2025 Groentoer fokus op chemie en biologie

Estimated reading time: 5 minutes

Die doelwit van die Aartappel Groentoer wat jaarliks deur die Oos-Vrystaat Aartappelwerkgroep in samewerking met Aartappels SA aangebied word, is om produsente in die streek in te lig oor nuwe verwikkelinge in die bedryf. Verskillende proewe word jaarliks gedoen, en die uitslae van hierdie proewe word dan aan die produsente oorgedra.

Terugvoer oor proewe

Van die proewe wat gedoen word, volgens Cliffie Egberink, voorsitter van die Oos-Vrystaat Aartappelwerkgroep, sluit in kultivarproewe, plantdigtheid, en die effek van verskillende chemiese middels op opbrengs en gehalte. “Die dag bied dus aan produsente en insetverskaffers die geleentheid om skouer te skuur en die nuutste inligting te deel. Vanjaar was die fokus meer op grondchemie en -biologie, aangesien verskeie insetverskaffers resultate in dié verband gehad het om met produsente te deel.”

Die maatskappy, Asearch Agri-Tech, doen verskeie proewe vir die bedryf. Verskeie chemiese verskaffers maak van hulle gebruik vir proewe op hul proefplaas net buite Bethlehem. Asearch beskik oor die infrastruktuur en kundigheid om hierdie proewe betroubaar te doen en daarom was dié proefplaas ideaal vir so ‘n boeredag.

“Die Oos-Vrystaat,” sê Egberink, “is in ‘n baie goeie posisie wat aartappelproduksie betref. Ons is die tweede grootste produksiegebied in die land. Ons voorsien die mark ongeveer vanaf Januarie tot Julie/Augustus.”

Cliffie Egberink, voorsitter van die Oos-Vrystaat Aartappelwerkgroep, prof Johan Willemse, Santa Bronkhorst, streeksverteenwoordiger van Aartappels SA, Attie van den Berg van GWK, en Dawie Schoeman van Vrystaat Agri.

Fokus op die jeug

Een van die unieke aspekte van die Groentoer is die spesiale aandag wat aan die jeug gegee word. Vanjaar het sowat 50 leerders van omliggende hoërskole – Reitz, Witteberg en Voortrekker op Bethlehem – die dag bygewoon. Gert Bester, ‘n produsent van Petrus Steyn, het hulle onder sy vlerk geneem en oor die tegniese aspekte van aartappelverbouing ingelig. Grondgehalte, kultivars, grondchemie en -biologie is alles uiters belangrike faktore wat opbrengs bepaal en wat met die leerders bespreek is.

Nadat besoekers ruim geleentheid gehad het om met insetverskaffers by hul uitstallings te gesels (daar was onder meer ‘n demonstrasie van ‘n hommeltuig wat voedingstowwe of chemikalieë op ‘n aartappelland kan toedien), het die verrigtinge na die Lavender Hill-konferensiesentrum verskuif. Daar het die gasspreker vir die dag, die bekende landbouekonoom, prof Johan Willemse, ‘n oorsig gegee van die ekonomiese faktore wat tans ‘n invloed op die landbousektor, en spesifiek die aartappelbedryf, het.

Dié hommeltuig is toegerus met ‘n tenk waarmee chemikalieë of voedingstowwe toegedien kan word.

Ekonomiese oorsig

Die ekonomie, het hy gesê, is stadig aan die omdraai, maar die Trumpfaktor moet nie buite rekening gelaat word nie. “Dit is stadigaan besig om beter te gaan in die ekonomie.

Ons sien dit in verbruikersbesteding wat begin verbeter, en ons sien dit ook in verwagte laer rentekoerse.

Dit is alles goed vir produsente – as die verbruiker meer geld in sy sak het, kan hy meer aan voedselprodukte bestee.”

‘n Tweede faktor wat ‘n invloed op die bedryf het, het hy verder gesê, is graanpryse wat besig is om te daal.

Dit is goed vir die rooivleisbedryf omdat voerkoste goedkoper raak.

Wat die aartappelbedryf self betref, het hy daarop gewys dat pryse gedaal het. “Produsente moet egter verstaan hoe siklusse in die landbou werk. Daar is goeie jare wanneer hulle reserwes moet skep om voorsiening te maak vir die swakker jare. Dit is ‘n integrale deel van die landboubedryf.”

Prof Willemse het baie klem gelê op deeglike kontantvloeibeplanning vir ‘n tydperk van twee tot drie jaar. “Finansiële instellings stel nie in balansstate belang nie; hulle vereis kontantvloei-beplanningstate. Vir goeie beplanning is ‘n kontantvloeistaat ‘n uiters noodsaaklike instrument.”

Verskillende insetverskaffers het stalletjies langs die proefpersele opgestel waar produsente geleentheid gehad het om in-diepte gesprekke met kundiges te voer.

Die wêreldmark en politiek

Wat produsente ook moet besef, het hy verder beklemtoon, is dat Suid-Afrikaanse produsente op die wêreldmark moet kompeteer. Daarvoor is moderne tegnologie nodig.

‘n Belegging in tegnologie is dus noodsaaklik. Hiermee saam moet produsente ‘n gestruktureerde plan hê waarvolgens tegnologie vervang en opgegradeer word.

“Die geopolitieke situasie,” het hy gesê, “is buite die beheer van gewone mense in Suid-Afrika. Tog spandeer ons ‘n baie groot deel van ons tyd en energie om daaroor te spekuleer en op grond van die negatiewe emosies wat dit opwek, besluite te neem. Dit is teenproduktief. Natuurlik moet ons al hierdie negatiewe faktore in berekening bring, maar jy moet streng op jou eie besigheid se verbetering fokus en meer doeltreffend produseer. Daar is ‘n vraag na ons produkte in Suid-Afrika en omliggende streke.”

Hoewel boerdery nie ‘n maklike bedryf is nie, is dit een van die min bedrywe wat ‘n bewese mark het.

“Ons uitdaging is om produkte te produseer teen ‘n prys wat die verbruiker kan bekostig. Natuurlik bevoordeel dit ons as die verbruiker meer geld in die sak het, maar ons moet verstaan en aanvaar dat dit ‘n sikliese bedryf is.”

Beplanning is die sleutel

In ‘n kort boodskap aan die teenwoordiges by die dag, het die hoof uitvoerende beampte van Aartappels SA, Willie Jacobs, produsente daarop gewys dat die bedryf die vermoë het om 400 000 sakkies aartappels per dag op die markte te verkoop. Produsente moet dus hierdie syfer fyn dophou in hul bemarkingsbeplanning, sodat hulle nie die mark oorvoorsien nie. – Izak Hofmeyr, Plaas Media

Vir meer inligting oor die Groentoer, stuur ‘n epos na Santa Bronkhorst by santa@potatoes.co.za.

Posted in ,