Sandveld-kultivarproef onder besproeiing op Aurora in 2024/25

Estimated reading time: 10 minutes

Die Sandveld-produksiestreek produseer sowat 13.5% (2024-oesjaar) van die totale aartappeloes in Suid-Afrika op ongeveer 6 942 ha in somer- en winteraanplantings. Hierdie streek voorsien aartappels aan die totale voorsieningsketting, waaronder uitvoer, moere, tafel- en verwerkingsaartappels. Tafelaartappels word hoofsaaklik na die Kaapse varsproduktemark, en moere na Mosambiek uitgevoer. Die mees prominente kultivars wat hier vir tafelverbruik en verwerking geproduseer word, is Mondial, Sifra, FL2108 en Valor.

Die proef is op die plaas Rietfontein in die Aurora-omgewing, aan die westelike voet van Piketberg, uitgevoer. Die area is in Suid-Afrika se winterreënvalstreek, met ’n gemiddelde jaarlikse reënval van ongeveer 395 mm wat die afgelope 21 jaar by die naaste Landbounavorsingsraad- of LNR-weerstasie aangeteken is.

’n Gemiddeld van 295 mm per jaar is tussen 2018 en 2023 op Rietfontein aangeteken. Die omgewing geniet ’n Mediterreense klimaat met warm somers en koue, nat winters. Die aanplantingstyd vir die produksiegebied is uniek, aangesien aartappels regdeur die jaar geplant kan word. Die meeste aartappels word egter in Februarie en Junie geplant.

Proefontwerp en -besonderhede

Die Aurora-kultivarproef is in sandgrond uitgevoer en in ’n ewekansige blokontwerp met drie herhalings per kultivar uitgelê. Tabel 1 bevat bykomende tegniese inligting rakende die proef.

Tabel 2 vervat die bemestingsprogram vir die afgelope seisoen. Grondmonsters is voor plant geneem om die proefperseel se grondvoedingstatus te bepaal (Tabel 3). Regstellings aan die spilpunt is op ’n wisselende basis gedoen.

Ingesluit in die kultivarproef is kultivars met kort en lang groeitydperke wat die uiteindelike opbrengs van sekere kultivars beïnvloed. Die lengte van groeitydperke is aan die aard van die seisoen onderhewig, maar word gesien as die hoeveelheid tyd wat verloop vanaf opkoms tot natuurlike loofafsterwe. Tabel 4 sit uiteen hoe hierdie groeitydperke van kultivar tot kultivar verskil. Plantgereedheid van moere ten tyde van die plant van die proef, sowel as standpersentasie en halmtelling wat later in die groeitydperk waargeneem is, word in Tabel 4 aangedui.

Bemarkingsverwante resultate

Die evaluering van nuwe kultivars soos in die Aurora-kultivarproef, verskaf resultate wat onder andere insluit opbrengs- en bemarkingsindeks, sowel as bakgehalte en prosesseringseienskappe. Die bemarkingsindeks van die betrokke kultivars word bereken deur elke kultivar volgens gehalte en groottegroepe (byvoorbeeld Klas 1 groot of Klas 2 groot-medium) te klas en sorteer.

Prysvergelykings word dan met markpryse, soos verkry ten tyde van oes, getref. Die prestasie van nuwe kultivars kan egter nie net op die resultate van een spesifieke seisoen geskoei word nie, omdat klimaat van een jaar na ’n volgende kan wissel. Juis daarom word die kultivars verkieslik oor ’n aantal seisoene geëvalueer.

Klimaats- en weertoestande

Soos met enige gewas is temperatuur, straling, beskikbaarheid van water (hetsy goeie besproeiingskedulering of reënval), asook hitte-eenhede belangrike faktore wat ’n wesenlike invloed gedurende die aartappelplant se groeitydperk het. ’n Faktor waarvan die belangrikheid telkemale bewys word, is die voordeel daarvan om goeie gehalte, plantgereed saad te plant. Bogenoemde faktore word in ag geneem wanneer die prestasie van kultivars geëvalueer word. Toepaslike weerdata vir die betrokke seisoen word vanaf ’n nabygeleë weerstasie verkry.

Die 2024/25-seisoen (Figuur 2) het oor die algemeen ondergemiddelde reënval ontvang – hoewel Aurora in die winterreënvalgebied val – met die uitsondering van Oktober waarin aansienlik meer reënval aangeteken is.

Minimum- en maksimumtemperature word in Figuur 3 uiteengesit. Die betrokke seisoen is met tye aan groot wisselinge in maksimumtemperature gekenmerk, veral aan die begin en nader aan die einde van die groeitydperk. Temperature was voortdurend hoog en gemiddeld 0.7°C warmer as die vorige drie seisoene.

Altesaam 71 dae van temperature bo 30°C, 19 dae bo 35°C en een dag bo 40°C is gedurende die groeitydperk aangeteken – effens minder as in die vorige seisoen. Daar was egter teen die einde van Desember ’n paar dae met uitskieter-maksimumtemperature van meer as 40°C, wat ’n dramatiese invloed op die gewas se groeitydperk gehad het. Hierdie hitte het die groeifase verkort en uiteindelik ’n beduidende negatiewe uitwerking op die opbrengs gehad.

Hitte-eenhede en straling

Die versameling van hitte-eenhede gedurende ’n groeitydperk is ’n belangrike faktor in die ontwikkeling van ’n aartappelplant. Die tendens van hitte-eenhede wat vir hierdie seisoen se Aurora-kultivarproef beskikbaar is, toon dat die 2024/25-seisoen se hitte-eenhede baie naby, maar tog laer is as dié van die afgelope paar seisoene (Figuur 4).

Nog ’n belangrike faktor om in ag te neem, is die hoeveelheid daaglikse straling (Figuur 5). Dit is ’n meting van die hoeveelheid sonligenergie wat ’n horisontale oppervlakte tref. ’n Toename in straling gedurende die groeitydperk lei dus tot hoër fotosintese. Die gemiddelde daaglikse straling vir die afgelope seisoen was laer as die vorige twee seisoene en verklaar die swakker opbrengste gedeeltelik. As langertermyn-data in ag geneem word, was die akkumulasie van straling – wat daagliks gemeet is – 16.36% laer in hierdie seisoen as tussen 2017 en 2024. Straling en gevolglik fotosintese en uiteindelike opbrengs vir die hele seisoen was minder as in vorige seisoene.

Kultivareffek

Opbrengsdata wat tydens oesdag aangeteken word, word aan statistiese verwerking met behulp van die GenStat®-program onderwerp. Die Tukey-toets van kleinste betekenisvolle verskille (KBV) is gebruik om die gemiddeld te skei. Die kultivareffek gedurende hierdie proef (Figuur 6) was statisties beduidend (p<0.05) en die koëffisiënt van variasie was binne perke (7.1%).

Hierdie faktore dui daarop dat die proef baie goed uitgevoer is en die resultate dus betroubaar is. Die opbrengs van elk van die kultivars word deur die proefgemiddeld gedeel, met die proefgemiddeld van al die kultivars wat as 100% geneem word. Hierdeur word ’n opbrengsindeks bepaal en word elke kultivar se prestasie in terme van opbrengs as ’n persentasie van die proefgemiddeld gelees.

Opbrengs van kultivarproef

Die gemiddelde opbrengs van die proef vir die 2024/25-seisoen is 70.39 t/ha, wat aansienlik laer is as die vorige vyf seisoene se gemiddeld van 92.1 t/ha. Mondial se opbrengs is onderwerp aan die LINTUL-gewassimulasierekenaarmodel wat gewasgroei, -ontwikkeling en -opbrengs voorspel op grond van faktore soos klimaat, grond en bestuur. Die model funksioneer deur die aartappelplant se fisiologiese prosesse (fotosintese, respirasie en knolvulling) te simuleer en gebruik komplekse berekeninge om uitkomste soos opbrengspotensiaal te genereer.

Interessant genoeg het die LINTUL-simulasies van die vorige vier seisoene getoon dat Mondial in hierdie streek oor ’n opbrengspotensiaal van gemiddeld 129.8 t/ha beskik (en 118.4 t/ha in die afgelope seisoen), maar slegs ’n werklike opbrengs van 67.7 t/ha gerealiseer het. ’n Moontlike verklaring vir hierdie lae opbrengs kan, soos voorheen gemeld, ’n sarsie van baie warm toestande aan die einde van Desember wees (soos aangedui deur die pyl in Figuur 3). Die plante het vir die betrokke seisoen slegs sowat 115 dae gegroei, waar dit in ander jare minstens tien dae langer gehad het om optimaal te groei en opbrengs te lewer. Dit illustreer die groot invloed wat klimaat op opbrengs uitoefen wanneer die groeitydperk selfs net ’n bietjie verkort word.

Sababa, Lilly, 11Z55A5, Avalanche, Lady Luce, P1, Lanorma, Sifra en Panamera het die beste opbrengste gelewer met geen statistiese verskil in opbrengs nie. P1, 11Z55A5 en Avalanche het die beste bemarkingsindeks behaal. ’n Hoë bemarkingsindeks word toegeskryf aan ’n hoër opbrengs van groot en Klas 1-aartappels. Die voorafgenoemde kultivars het moontlik die voordeel gehad van vroeër knolvulling, wat daartoe kon bydra dat die hitte-insident hulle minder benadeel het as ander kultivars. ’n Groot persentasie onbemarkbare aartappels sal die bemarkingsindeks negatief beïnvloed.

Groottegroepverspreiding en gradering is veelseggende evaluasies wanneer gekyk word na ’n kultivar se bemarkbaarheid (Figuur 7 en 8). In hierdie proef is slegs Klas 1- en 2-aartappels geklas, teenoor onbemarkbare (weggooi) aartappels.

Kultivarprestasie

Soos die aard van seisoene is, wissel die prestasie van kultivars van seisoen tot seisoen, bloot omdat klimaat van een seisoen na ’n volgende nooit eenders is nie. Derhalwe is dit belangrik om konsekwente kultivarprestasie oor ’n aantal seisoene in ag te neem. Die afgelope drie en vyf seisoene se kultivarvariasie word in Figuur 9 en 10 onderskeidelik aangedui. Sifra, Mondial en Panamera toon in hierdie proef die meeste stabiliteit oor ’n tydperk van vyf jaar, met Lanorma wat uiters konsekwent presteer het oor die afgelope drie seisoene.

Die hoofredes vir afgradering word in Tabel 5 aangedui. Aalwurm, losskil en verrotting (bederf) was die grootste redes vir die afgradering van aartappels vanaf bemarkbaar na weggooi. Houvermoë is informeel ’n maand ná oes geëvalueer, en waarnemings van kultivartoestande word in Tabel 6 uiteengesit.

Laastens, wanneer gekyk word na die interne gehalte van aartappels, kan prosesseringseienskappe ook geëvalueer word. Om aan prosesseringsvereistes te voldoen, moet kultivars onder andere aan ’n soortlike gewig (SG) van ≥1.075 voldoen (Tabel 7). Lady Alicia, Markies, P1 en Palace het elkeen aan die SG-vereiste voldoen. Tabel 7 toon ook die betrokke kultivars se interne vleeskleur en bakgehalte. – Enrike Verster, Aartappels SA, Piet Brink, Sandveld-werkgroep en Albert de Villiers, produsent

Spesiale dank aan Albert de Villiers en die Sandveld-werkgroep, alle proefdeelnemers en betrokke Aartappels SA-personeel. Vir meer inligting, stuur ’n e-pos na enrike@potatoes.co.za