Produsente en verskaffers het tydens die dag op ’n interaktiewe en gesellige wyse saamgekom om idees uit te ruil en nuwe skakels te vorm.
Produsente en verskaffers het tydens die dag op ’n interaktiewe en gesellige wyse saamgekom om idees uit te ruil en nuwe skakels te vorm.

Vivo Boerebemarkingsdag 2025: ’n Hoogtepunt vir die aartappelbedryf

Estimated reading time: 3 minutes

Die Vivo Boerebemarkingsdag is ’n jaarlikse landbou-ekspo en is oudergewoonte in Augustus vanjaar in Vivo, Limpopo aangebied. Die geleentheid is besonder betekenisvol vir produsente in dié streek en beslis nie iets om mis te loop nie. Vooraf is aangekondig dat die geleentheid groter, beter en méér betrokke as voorheen sou wees, met die fokus op aartappelsakkies, landboudemonstrasies en netwerkvorming.

Die 2025-bemarkingsdag het ’n sentrale en strategiese platform vir die aartappelbedryf gebied, met kennisdeling, bemarking en samewerking wat op ’n geïntegreerde wyse bevorder is. Die impak en voordele van die dag is wesenlik en het bygedra tot groter markblootstelling, verbeterde strategiese insigte, en ’n gedeelde visie vir volhoubare groei binne die aartappelsektor:

  1. Aartappelsakkie-uitstalling
    Een van die hoogtepunte van die dag was die grootste aartappelsakkie-uitstalling wat in samewerking met Inteligro aangebied is. Hierdie innoverende uitstalling het aan produsente die geleentheid gebied om hul sakkies ten toon te stel. Dit het direkte blootstelling vir die verskaffers van sakkiemateriaal, ontwerpers en verpakkingstegnologieë geskep. Die sakkie-uitstalling het aan produsente nuwe en verfrissende insigte gebied oor aspekte soos ontwerp, gehalte en die bemarking van hul sakkies – ’n belangrike komponent in die aartappelwaardeketting. Hierdie uitruil van kennis dra by tot die verbetering van verpakkingstrategieë.
  2. Netwerkvorming en samewerking
    Tydens die boeredag het produsente, verskaffers en rolspelers van verskeie organisasies die geleentheid gehad om mekaar te ontmoet en waardevolle kennis uit te ruil oor uitdagings en innovasies binne die aartappelbedryf. Die organiseerders van die dag sê een van hul hoofdoelwitte was om produsente en besighede op ’n informele, interaktiewe en gesellige wyse met mekaar te verbind. Deelnemende maatskappye het hul uitstallings strategies benut om direkte kontak met produsente te bewerkstellig, produkdemonstrasies aan te bied en vertroue te bou wat toekomstige samewerking kan bevorder.
  3. Aartappels SA hou vergadering
    Die Aartappels SA-vergadering wat tydens die geleentheid aangebied is, het onder meer gefokus op probleemareas en strategiese insigte wat die bedryf se vooruitgang beïnvloed. Die Vivo Boerebemarkingsdagprogram het spesifiek voorsiening gemaak vir ’n ‘massiewe’ Aartappels SA-vergadering. Grow Fresh Produce het die satelliet-kroegtent geborg waarin vergader is. Belangrike onderwerpe wat tydens die vergadering bespreek is, sluit in markdata, prysdruk, logistieke en verpakkingsuitdagings, en groeimoontlikhede. Die vergadering het aan produsente die geleentheid gebied om konsensus te bereik oor prioriteite, om probleme te identifiseer wat onmiddellike aandag verg, en om gesamentlik aksieplanne vir die komende bemarkingsjaar te koördineer.
  4. Versterking van sektorbelange
    Samewerking tussen die dag se organiseerders en Aartappels SA is ’n duidelike voorbeeld van hoe verskillende belanghebbendes in die aartappelbedryf saam waarde kan skep. Grow Fresh Produce se borgskap het hierdie kollektiewe benadering verder beklemtoon en bewys dat vennootskappe tot tasbare resultate lei.

Vir meer inligting of om uit te vind oor volgende jaar se Vivo Boerebemarkingsdag, stuur ’n e-pos na info@vivoboeredag.co.za of besoek www.vivoboeredag.co.za.

Posted in ,