar jaar miljoene verloor as gevolg van swak voorraadbestuur op markte en het twee gevalle uitgelig. Hy het eerstens ‘n vergelyking tussen 2022 en 2024 getref. Hoewel die lewerings in dié twee jaar met net een miljoen 10 kg-sakkies verskil het (257 miljoen sakkies in 2022 en 256 miljoen sakkies in 2024), was die prys in 2024 meer as R20/sakkie hoër.
Coetzee het gesê die beter prys in 2024 kan aan beter voorraadbestuur toegeskryf word. Dit is algemeen bekend dat enigiets bo 800 000 sakkies per dag beteken dat die markte oorvoorsien is. In 2022 was die markte 5.1 dae per week oorvoorsien en in 2024 net 2.7 dae. Hoe meer dae per week meer as 800 000 sakkies voorsien word, hoe meer sal die negatiewe reaksie op die prys wees.
”As die twee jare met mekaar vergelyk word, dan het die bedryf byna R500 miljoen verloor omdat die voorsiening aan die markte nie goed bestuur is nie.” Hy het gesê dieselfde het in 2024 in week 41 tot 46 gebeur.
“Die prys het oor ‘n kwessie van ses weke met 172% gestyg, maar omdat produsente in die noorde nie inligtingsvergaderings bygewoon het nie en nie ingeligte besluite kon neem nie, het hulle die mark oorvoorsien en het die prys binne twee weke met 199% geval. Dit is gelykstaande aan ‘n verlies van R250 miljoen vir week 41 tot 46.”
Coetzee het ook gesê bedryfsrolspelers moet in ag neem dat die markaandeel van verwerkte aartappels toeneem. In 2024 was die aandeel van verwerkte aartappels 19.6% (op van 16%) en dit kan na soveel as 24% groei.
Die top vyf verwerkers het reeds hul kapasiteit verhoog en die afgelope drie jaar was daar groei in die kleinhandelverkope van bevrore skyfies. Die vraag na die produk styg en daarom raak die mark groter. Na verwagting sal daar in 2025 sowat 50 000 ton aartappels meer as in 2024 deur die verwerkingsbedryf gekoop word, het Coetzee gesê.
Sandveld word warmer en droër
Stephanie Midgley, spesialiswetenskaplike vir klimaatsverandering by die Wes-Kaapse Departement van Landbou, het gesê almal moet aanvaar dat klimaatsverandering reeds gebeur en dat dit nie ‘n siklus is nie. “Die weerpatrone gaan nie binne vyf tot tien jaar terugkeer na normaal nie en ons moet dit in ons beplanning in ag neem.”
Volgens haar het die Weskus ‘n baie stabiele klimaatstelsel oor die lang termyn, maar met klimaatsverandering kom die stabiliteit van die stelsel in gedrang en is dit baie kwesbaar. Die gebied raak warmer en dit is interessant dat die verwarming van minimumtemperature snags plaasvind en nie bedags nie. “Ons weet nog nie presies hoekom nie,” het Midgley gesê.

Groter uitdroging in herfs
Langtermynstudies oor reënval dui op groter uitdroging gedurende die herfsmaande. Die rede daarvoor is omdat die winter se frontale winterreënvalstelsels nou later as voorheen kom en die reënvalseisoen later begin. Hoewel die begin van die reënvalseisoen nou later is, het die einde daarvan nie verskuif nie, het sy gesê.
Sy het daarop gewys dat alle internasionale studies daarop dui dat Mediterreense gebiede, soos die Wes-Kaap, warmer en droër word.
Die Sandveld se temperature kan teen 2060 1.5 tot 3°C hoër wees.
Sommige reënvalmodelle voorspel ‘n geringe afname in reënval, maar ander voorspel ‘n afname van tot 40%. Indien die gemiddeld geneem word, kan ‘n afname van 20% verwag word, het Midgley gesê.
Volgens haar is die risiko van ‘n matige droogte in die Wes-Kaap reeds hoër, van een in tien jaar tot twee in tien jaar; in die toekoms kan dit selfs vermeerder tot vyf in tien jaar.
Die risiko vir rampe gaan al hoe groter raak. In die verlede is te min aandag aan rampbestuur gegee.
“Ons het goed gereageer op die groot droogte en vloede in die provinsie, maar ons kan nie bekostig om net te reageer as die skade reeds voorgekom het nie. Ons moet die risiko’s beter verstaan en stappe in plek sit om die skade te verminder.”
Vennootskappe nodig
Vennootskappe is baie belangrik om klimaatsverandering te bestuur.
“Die Wes-Kaapse regering kan nie alles self doen nie. Die boere sal van die risiko’s op hul plase moet bestuur en vennootskappe tussen bedrywe is derhalwe nodig. Die aartappelbedryf se klimaatuitdagings is baie dieselfde as ander bedrywe s’n.
Daarom moet die bedrywe saamwerk en planne beraam. Elkeen kan nie op sy eie oplossings vir die globale probleem probeer vind nie,” het sy gesê.
“Klimaatsverandering lyk erg en ons is bekommerd daaroor, maar ons sien dat produsente reeds heelwat stappe implementeer wat ons beskou as noodsaaklik om by klimaatsverandering aan te pas. As hulle dit op ‘n ekonomiese en volhoubare manier doen, sal dit met verloop van tyd vrugte afwerp. As ons aanhou om daardie dinge te doen, is daar ‘n toekoms vir landbou in die Wes-Kaap,” het Midgley gesê.
Eiendomsreg bring vooruitgang
Annelize Crosby, Agbiz se hoof van regsintelligensie, het tydens haar spreekbeurt gesê eiendomsreg bly belangrik, omdat dit ‘n hoeksteen van ons kapitalistiese stelsel en demokrasie is; dit speel ‘n belangrike rol in ekonomiese ontwikkeling en die skep van beleggingsvertroue.
Internasionale navorsing het gewys daar is ‘n direkte verband tussen hoe goed eiendomsreg in ‘n bepaalde land beskerm word en wat die per kapita-inkomste in daardie land is. “As jy wil hê al jou mense, ryk en arm, moet beter daaraan toe wees in terme van hul besteebare inkomste, dan moet jy die hoogste moontlike mate van beskerming aan eiendomsreg verleen. Eiendomsreg speel in enige land ‘n uiters belangrike rol in ekonomiese groei,” het sy gesê.
Internasionale navorsing het gewys daar is ‘n direkte verband tussen hoe goed eiendomsreg in ‘n bepaalde land beskerm word en wat die per kapita-inkomste in daardie land is.
Crosby het gesê daar was in die verlede baie radikale voorstelle wat eiendomsreg in gedrang kon bring, maar gelukkig het min daarvan gerealiseer. Die wetgewing wat nou ‘n potensieel negatiewe impak kan hê en mooi deur die landbou dopgehou moet word, is een wat die minister van grondsake onlangs genoem het tydens een van sy voorleggings aan die Portefeuljekomitee op Grondsake, naamlik die Wetsontwerp op Billike Toegang tot Grond.
Sy het gesê onteieningsbevoegdhede kan vir herverdelingsdoeleindes in die wetgewing ingeskryf word. Op hierdie stadium is daar nog nie wetgewing wat onteiening vir herverdeling magtig nie. Daar is net wetgewing wat onteiening magtig vir restitusie en vir besitregdoeleindes.
“Die wetsontwerp sal uiteindelik ‘n herverdelingswet wees en daarom sal ‘n mens baie mooi moet kyk na watter tipe herverdelings-onteieningsmagte alles toegeken kan word. Daar is nog nie ‘n konsepwet nie, maar ons weet dit is op pad,” het Crosby gesê.
Wet se bevoegdhede
Volgens Crosby is die Onteieningswet, 2024 (Wet 13 van 2024) nog nie in werking nie, hoewel dit geteken is. Haar standpunt is dat dit ‘n prosedurele wet is. “Dit gee nie nuwe onteieningsbevoegdhede aan enigiemand nie. Die onteieningsbevoegdhede – met ander woorde die mag om te kan onteien vir ‘n spesifieke doel – is lankal in ‘n klomp ander stukke wetgewing vervat. Dit is nie nuut nie.”
Plaaslike owerhede, die paaie-owerhede en die Departement van Waterwese kon nog altyd eiendom of grond vir sekere doeleindes onteien. Al wat verander is dat almal nou die prosedure wat in die nuwe wet voorgeskryf word, moet volg.
Hierdie prosedure is heelwat moeiliker vir die staat en die onteieningsgesag as die prosedure wat in die 1975-wet vervat is. “Dit gaan nou moeiliker wees om te onteien, want daar is meer stappe wat gevolg moet word,” het Crosby gesê.
Dit wil egter nie sê daar is nie gevare nie. “Die gevare lê in die definisie van onteiening wat te eng is en die R0-vergoedingsklousule, omdat dit ‘n deur ooplaat sodat die Wet ook vir ander doeleindes gebruik kan word as wat in die Wet gelys word.”
Landbou-organisasies moet proaktief optree om seker te maak produsente word ondersteun as hul grond onteien word en wanneer ‘n dispuut tussen ‘n produsent en die staat ontstaan oor die prys wat die staat aanbied. Die enigste uitweg is vir so ‘n boer om hof toe te gaan. Dit is goed dat die hof hieroor beslis, maar dit kos geld. Hierdie litigasie moet op ‘n manier befonds word en toetssake sal gemaak moet word rondom die litigasie, het Crosby gesê.
Vir meer inligting oor SAKO se bedrywighede, kontak Monique Coetzee by 083 610 7320.