Estimated reading time: 3 minutes
Die jaarlikse Sandveld-gholfdag is in September verlede jaar met groot sukses by Xamarin Gholf en Country-klub naby Lambertsbaai aangebied. Altesaam 25 spanne het vir hierdie sosiale geleentheid waarby die hele gemeenskap betrokke is, ingeskryf.
Volgens die organiseerder, Reaan van Zyl, is die jaarlikse gholfdae se doel om produsente, plaaslike verskaffers en sakelui bymekaar te bring om geld vir behoeftige instansies in te samel.
Uitsonderlik geslaagd
Van Zyl het die dag as ‘uitsonderlik geslaagd’ beskryf, en die deelnemende spanne sowel as besoekers het hul waardering uitgespreek vir die puik reëlings en vriendelike atmosfeer. Die program het vroegoggend met ’n gemeenskapsontbyt afgeskop, waartydens deelnemers die geleentheid gehad het om informeel en gesellig saam te kuier voordat die spel amptelik begin het.
Daarna het die spanne die gholfbaan aangedurf en al 18 kompetisiegate voltooi. By elke gat is die spelers met verversings ontvang, wat die dag nie net sportief nie, maar ook sosiaal besonder lewendig gemaak het.
Die aandprogram het voortgebou op die dag se feestelike stemming. Lamsvleis is op die spit voorberei, terwyl die gewilde Weskus-sanger, JJ van die Weskus, vir musikale vermaak gesorg het. Sy optrede het bygedra tot ’n energieke atmosfeer en gaste het tot laat die aand gedans en gekuier. Uiteindelik is pryse aan die top vier spanne oorhandig.

Rondreisende gemeenskapsprojek
Die 2025-fondsinsameling het ’n indrukwekkende R220 000 opgelewer. Volgens Van Zyl word R120 000 daarvan aan verskeie instansies geskenk, nadat die balans gebruik is om die dag se operasionele uitgawes te dek.
Die Sandveld-gholfdag word jaarliks as ’n rondreisende gemeenskapsprojek aangebied. Verlede jaar het dit in die Redelinghuys- en Piketbergstreke plaasgevind.
Die beoogde hulp behels die verspreiding van kospakkies in Redelinghuys, asook geldelike bydraes aan die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA), ’n tehuis vir bejaardes in Piketberg en Huis van Heerde-kinderhuis in Moorreesburg. Van Zyl het beklemtoon dat die sukses van die fondsinsameling te danke is aan die ruimhartigheid van borge, deelnemers en die breër gemeenskap wat jaarliks hierdie inisiatief ondersteun.
Hy het bygevoeg dat die organiseerders reeds besig is met voorlopige beplanning vir die 2026-gholfdag, in die hoop om die impak nóg groter te maak en sodoende selfs meer instansies in die Sandveld te bereik. – Francois Strauss, Aartappels SA
Vir meer inligting, stuur ’n e-pos na francois@potatoes.co.za