Estimated reading time: 8 minutes
Bobaas aartappelprodusent, Gerhard Bruwer, en sy gesin volg ‘n leefwyse van dankbaarheid vir die ruim genade wat hulle van Bo ontvang. Dis hier, op Genade Boerdery, in die Douglasen Hopetown-omgewing waar ‘genade’ nie net in die boerdery se logo teenwoordig is nie; dit is waar pa, Vickie, en sy drie seuns, Gerhard, Hannes en Vickie jnr, hul dankbaarheid uitleef. Dit is ook hul missie om elke werker en elke geleentheid wat oor hul pad kom, volkome te ontwikkel. Vir dié gesin gaan ’n gehaltelewe nie oor mooi huise of vinnige motors nie, maar eerder oor hul werkers en die uitstekende produk wat die boerdery lewer.

Gerhard vertel dat hulle 12 gewasse produseer waarvan aartappels maar een is. Hy het sowat 20 jaar gelede die bul by die horings gepak en aanvanklik slegs 60 ha aartappels geplant, maar vandag verbou hulle aartappels op 260 ha. “Ek was op daardie stadium nog vol vuur en lus vir avontuur, en wou eintlik in Mosambiek gaan boer.
Dit het opwindend geklink, maar my pa was nie baie geneë nie. Hy sê toe ek moet rondry en ’n plaas met hoë bome gaan soek. Dit het eintlik beteken dat ons na rooigrond moet soek, want hoë bome dui op goeie en diep grond.”
Hy het ’n paar bloutjies geloop terwyl hy ’n geskikte plaas gesoek het, maar op ’n dag het ’n eiendomsagent hom laat weet van ’n stuk land en Gerhard kon die knoop deurhak – dit was die begin van sy suksesvolle aartappelboerdery. Nadat hy, sy pa en sy drie broers sorgvuldig impakstudies gedoen het, het hulle die bal aan die rol gesit en nuwe gronde vir saadaartappelaanplantings ontwikkel.

‘n Langtermyn benadering
Gerhard vertel dat hulle deeglik voorbereid is op enige scenario en ’n 30-jaar plan in werking gestel het wat die boerderymetodes op die plaas betref. Nog ‘n aspek is dat hulle byvoorbeeld jaarliks nuwe grond gaan gebruik om nuwe aartappellande onder besproeiing aan te lê.
“Die geheim van aartappelmoere is juis dat jy elke seisoen nuwe grond kan gebruik omdat die grond nog gesond is. Ons het baie grond wat nog nie gebruik is nie en ons plan is om die eerste jaar aartappels te plant, daarna mielies en koring, en daarna sal ons weer gras op die grond vestig om met beeste te boer. Jy kan eers ná sewe jaar weer daardie grond gebruik om aartappels te plant. Jy het nie eintlik ’n keuse as om genoeg nuwe grond tot jou beskikking te hê as jy aartappelmoere wil plant nie.”
Bestuur van risiko’s
Gerhard sê sy aartappelproduksie bestaan uit een derde moere, een derde aartappels wat na die varsproduktemark gaan, en die ander derde wat vir verwerking gebruik word. Die moere word aan GWK gelewer, maar hy beding ’n seisoenprys met die verwerkers terwyl die aartappels wat na die varsproduktemark gaan, onderworpe is aan die vryemarkstelsel waar die vraag-en-aanbodbeginsel geld. Op dié manier versprei hy sy risiko.
Gerhard glo die hele boerdery gaan eintlik oor risikobestuur. Hy sal byvoorbeeld nie grondboontjies in die aartappelgrond plant nie, omdat dit gewassiektes kan meebring. “Jy sal nou wonder waarom plant ek mielies ná aartappels?
“Ek spuit die opslag van die aartappels wat tussen die mielies opkom morsdood, want dit veroorsaak virusse wat die plaas kan besmet. Die mielies kom niks oor nie en so maak ek daardie grond skoon. Dit gaan oor die bewaring van grond, want die rooigrond waai weg as ek dit nie bewaar nie. Daarom plant ek op die ou einde weer gras om die grond te bewaar en te laat rus, sodat ek dit ná sewe jaar weer kan gebruik.”
Die gras wat hy op die ou aartappellande vestig se drakrag is baie hoër en hy hou tans 50% meer beeste op die aangeplante weiding aan.
Nog ’n risikofaktor wat hy bestuur, is weersomstandighede – aangesien die Noord-Kaap baie warm raak, plant hy sy aartappels elke jaar van 20 November tot 20 Desember. “Ek plant een blok en dan eers weer ’n week later die volgende. Veronderstel dit raak so warm dat die aartappels vrot, dan kan die een blok skade ly, maar die ander wat later geplant is, sal oorleef. Jy moet die risiko’s wat jy nie kan verander nie beter bestuur.”
Dieselfde geld vir oorstromings. Hul grond lê teen drie riviere en sou een rivier in vloed kom, is daar steeds twee ander gebiede wat kan produseer. “Dit is een ding van Genade Boerdery. Ons beplan om ’n tafel hoe ons alle moontlike risiko’s na die beste van ons vermoë kan bestuur.”
Klippe kou én menslikheid
Aartappelboerdery is vir seker nie net maanskyn en rose nie, en daar is heelwat uitdagings wat Gerhard moet trotseer, waarvan Eskom vir hom die grootste is. “Eskom behoort te besef watter belangrike rol hulle in voedselsekerheid speel,” sê hy. Ander uitdagings is om die lande en die aartappels virusvry te hou. Daarom is goeie beplanning en voorkomende optrede uiters belangrik om virusse, die nommer-een vyand in die bedryf, te beheer.
Dit is ook ’n uitdaging om goeie gehalte moere te kweek en gebruik. “As ek nie goeie gehalte en laegenerasie moere plant nie, skep ek vir myself net verdere risiko’s,” sê hy. Een van die uitdagings wat Gerhard suksesvol oorbrug het, is die welstand van sy werkers. Oestyd op die plaas is arbeidsintensief, met sowat 200 ton aartappels wat daagliks verskuif word. Daarom moet almal in die arbeidsketting hul sout werd wees.
Gerhard glo vas in die beginsel van gee en neem. Sy werkers word aangespoor met onder meer maandelikse en jaarlikse bonusse, wat hulle aanmoedig om meer produktief te wees.
Hy beywer hom egter ook om hulle op te hef en te ontwikkel. Die families op sy plaas is vir hom belangrik en hy het ’n kleuterskool op die plaas begin vir die plaaswerkers se kinders.
Die skooltjie word deur ’n opgeleide onderwyser bestuur. Sy standpunt is dat as jy die families gelukkig hou, sy werkers ook gelukkig sal wees. “As jy hulle menswaardigheid in stand hou, lewer dit wonderlike dividende op ten opsigte van werkverrigting.”

Net die beste tegnologie
Gerhard glo dat landbouers gebruik moet maak van innovasie en tegnologiese aanpassings; ou landboumetodes is iets van die verlede.
Produsente wat nie kan aanpas by moderne metodes nie, glo hy, sal binne ’n kwessie van tyd hul boerderye moet prysgee. Selfs op die lande gebruik Gerhard en sy span ’n globale posisioneringstelsel. Hul dieselverbruik het aansienlik afgeneem.
In sy moderne store is dit duidelik dat hy aangepas het by die nuutste tegnologie. Boonop het Hannes met ’n vindingryke aanleg vorendag gekom waar hulle gehalte tegnologie gebruik om die aartappels so vinnig en akkuraat as moontlik uit te sorteer en te pak.
“Ons moet veral akkuraat werk met die aartappels wat na die varsproduktemark moet gaan. Ek het byvoorbeeld skale wat die sakkies weeg – ’n sakkie mag nie meer as 10,2 kg of minder as 9,8 kg aartappels bevat nie. As die sakkies te swaar is, verloor jy inkomste. Om tyd te spaar, het ek masjiene wat die sakkies toewerk en ons gebruik ook kleurkodes wat aandui watter grootte aartappels in die sakkie is. Dit help die verbruiker om te weet wat hy koop wanneer hy vir ons aartappels betaal,” sê hy.

‘n Toekoms vol genade
Gerhard het groot vertroue in die toekoms van die aartappelbedryf en meen daar is beslis ’n oplewing in die verbruik van aartappels. Waar Suid-Afrikaners in die verlede vleis as hul hoofbron van proteïen beskou het, word al hoe meer gekyk na aartappels as ’n goeie en voedsame bron van kos.

Aartappelprodusente word minder, ja, maar diegene wat vasbyt, boer groter en meer doeltreffend. Gerhard glo dat die bedryf ‘n stewige posisie in die voedselmark het en dat verbruikers aartappels altyd as ’n gewilde en gesogte voedselsoort sal beskou. – Koos du Pisanie, Plaas Media
Vir meer inligting, skakel Gerhard Bruwer by 082 878 5422.