Estimated reading time: 8 minutes
Die Wes-Vrystaatse aartappelproduksiestreek het 38 produsente wat sowat 51.1% van die land se kommersiële aartappels op ongeveer 6 871 ha produseer. Die mees prominente kultivars, waarvan ongeveer 91% onder besproeiing is en in die 2024-oesjaar vir kommersiële verbruik (tafel en verwerking) geproduseer word, is Mondial (32%), Sifra (28%) en Panamera (20%).
Bultfontein is in Suid-Afrika se somerreënvalgebied geleë en die plaas waarop die proef geplant is, ontvang die afgelope 23 jaar ’n gemiddelde jaarlikse reënval van ongeveer 580 mm. Hierdie streek het ’n matige klimaat en word gekenmerk deur baie warm somers (warmste in Desember/Januarie) en koue winters, met ryp wat vanaf April tot Augustus kan voorkom.

Proefontwerp
Die kultivarproef op Bultfontein is in sandleemgrond uitgelê, in ’n ewekansige blokontwerp met drie herhalings per kultivar. Tabel 1 bevat relevante tegniese inligting rakende die proef. Kultivars met kort tot lang groeitydperke is in die proef ingesluit en gevolglik kan groeitydperke die uiteindelike opbrengs van sekere kultivars beïnvloed. Die duur van die groeitydperke hang van ’n spesifieke seisoen af, maar dit word beskou as die hoeveelheid tyd wat verloop vanaf opkoms tot natuurlike loofafsterwe.

Tabel 2 sit uiteen hoe die groeitydperke van kultivar tot kultivar verskil.
Omgewingsfaktore en bestuurspraktyke beïnvloed ook die verskillende groeifases wanneer dit ’n aanvang neem. Stand en aantal halms per moer beïnvloed knolgrootte en opbrengs. Die aantal ogies per knol is kultivarafhanklik en bepaal hoeveel spruite per knol voortgebring kan word.
Die plantgereedheid van moere is baie belangrik, aangesien moere wat plantgereed is gewoonlik beter spruit en, per kultivar, die ideale hoeveelheid stamme per spruit voortbring as knolle wat nog nie plantgereed is nie.
Moere wat te oud is, maak baie stingels en vorm klein knolle. Die plantgereedheid van moere gedurende die plant van die proef, sowel as standpersentasie en halmtelling wat later in die groeitydperk waargeneem is, word in Tabel 2 aangedui.

Verteenwoordigende grondmonsters is voor plant geneem om die grondvoedingstatus van die proefperseel te bepaal (Tabel 3).

Die evaluering van kultivars soos in die Bultfontein-kultivarproef verskaf onder meer resultate ten opsigte van opbrengs- en bemarkingsindekse. Die doel van die proef is om die betrokke kultivars se werking binne die streek te toets. Daarom is dit baie belangrik om daarop te let dat die kultivars nie noodwendig teen mekaar gemeet moet word nie, maar eerder teenoor die kontrole of plaasstandaardprogram.
Kultivarprestasie
Die bemarkingsindeks van die betrokke kultivars word bereken deur elke kultivar volgens gehalte en groottegroepe te klas en sorteer op grond van gehalte en groottegroepe (soos Klas 1 groot of Klas 2 groot medium). In hierdie proef is al drie herhalings bymekaargegooi, gewas en deur die pakstoor geklas en sorteer.
Dienooreenkomstige prysvergelykings word dan gemaak met markpryse soos ten tyde van oes verkry.
Die prestasie van nuwe kultivars kan nie net op die resultate van een spesifieke seisoen geskoei word nie, omdat klimaat en moergehalte van een jaar na ’n volgende wissel. Daarom word die kultivars as ’n reël verkieslik oor ’n aantal seisoene getoets.
Soos met enige gewas is temperatuur, waterbeskikbaarheid (hetsy goeie besproeiingskedulering of reënval) asook hitte-eenhede belangrike faktore wat ’n wesenlike invloed gedurende die aartappelplant se groeitydperk uitoefen. Hierdie faktore word dus in aanmerking geneem wanneer die prestasie van ‘n kultivar geëvalueer word.

Seisoenale aspekte
Toepaslike weerdata van die betrokke seisoene tydens hierdie proef word vanaf ‘n nabygeleë Landbounavorsingsraad (LNR)-weerstasie verkry. Figuur 2 toon die reënvaltendense van die 2024-seisoen. In die seisoen is ondergemiddelde reënval ervaar. Gedurende April – nader aan die einde van die groeitydperk – is bogemiddelde reënval egter ontvang.

Minimum- en maksimumtemperature word in Figuur 3 uiteengesit.

Groot fluktuasies is deurentyd in veral maksimumtemperature aangeteken. ‘n Hele paar dae met temperature tussen 30 en 35°C is in die eerste twee maande ná plant aangeteken. Temperature onder vriespunt het in 2024 eers in Junie begin, en daarmee saam natuurlike loofafsterwe.
Die versameling van hitte-eenhede gedurende ’n groeitydperk is ’n belangrike faktor in die ontwikkeling van ’n plant. Die tendens van hitteeenhede beskikbaar vir die kultivarproef van die betrokke seisoen, blyk heelwat bo die tendens van langtermyndata te wees vir die seisoen as geheel (Figuur 4). Dit is waarskynlik aan die minder reën, en dus min oortrokke en heelwat warm dae, toe te skryf.

Betroubaarheid van proef
Opbrengsdata versamel tydens oesdag word onderwerp aan statistiese verwerking met behulp van die GenStat®-program. Die Tukey-toets van kleinste betekenisvolle verskille (KBV) is gebruik om die gemiddelde te skei. Die kultivareffek gedurende die betrokke proef (Figuur 5) was statisties beduidend (p<0.05) en die koëffisiënt van variasie was laag (11.8%).

Hierdie faktore dui daarop dat die proef goed uitgevoer is en die resultate is derhalwe betroubaar. Die opbrengs van elke kultivar word deur die proefgemiddeld gedeel met die proefgemiddeld van al die kultivars wat as 100% geneem word. Hierdeur word ’n opbrengsindeks geskep en word elke kultivar se prestasie in terme van opbrengs, as ’n persentasie van die proefgemiddeld gelees.
Oprengs en invloede
Die gemiddelde opbrengs van die proef vir die 2024-seisoen was 50.68 t/ha wat vergelykbaar is met die afgelope vyf seisoene se gemiddelde opbrengs van 50.3 t/ha.
Die kultivar, Lilly, het statisties die hoogste opbrengste gelewer. Lilly, Palace en Sound het die hoogste bemarkingsindeks behaal en dit kan toegeskryf word aan ‘n baie goeie opbrengs in Groot en Klas 1-knolle (Figuur 5, 6 en 7).


Groottegroepverspreiding en gradering is onontbeerlike evaluasies wanneer daar gekyk word na ’n kultivar se bemarkbaarheid. Die hoofredes vir die afgradering van elke kultivar (Tabel 4) asook interne gehalte, is alles belangrike faktore en moet dus ook geëvalueer word.

Motskade, silwerskurf, swartspikkel en relatiewe lae soortlike gewig (SG) soos aangeteken in hierdie proef, is probleme wat kan intree wanneer knolle lank onder die grond lê voor uithaal. Volgens die beskikbare weerdata, is meer hitte-eenhede oor die wintermaande aangeteken as die langtermyngemiddeld. Dit het moontlik gunstige toestande vir die motlewensiklus tot gevolg gehad, wat bygedra het tot hoër motdruk op die aartappels wat onder die grond gelê het.

Die prestasie van kultivars wissel van seisoen tot seisoen. Dit is omdat die klimaat van een seisoen na ’n volgende nooit eenders is nie. Derhalwe is dit belangrik om konsekwente prestasie van kultivars oor ’n aantal seisoene in ag te neem. Van die kultivars in die proef ingeskryf, toon Sound tans die minste variasie vir die Bultfontein-area oor die laaste drie seisoene (Figuur 9).

Laastens, wanneer gekyk word na die interne gehalte van aartappels, kan kook- en prosesseringseienskappe ook geëvalueer word. Kultivars moet aan ‘n skyfiekleurvorm van <50 en ‘n soortlike gewig (SG) van ≥1.075 voldoen. Al die kultivars het voldoen aan die voorgeskrewe skyfiekleur, maar slegs Lady Forte, Palace en Prince het ook aan die voorgeskrewe SG voldoen (Tabel 5). – Enrike Verster, Aartappels SA, en Izak Cronjé, produsent

Spesiale dank aan die betrokke boerdery en medewerker, sowel as die proefdeelnemers en Wes-Vrystaat werkgroep. Vir meer inligting, stuur ‘n e-pos na enrike@potatoes.co.za of laryssa@potatoes.co.za.