Wes-Vrystaat kultivarproef onder droëlandtoestande op Kroonstad in 2024

Estimated reading time: 8 minutes

Die Wes-Vrystaat is ’n groot aartappelproduksiestreek met 38 produsente wat in die 2024-oesjaar aartappels op ongeveer 6 871 ha (15.1% van die land se aartappels) geproduseer het. Die mees prominente kultivars wat geproduseer word, is Mondial (32%), Sifra (28%) en Panamera (20%). Ongeveer 91% van aartappelproduksie in hierdie streek is onder besproeiing.

Kroonstad is in Suid-Afrika se somerreënvalgebied geleë. Die streek se matige klimaat sluit baie warm somers (warmste in Desember/Januarie) tot koue winters in, met ryp wat vanaf April kan voorkom.

Die proef by Kroonstad is in sandleemgrond uitgevoer en die proef is in ’n ewekansige blokontwerp met drie herhalings per kultivar uitgelê. Tabel 1 verskaf bykomende tegniese inligting rakende die proef.

Invloed van groeitydperke

Ingesluit in die kultivarproef is kultivars met kort en lang groeitydperke; derhalwe kan groeitydperke die uiteindelike opbrengs van sekere kultivars beïnvloed. Die lengte van groeitydperke is onderhewig aan die aard van die seisoen, maar word normaalweg beskou as die hoeveelheid tyd wat verloop vanaf opkoms tot natuurlike loofafsterwe. Tabel 2 sit uiteen hoe groeitydperke van kultivar tot kultivar verskil.

Omgewingsfaktore en bestuurspraktyke beïnvloed ook die verskillende groeifases en wanneer dit ‘n aanvang neem. Die ideale praktyk sou wees om kultivars te oes wanneer hulle oesgereed is, maar dit is nie prakties wanneer die proef op ’n kommersiële plaas gedoen word nie.

Die stand en aantal halms per moer beïnvloed knolgrootte en opbrengs.

Die aantal ogies per knol is kultivarafhanklik en bepaal die hoeveelheid spruite wat per knol voortgebring word. In hierdie opsig is die plantgereedheid van moere baie belangrik, aangesien ideale plantgereedheid gewoonlik veroorsaak dat moere beter spruit en meer stamme per spruit voortbring. Plantgereedheid van moere ten tyde van die plant van die proef, sowel as standpersentasie en halmtelling wat later in die groeitydperk waargeneem is, word in Tabel 2 aangedui.

Kultivarprestasie

Die evaluering van nuwe kultivars soos in die Kroonstad-kultivarproef verskaf resultate rakende, onder andere, opbrengs en bemarkingsindeks. Die bemarkingsindeks van die betrokke kultivars word bereken deur elke kultivar volgens gehalte en groottegroepe (byvoorbeeld Klas 1 Groot of Klas 2 Groot medium) te klas en sorteer.

Dienooreenkomstige prysvergelykings word dan gemaak met markpryse soos verkry ten tyde van oes. Die prestasie van nuwe kultivars kan nie net op die resultate van een bepaalde seisoen geskoei word nie, omdat klimaat van een jaar na ’n volgende kan wissel. Juis daarom word die kultivars verkieslik oor ’n aantal seisoene getoets.

Reënval- en klimaattendense

Soos met enige gewas is temperatuur, waterbeskikbaarheid (hetsy goeie besproeiingskedulering of reënval), sowel as hitte-eenhede belangrike faktore wat ’n wesenlike invloed gedurende die aartappelplant se groeitydperk het. Hierdie faktore word dus in aanmerking geneem wanneer die prestasie van kultivars geëvalueer word. Toepaslike daaglikse en langtermynweerdata word vanaf ’n Hortec-weerstasie naby aan die proefperseel, sowel as ‘n gekose Landbounavorsingsraad (LNR)-weerstasie wat so naby as moontlik aan die proefperseel geleë is, verkry.

Die reënvaltendens vir die 2024-seisoen toon ’n reënvalsyfer wat wesenlik laer as die normale langtermyngemiddeld is. Vir ‘n droëlandproef soos hierdie was die lae reënval wat deur die grootste gedeelte van die groeiseisoen voortgeduur het, katastrofies ten opsigte van opbrengs. Alle reënval tot einde Maart was oor die algemeen baie min en geïsoleerd, wat die doeltreffende verskil wat die reën in die gewas kon maak, beperk het. Nader aan die einde van die groeiseisoen het April buitengewoon hoë reënval ervaar, maar die aangetekende 147 mm vir die maand is alles binne die bestek van ‘n paar dae aan die begin van die maand ontvang (Figuur 2).

Invloed van hitte en temperatuur

Minimum- en maksimumtemperature word in Figuur 3 uiteengesit. Deur die winter, vanaf begin Junie tot middel Augustus, is dae met temperature onder vriespunt aangeteken. Maksimumtemperature bo die langtermyngemiddelde temperature is deur die seisoen ervaar, met enkele dae waartydens temperature bo 35°C aangeteken is.

Die versameling van hitte-eenhede gedurende ’n groeitydperk is ’n belangrike faktor in die ontwikkeling van ’n plant. Die tendens van hitte-eenhede beskikbaar vir die kultivarproef van hierdie betrokke seisoen, blyk aansienlik hoër as die tendens van langtermyndata van hitte-eenhede te wees (Figuur 4). Dit is te verstane gegewe die seisoen se voortslepende droë en warm toestande.

Opbrengste

Opbrengsdata wat tydens oesdag versamel is, word onderwerp aan statistiese verwerking met behulp van die GenStat®-program. Die Tukey-toets van kleinste betekenisvolle verskille (KBV’s) is gebruik om die gemiddelde te skei. Die kultivareffek gedurende hierdie betrokke proef (Figuur 5) was statisties beduidend (p<0.05), maar die koëffisiënt van variasie was hoog (25.8%); ‘n tipies aanvaarbare afsnypunt vir veldproewe is 25%.

Hierdie hoë KV-waarde dui op talle uitdagings wat die seisoen gebied het en dus tot groot variasie in die opbrengste van die verskillende kultivars gelei het. Die resultate kan dus nie noodwendig as baie betroubaar beskou word nie. Die opbrengs van elk van die kultivars word deur die proefgemiddeld gedeel en die proefgemiddeld van al die kultivars word as 100% geneem. Hierdeur word ’n opbrengsindeks bepaal en word elke kultivar se prestasie in terme van opbrengs, as ’n persentasie van die proefgemiddeld gelees.

Die gemiddelde opbrengs van die proef vir die 2024-seisoen is 14.66 t/ha, wat baie laer is as die proefgemiddeld van 34.3 t/ha wat tussen 2018 en 2023 aangeteken is. Opkoms en stand was ‘n groot probleem by heelwat van die kultivars, wat te verstane is in die droë en warm toestande in die maand ná plant. Lady Luce en Palace het die hoogste opbrengs gelewer (Figuur 5).

Lady Luce en Palace het die hoogste opbrengs gelewer terwyl Lady Luce, Palace en Prince die hoogste bemarkingsindekse in die Kroonstad-proef behaal het.

Lady Luce, Palace en Prince het die hoogste bemarkingsindekse behaal; dit kan toegeskryf word aan ’n goeie opbrengs van Groot sowel as Klas 1-knolle. Groottegroepverspreiding en gradering is die evaluasies wat uitgevoer word om die kultivars se bemarkbaarheid te bepaal (Figuur 6 en 7).

Soos die aard van seisoene is, fluktueer die prestasie van kultivars van seisoen tot seisoen – bloot omdat klimaat van een seisoen na ’n volgende nooit eenders is nie. Derhalwe is dit belangrik om konsekwente prestasie van kultivars oor ’n aantal seisoene in ag te neem. Mondial toon tans die minste variasie vir die Kroonstad-proef van 2018 tot 2024 (Figuur 8).

Laastens, wanneer gekyk word na die interne gehalte van aartappels, kan prosesseringseienskappe ook geëvalueer word. Om te voldoen aan prosesseringsvereistes moet kultivars aan ’n skyfiekleurnorm van >50 en ’n soortlike gewig (SG) van ≥1.075 voldoen (Tabel 3). Agt uit 14 van die kultivars het volgens die analise aan beide die SG- en skyfiekleurvereistes voldoen. – Enrike Verster, Aartappels SA

Spesiale dank aan die betrokke boerdery en medewerkers, sowel as die proefdeelnemers en die Wes-Vrystaat Werkgroep. Vir meer inligting, stuur ‘n e-pos aan enrike@potatoes.co.za.