Suidwes-Vrystaatse kultivarproef onder besproeiing by Petrusburg in 2025/26

Estimated reading time: 8 minutes

Die Suidwes-Vrystaatse aartappelproduksiestreek produseer sowat 1.86% van die land se kommersiële aartappels op 954 ha. Die mees prominente kultivars wat in die streek se hoofoes vir tafelverbruik en verwerking geproduseer word, is Sifra (89%), gevolg deur Mondial, Innovator en Panamera.

Petrusburg is in Suid-Afrika se droë kontinentale gebied (Figuur 1) geleë. Die plaas waarop die proef uitgevoer is, ervaar die afgelope 25 jaar ’n gemiddelde jaarlikse reënval van 565 mm, soos deur die plaaslike Landbounavorsingsraad– of LNR-weerstasie aangeteken. Hierdie streek ervaar baie warm somers en koue winters, met ryp wat vanaf Junie tot Augustus kan voorkom.

Proefontwerp en -besonderhede

Die kultivarproef by Petrusburg is in ’n ewekansige blokontwerp met drie herhalings per kultivar uitgelê. Tabel 1 bevat relevante tegniese inligting rakende die proef. Grondmonsters is voor plant geneem om die grondvoedingstatus van die proefperseel te bepaal (Tabel 2).

Die kultivarproef sluit kultivars met kort en lang groeitydperke in; derhalwe kan dit die uiteindelike opbrengs van sekere kultivars beïnvloed. Die lengte van groeitydperke is aan die aard van die seisoen onderhewig, maar word beskou as die hoeveelheid tyd wat verloop vanaf opkoms tot natuurlike loofafsterwe.

Tabel 3 sit uiteen hoe hierdie groeitydperke van kultivar tot kultivar verskil. Plantgereedheid van moere ten tyde van die plant van die proef, sowel as standpersentasie en halmtelling wat later in die groeitydperk waargeneem is, word ook in Tabel 3 aangedui.

Bemarkingsverwante resultate

Die evaluering van nuwe kultivars soos in die Petrusburg-kultivarproef bied resultate wat onder andere op opbrengs- en bemarkingsindeks betrekking het. Die bemarkingsindeks van die betrokke kultivars word bereken deur elke kultivar op grond van gehalte en groottegroepe (byvoorbeeld Klas 1 groot of Klas 2 grootmedium) te klas en sorteer. In hierdie proef word al drie herhalings bymekaar gegooi, gewas en deur die pakstoor geklas en sorteer. Prysvergelykings word dan getref met markpryse wat ten tyde van oes verkry is. Die prestasie van nuwe kultivars kan egter nie net op die resultate van een spesifieke seisoen geskoei word nie, omdat klimaat en moergehalte van een jaar na ’n volgende kan wissel. Juis daarom word die kultivars verkieslik oor ’n aantal seisoene getoets.

Klimaats- en weertoestande

Soos met enige gewas is temperatuur, beskikbaarheid van water (hetsy goeie besproeiingskedulering of reënval), asook hitte-eenhede belangrike faktore wat ’n wesenlike invloed gedurende die aartappelplant se groeitydperk het. Hierdie faktore word dus in aanmerking geneem wanneer die prestasie van kultivars geëvalueer word.

Toepaslike daaglikse weerdata van die betrokke seisoen word verkry vanaf ’n Hortec-weerstasie wat op die plaas waar die proefperseel geleë is, geïnstalleer is. Langtermyn data word egter steeds vanaf ’n LNR-stasie verkry, aangesien die Hortec-weerstasie op die proefperseel nog nie lank genoeg funksioneer om langtermyn data te verskaf nie. Die LNR-weerstasie waarvan die langtermyn data verkry is, is 9 km vanaf die proefperseel geleë.

Die reënvaltendens vir die 2025/26-seisoen (Figuur 2) dui op kumulatief hoër reënval vanaf die middel tot laat in die seisoen as die langtermyn gemiddeld. Die na-oes gehalte-evaluasies toon duidelik dat nat en warm toestande uitdagings gebied het. Wanneer die daaglikse reënvaldata in ag geneem word, is dit duidelik dat nat toestande in die middel tot laat in die groeitydperk ’n wesenlike invloed op gehalte en spesifieke siektedruk gehad het.

Minimum- en maksimumtemperature word in Figuur 3 uiteengesit. Die laaste sarsie ryp is op 18 September aangeteken, sowat ’n maand na plant. Op plantdag is temperature van minder as 0°C aangeteken. Aan die einde van November sowel as bykans die hele Desember en Januarie tot en met oesdag, is talle agtereenvolgende dae met maksimumtemperature bo 30°C en selfs 35°C aangeteken.

Die versameling van hitte-eenhede gedurende ’n groeitydperk is ’n belangrike faktor in die ontwikkeling van ’n aartappelplant. Die tendens van hitte-eenhede wat vir hierdie kultivarproef beskikbaar is, blyk ietwat hoër te wees as die langtermyn datatendens van hitte-eenhede (Figuur 4).

Dit kan toegeskryf word aan die bogemiddelde warm dae, veral tydens Desember en Januarie, wat meer akkumulasie van hitte-eenhede meegebring het.

Opbrengs en kultivareffek

Opbrengsdata wat tydens oesdag aangeteken word, word aan statistiese verwerking met behulp van die GenStat®-program onderwerp. Die Tukey-toets van kleinste betekenisvolle verskille (KBV) is gebruik om die gemiddeld te skei. Die kultivareffek gedurende hierdie proef (Figuur 5) was statisties beduidend (p<0.05) en die koëffisiënt van variasie was laag (12.1%). Hierdie faktore dui daarop dat die proef baie goed uitgevoer is en die resultate dus betroubaar is.

Die opbrengs van elk van die kultivars word deur die proefgemiddeld gedeel, met die proefgemiddeld van al die kultivars wat as 100% geneem word. Hierdeur word ’n opbrengsindeks bepaal en word elke kultivar se prestasie in terme van opbrengs as ’n persentasie van die proefgemiddelde gelees.

Die gemiddelde opbrengs van die proef vir die 2025/26-seisoen is 96.8 t/ha, wat ooreenstem met die proefgemiddelde van 95 t/ha van die vorige vyf kultivarproewe by Petrusburg (2022 tot 2026). Goeie besproeiingskedulering en watergehalte kan gereken word onder die faktore wat goeie opbrengs meebring.

Meer as die helfte van die kultivars het almal statisties die hoogste opbrengs gelewer (Figuur 5). Sifra, Buffalo en Sound het die hoogste bemarkingsindeks behaal; dit kan toegeskryf word aan die hoër opbrengs van goeie-gehalte aartappels van dié betrokke kultivars.

Groottegroepverspreiding en gradering is belangrike evaluasies wanneer die bemarkbaarheid van ’n kultivar oorweeg word (Figuur 6 en 7).

Die redes vir afgradering word in ag geneem wanneer aartappels geklassifiseer word (Tabel 4). Die grootste redes vir afgradering was sagtevrot, mot en ander insekte. Sagtevrot steek dikwels sy kop tydens gunstige (warm en nat) toestande uit. Bruinvlek en holhart is in enkele kultivars waargeneem.

Kultivarprestasie

Soos die aard van seisoene is, wissel die prestasie van kultivars van seisoen tot seisoen. Dit is bloot omdat die klimaat van een seisoen tot ’n volgende nooit eenders is nie. Daarom is dit belangrik om konsekwente kultivarprestasie oor ’n aantal seisoene in ag te neem, pleks daarvan om besluite op een seisoen se goeie prestasie te skoei. Sound en Sifra toon tans die minste variasie in die Petrusburg-kultivarproewe vanaf 2022 tot 2026 (Figuur 8).

Laastens, wanneer gekyk word na die interne gehalte van aartappels, kan prosesseringseienskappe ook geëvalueer word. Om aan prosesseringsvereistes te voldoen, moet kultivars aan ’n skyfiekleurnorm van >50 en ’n soortlike gewig (SG) van ≥1.075 voldoen (Tabel 5). Slegs Lanorma het aan beide die skyfiekleur- en SG-vereistes voldoen, terwyl heelwat van die kultivars slegs aan die korrekte skyfiekleurvereiste voldoen het.

Spesiale dank aan Lushof Boerdery, betrokke Suidwes-Vrystaat-werkgroeplede en die deelnemende saadhuise, FPD, GWK, RSA en WesGrow. – Enrike Verster, Aartappels SA, en Johan Odendal, produsent

Vir meer inligting, stuur ’n e-pos na enrike@potatoes.co.za