Estimated reading time: 8 minutes
Die Suidwes-Vrystaat aartappelproduksiestreek produseer sowat 1.86% van die land se kommersiële aartappels op 954 ha (2024-oesjaar). Die mees prominente kultivars wat in die streek se hoofoes vir tafelverbruik en verwerking geproduseer word, is Sifra (89%), gevolg deur Mondial, Innovator en Panamera.
Petrusburg val in Suid-Afrika se droë kontinentale gebied (Figuur 1).

Die plaas waarop die proef uitgevoer is, ervaar die afgelope 25 jaar ’n gemiddelde jaarlikse reënval van 565 mm, soos deur die plaaslike Landbounavorsingsraad- of LNR-weerstasie aangeteken. Hierdie streek ervaar baie warm somers en koue winters met ryp wat vanaf Junie tot Augustus kan voorkom.
Proefontwerp en -besonderhede
Die kultivarproef op Petrusburg is in ’n ewekansige blokontwerp met drie herhalings per kultivar uitgelê.
Tabel 1 bevat relevante tegniese inligting rakende die proef. Grondmonsters is voor plant geneem om die proefperseel se grondvoedingstatus te bepaal (Tabel 2).


Ingesluit in die kultivarproef is kultivars met kort en lang groeitydperke, derhalwe kan dit die uiteindelike opbrengs van sekere kultivars beïnvloed. Die lengte van groeitydperke is aan die aard van die seisoen onderhewig, maar word gesien as die hoeveelheid tyd wat verloop vanaf opkoms tot natuurlike loofafsterwe.
Tabel 3 sit uiteen hoe hierdie groeitydperke van kultivar tot kultivar verskil. Plantgereedheid van moere ten tyde van die plant van die proef, sowel as standpersentasie en halmtelling wat later in die groeitydperk waargeneem is, word ook in Tabel 3 aangedui.


Bemarkingsverwante resultate
Die evaluering van nuwe kultivars soos in die Petrusburg-kultivarproef verskaf resultate wat onder andere op opbrengs- en bemarkingsindeks betrekking het. Die bemarkingsindeks van die betrokke kultivars word bereken deur elke kultivar volgens gehalte en groottegroepe (byvoorbeeld Klas 1 groot of Klas 2 groot-medium) te klas en sorteer. In hierdie proef word al drie herhalings bymekaar gegooi, gewas en deur die pakstoor geklas en sorteer.
Prysvergelykings word dan met markpryse, soos verkry ten tyde van oes, getref. Die prestasie van nuwe kultivars kan egter nie net op die resultate van een spesifieke seisoen geskoei word nie, omdat klimaat en moergehalte van een jaar na ’n volgende kan wissel. Juis daarom word die kultivars verkieslik oor ’n aantal seisoene getoets.

Klimaats- en weertoestande
Soos met enige gewas is temperatuur, beskikbaarheid van water (hetsy goeie besproeiingskedulering of reënval), asook hitte-eenhede belangrike faktore wat ’n wesenlike invloed gedurende die aartappelplant se groeitydperk het. Hierdie faktore word dus in aanmerking geneem wanneer die prestasie van kultivars geëvalueer word.
Toepaslike daaglikse weerdata van die betrokke seisoen word verkry vanaf ’n Hortec-weerstasie wat op die plaas waar die proefperseel geleë is, geïnstalleer is. Langtermyndata word egter steeds vanaf ’n LNR-stasie verkry, aangesien die Hortec-weerstasie op die proefperseel nog nie lank genoeg funksioneer om langtermyndata te verskaf nie. Die LNR-weerstasie waarvan die langtermyndata verkry is, is 9 km vanaf die proefperseel geleë.
Die reënvaltendens vir die 2024/25-seisoen (Figuur 2) toon kumulatief heelwat minder reën as die langtermyngemiddeld. Die na-oes gehalte-evaluasies toon dat ’n voortdurend oorversadigde grondprofiel vir die seisoen se uitdagings verantwoordelik was. Wanneer die daaglikse reënvaldata in ag geneem word, is dit duidelik dat redelik gereelde en aanhoudende buie ’n groot invloed op gehalte en spesifieke siektedruk gehad het.

Minimum- en maksimumtemperature word in Figuur 3 uiteengesit. Die laaste (en enigste) sarsie ryp is op 1 Oktober aangeteken, sowat ’n maand na plant. Aan die einde van November sowel as bykans die hele Desember en Januarie tot en met oesdag is talle agtereenvolgende dae met maksimumtemperature bo 30°C en selfs tot 40°C aangeteken.

Die versameling van hitte-eenhede gedurende ’n groeitydperk is ’n belangrike faktor in die ontwikkeling van ’n aartappelplant. Die tendens van hitte-eenhede wat vir hierdie kultivarproef beskikbaar is, blyk ietwat hoër te wees as die langtermyndatatendens van hitte-eenhede (Figuur 4).

Dit kan toegeskryf word aan die bogemiddelde warm dae tydens veral Desember en Januarie, wat meer akkumulasie van hitte-eenhede meegebring het.
Opbrengs en kultivareffek
Opbrengsdata wat tydens oesdag aangeteken word, word aan statistiese verwerking met behulp van die GenStat®-program onderwerp. Die Tukey-toets van kleinste betekenisvolle verskille (KBV) is gebruik om die gemiddeld te skei. Die kultivareffek gedurende hierdie proef (Figuur 5) was statisties beduidend (p<0.05) en die koëffisiënt van variasie was laag (9.2%). Hierdie faktore dui daarop dat die proef baie goed uitgevoer is en die resultate derhalwe betroubaar is.

Die opbrengs van elk van die kultivars word deur die proefgemiddeld gedeel, met die proefgemiddeld van al die kultivars wat as 100% geneem word. Hierdeur word ’n opbrengsindeks bepaal en word elke kultivar se prestasie in terme van opbrengs as ’n persentasie van die proefgemiddeld gelees.
Die gemiddelde opbrengs van die proef vir die 2024/25-seisoen is 102.6 t/ha, wat hoër is as die proefgemiddeld van 94.5 t/ha van die vorige vyf kultivarproewe op Petrusburg (2021 tot 2025). Goeie watergehalte kan beskou word as ’n faktor wat goeie opbrengs meebring.
Meer as helfte van die kultivars het almal statisties die hoogste opbrengs gelewer (Figuur 5). Commando, EXP B en Lilly het die hoogste bemarkingsindeks behaal; dit kan toegeskryf word aan die hoër opbrengs van goeie-gehalte aartappels van hierdie betrokke kultivars. Groottegroepverspreiding en gradering is belangrike evaluasies wanneer gekyk word na ’n kultivar se bemarkbaarheid (Figuur 6 en 7).


Die redes vir afgradering word in ag geneem wanneer aartappels geklassifiseer word (Tabel 4). Mot, rhizoctonia en vergrote lentiselle was die grootste redes vir afgradering.

Rhizoctonia steek dikwels sy kop uit as gevolg van koel, nat toestande en waar die grondwatervlakke hoog is.
Die vergrote lentiselle dui ook daarop dat die grond vir lang tydperke dalk te nat gebly het weens weerstoestande soos deurlopende, klein buie wat die grond versadig tot nat gehou het. Bruinvlek en holhart is in enkele kultivars opgemerk.
Kultivarprestasie
Soos die aard van seisoene is, wissel die prestasie van kultivars van seisoen tot seisoen, bloot omdat klimaat van een seisoen na ’n volgende nooit eenders is nie. Derhalwe is dit belangrik om konsekwente kultivarprestasie oor ’n aantal seisoene in ag te neem, pleks daarvan om op een seisoen se goeie prestasie staat te maak. Sound en Sifra toon die minste variasie in die Petrusburg-kultivarproewe vanaf 2021 tot 2025 (Figuur 8).

Laastens, wanneer gekyk word na interne gehalte van aartappels, kan prosesseringseienskappe ook geëvalueer word. Om aan prosesseringsvereistes te voldoen, moet kultivars aan ’n skyfiekleurnorm van >50 en ’n soortlike gewig (SG) van ≥1.075 voldoen (Tabel 5). Cayman en Palace het aan beide die skyfiekleur- en SG-vereistes voldoen, terwyl heelwat van die kultivars slegs aan die korrekte skyfiekleurvereiste voldoen het. – Enrike Verster, Aartappels SA, en Johan Odendal, produsent

Spesiale dank aan Lushof Boerdery, betrokke Suidwes-Vrystaat-werkgroeplede en die deelnemende saadhuise, FPD, GWK, Provision Agri, RSA en WesGrow. Vir meer inligting, stuur ’n e-pos na enrike@potatoes.co.za