Staatmaker hou die finansiële vlot vir drie dekades op koers
Estimated reading time: 6 minutes
Soos ‘n gesoute, wyse olifantbul het Hein Oberholzer, hoof finansiële bestuurder, die institusionele geheue van Aartappels SA met hom saamgedra. Sy nalatenskap is ‘n finansiële vlot wat te midde van troebel waters, ná 30 jaar se diens, steeds op koers is.
Hoewel hy in Augustus 2025 afgetree het, is dit ‘n voorreg om ‘n persoon met sy omvangryke kennis en insig in die finansiële welsyn van die organisasie in die afsienbare toekoms steeds in ‘n spesialiskonsultanthoedanigheid betrokke te hê.
Hein se Aartappels SA pad
Hein het op 1 November 1995 by die organisasie aangesluit, toe dit destyds nog as die Aartappelprodusenteorganisasie (APO) bekendgestaan het. Die naam is later vrywillig na Aartappels SA verander, nadat aansoek gedoen is om ‘n statutêre heffing.
Die eerste aansoek op 10 September 2004 was geslaagd. Dit was ook nie vir ‘n volle vier-jaar tydperk nie, maar vir twee jaar en tien maande.
Een van die vereistes van die Nasionale Landboubemarkingsraad (NAMC) was dat ‘n artikel 21-maatskappy ingevolge die voormalige Maatskappywet, 1973 (Wet 61 van 1973) gestig word.
Nog ‘n vereiste van die NAMC was dat ‘n trust daargestel word om in ‘n oorsigtelike hoedanigheid ingevolge die Maatskappywet, 2008 (Wet 73 van 2008) oor die maatskappy, Aartappels SA (NPC), te dien – vandaar die Potato Industry Development Trust (PIDT). Die maatskappy was deurgaans vir die laaste bykans 21 jaar die administrateur van die statutêre heffing.
Hein het as rekenmeester by die APO begin en aan die hoofrekenmeester en finansiële bestuurder gerapporteer. In ‘n terugblik vertel hy: “Ons het in 2000 deur ‘n moeilike tyd gegaan met die Naspal-debakel. Dit het ons genoop om te herstruktureer en personeel te verminder. Beide my bestuurders het in die proses die stelsel verlaat en as rekenmeester was ek aan die diep kant ingegooi.
“Daar was voortdurend sprake dat iemand in die twee bestuurders se plekke aangestel sou word. Ek is egter uiteindelik met ingang van 1 Desember 2003 na hoofrekenmeester bevorder.
Op 1 Julie 2004 is ek weer bevorder, dié keer na bestuurder van finansies en administrasie. In 2014 is ek bevorder na my laaste posisie as hoof finansiële bestuurder.”
Hein skryf sy bevordering toe aan die feit dat, hoewel hy ‘n bietjie water moes trap, hy saam met die destydse hoof uitvoerende beampte, dr Niel Theron, die organisasie met ‘n omdraaistrategie na kalm waters kon stuur.
Hoewel Hein graag die metafoor van ‘n skip gebruik, is hy ver van die see gebore in die koue dorpie Betlehem waar hy ook skoolgegaan het.
Sy weermag-oproepinstruksie het hom na Kimberley en uiteindelik Pretoria geneem, waar hy sy loopbaan as chemiese tegnikus by die Atoomenergie Korporasie afgeskop het.
Daar het hy die geleentheid gebruik om eers ‘n N6-diploma en daarna ‘n BCom in Finansiële Bestuur te verwerf. Nadat hy by die APO begin werk het, het Hein hom verder met ‘n BCom (Hons) gekwalifiseer.
’n Tuiste by Aartappelhuis
Die meeste mense vereenselwig Aartappels SA met Aartappelhuis in Pretoria se Persequor Technopark.
Die organisasie was egter vir baie jare eers in die middestad gesetel. Toe hul genoop was om ‘n alternatief te vind, was dit Hein en ‘n lankdienende kollega, Gawie Geyer, wat die taak opgelê is om ‘n geskikte perseel te vind met toegangsroetes vanaf die lughawe vir direksievergaderings – met inagneming van die daaglikse reisafstande en veiligheid van personeel. Na ‘n intensiewe soektog en die regte prys, is die kooptransaksie met die direksie se goedkeuring beklink, en is Aartappelhuis met sy oop binnetuin in 2005 betrek.
Hein is baie beskeie oor sy aandeel in Aartappelhuis se tuine, maar berigte uit CHIPS-argiewe wys hoedat hy van meet af in ‘n leidende hoedanigheid en met ‘n graaf in die hand, by die tuine betrokke was.
Die rol van tegnologie
Wanneer dit by tegnologie kom, skakel al Hein se ligte aan. “Dit is ongelooflik hoe die tegnologie verander het. Een van my filosofieë was om altyd net so ‘n stappie voor te wees as dit kom by rekenaarprogramme. Ek onthou ek het baie moeite gedoen om nuwe sagteware te leer ken en finansiële modelle te ontwikkel. Dit wat egter destyds nuwe tegnologie was, is nou vanselfsprekend en selfs verouderd.
Die verstaan van rekenaars, tegnologie en sagteware – dit hou jou aan die voorpunt,” sê hy.
Hy is ook van mening dat, soos met enige nuwe tegnologie, ‘n mens nie moet wegskram van die rol wat kunsmatige intelligensie (KI) in die werkplek en as ‘n kreatiewe platform speel nie. “Jy moet dit ondersoek en as dit enigsins waarde kan toevoeg in jou werksomgewing, moet jy die geleentheid aangryp.”
Deur die jare heen het Hein gesien hoe nuwe tegnologiese konsepte posvat, al het niemand gedink dit sou nie. Vandag word sulke tegnologieë algemeen toegepas. Hy is van mening dat KI een stuk gereedskap is waarvan ’n mens die waarde eers sal besef wanneer jy dit reg begin gebruik en verstaan, maar terselfdertyd met groot omsigtigheid hanteer. Enige tegnologie het voor- en nadele.
Oor hoogtepunte en aftrede
Wanneer jy in finansies werk, vertel Hein, is jou ouditverslae eintlik maar jou hoogtepunte. Sy hoogtepunte was die spanwerk saam met kollegas en die vertroue wat die onderskeie voorsitters, waarvan daar ses in sy loopbaan was (asook ses hoof uitvoerende bestuurders), in hom geplaas het.
“Die feit dat ons die wa deur die drif kon trek met die Naspal-debakel en ek die voorreg gehad het om ‘n aandeel daarin te kon hê, was vir my ook ‘n hoogtepunt. My hele loopbaan by Aartappels SA was vir my ‘n groot voorreg.”
Ek hou daarvan om met nuwe tegnologie te speel en dit sal ek maar altyd doen, of ek nou afgetree het of nie. – Hein Oberholzer
Tuinmaak en ‘n liefde vir die natuur en plante is iets wat by Hein gegroei het en hy sien uit daarna om meer tyd in sy eie tuin te spandeer. Hy erken ruiterlik dat die tuinmaakding, of dan eintlik ‘grond’, in elke Afrikanerseun se bloed is en dat hy daarom self hande in die grond steek om sy omgewing mooi te maak.
Hy was nog altyd lief daarvoor om nuwe idees aan te pak, sê hy, veral met kreatiewe houtwerk en skilder. Hein sien uit daarna om saam met sy gesin tyd te spandeer en die land te verken.
Gryp die geleenthede
Hein leef ‘n belangrike lewensfilosofie uit en gee hierdie raad aan veral jongmense vir wie daar nie altyd bevorderingsgeleenthede is nie: “Jy gaan nie altyd ‘n geleentheid kry nie, maar as die geleentheid wel aan die deur klop, sorg dat jy voorbereid is.
Daarmee verwys ek na jou studies en selfontwikkeling. Jy kan dalk nou dink dit is nie nodig om verder te studeer nie, maar voltooi daardie kwalifikasie waarvoor jy nou die tyd het en werk jou op in ’n posisie waar jy die beste op jou vakgebied kan wees. As die geleentheid hom dan voordoen, hetsy binne of buite die maatskappy, is jy gereed om dit aan te gryp.” – Hanrie Greebe