Wes-Vrystaatse kultivarproef onder besproeiing by Bultfontein in 2025

Estimated reading time: 7 minutes

Die Wes-Vrystaat is ’n groot aartappelproduksiestreek waar 38 produsente aartappels op sowat 6 871 ha (15.1% van die land se aartappels) produseer. Die mees prominente kultivars wat hier geproduseer word, waarvan sowat 91% onder besproeiing verbou word, is Mondial (32%), Sifra (28%) en Panamera (20%).

Bultfontein val in Suid-Afrika se somerreënvalgebied (Figuur 1) en ontvang die afgelope 23 jaar ’n gemiddelde jaarlikse reënval van sowat 580 mm. Die streek het ’n matige klimaat met baie warm somers – veral in Desember en Januarie – en koue winters, met ryp wat vanaf April tot Augustus kan voorkom.

Proefontwerp en -besonderhede

Die kultivarproef by Bultfontein is in sandleemgrond uitgevoer en in ’n ewekansige blokontwerp met drie herhalings per kultivar uitgelê. Tabel 1 bevat bykomende tegniese inligting oor die proef.

Die kultivarproef sluit kultivars met kort tot lang groeitydperke in, en kan dus die uiteindelike opbrengs van sekere kultivars beïnvloed. Die lengte van groeitydperke is aan die aard van die seisoen onderhewig, maar word beskou as die hoeveelheid tyd wat verloop vanaf opkoms tot natuurlike loofafsterwe. Tabel 2 sit uiteen hoe hierdie groeitydperke van kultivar tot kultivar verskil.

Omgewingsfaktore en bestuurspraktyke beïnvloed die verskillende groeifases asook die aanvang daarvan. Daarbenewens beïnvloed die stand en aantal halms per moer knolgrootte en opbrengs. Die aantal ogies per knol is kultivar-afhanklik en bepaal die hoeveelheid spruite wat per knol voortgebring word.

In hierdie verband is die plantgereedheid van moere van groot belang, aangesien die ideale plantgereedheid gewoonlik veroorsaak dat moere beter spruit en meer stamme per spruit voortbring as knolle wat nog nie plantgereed is nie. Moere wat te oud is vorm baie stingels en klein knolle.

Plantgereedheid van moere ten tyde van die plant van die proef, sowel as standpersentasie en halmtelling wat later in die groeitydperk waargeneem is, word in Tabel 2 aangedui. Verteenwoordigende grondmonsters is voor plant geneem en ontleed om die grondvoedingstatus van die proefperseel te bepaal (Tabel 3).

Bemarkingsverwante resultate

Die evaluering van kultivars soos in die Bultfontein-kultivarproef bied resultate wat onder meer op opbrengs- en bemarkingsindeks betrekking het.

Die bemarkingsindeks van die betrokke kultivars word bereken deur elke kultivar volgens gehalte en groottegroepe (byvoorbeeld Klas 1 groot of Klas 2 groot-medium) te klas en sorteer. In hierdie proef is al drie herhalings bymekaargegooi en deur die pakstoor geklas en sorteer.

Prysvergelykings word dan met markpryse, soos verkry ten tyde van oes, getref. Die prestasie van nuwe kultivars kan egter nie net op die resultate van een spesifieke seisoen geskoei word nie, omdat klimaat van een jaar na ’n volgende kan wissel. Juis daarom word die kultivars verkieslik oor ’n aantal seisoene getoets.

Klimaats- en weertoestande

Soos met enige gewas is temperatuur, beskikbaarheid van water (hetsy goeie besproeiingskedulering of reënval) asook hitte-eenhede belangrike faktore wat ’n wesenlike invloed gedurende die aartappelplant se groeitydperk het. Hierdie faktore word in aanmerking geneem wanneer die prestasie van kultivars geëvalueer word. Daaglikse en langtermyn weerdata word verkry vanaf ’n nabygeleë Hortec-weerstasie en die naaste Landbounavorsingsraad- of LNR-weerstasie.

Uitermatige bogemiddelde reënval is gedurende die 2025-seisoen in die grootste deel van die aktiewe groeitydperk aangeteken. Gereelde buie het die grondprofiel deurgaans versadig gehou. Die reënval in April het 204 mm beloop, wat ’n nuwe rekord is. Die ondergemiddelde opbrengs van hierdie proef kan moontlik toegeskryf word aan die bogemiddelde hoeveelheid bewolkte dae en gevolglike minder fotosintese in die aktiewe groeitydperk. Die alewige nat toestande het ook tot gehalteprobleme bygedra.

Minimum- en maksimumtemperature word in Figuur 3 uiteengesit. Die 2025-seisoen het besonder groot wisselinge in veral maksimumtemperature getoon. Talle dae met temperature bo 35°C is in die eerste maand na plant aangeteken. Temperature het aan die einde van Mei tot onder vriespunt gedaal, wat met natuurlike loofafsterwe gepaardgegaan het.

Die versameling van hitte-eenhede gedurende ’n groeitydperk is ’n belangrike faktor in die ontwikkeling van ’n aartappelplant. Die tendens van hitte-eenhede wat vir hierdie seisoen beskikbaar is, blyk deurlopend hoër te wees as die langtermyn datatendens vir die seisoen as geheel (Figuur 4), ten spyte van die baie reën en bewolkte dae.

Opbrengs en kultivareffek

Opbrengsdata wat tydens oesdag aangeteken word, word aan statistiese verwerking met behulp van die GenStat®-program onderwerp. Die Tukey-toets van kleinste betekenisvolle verskille (KBV) is gebruik om die gemiddeld te skei. Die kultivareffek gedurende hierdie proef (Figuur 5) was statisties beduidend (p<0.05) en die koëffisiënt van variasie was laag (9.7%). Hierdie faktore dui daarop dat die proef goed uitgevoer en die resultate derhalwe betroubaar is.

Die opbrengs van elke kultivar word deur die proefgemiddeld gedeel, met die proefgemiddeld van al die kultivars wat as 100% geneem word. ’n Opbrengsindeks word hierdeur bepaal en elke kultivar se prestasie word dan in terme van opbrengs as ’n persentasie van die proefgemiddeld gelees.

Die gemiddelde opbrengs van die proef vir die 2025-seisoen is 44.41 t/ha – redelik laer as die vorige vyf seisoene se gemiddeld van 50.3 t/ha.

Die kultivars EKSP B, EKSP C en Palace het statisties die hoogste opbrengste gelewer. Palace, EKSP B en Sound het die hoogste bemarkingsindeks behaal; dit kan toegeskryf word aan die uitstekende opbrengs van groot- en Klas 1-knolle (Figuur 5, 6 en 7).

Groottegroepverspreiding en gradering is onontbeerlike evaluasies wanneer gekyk word na die bemarkbaarheid van ’n kultivar. Kultivarprestasie wissel van seisoen tot seisoen, bloot omdat klimaat van een seisoen na ’n volgende nooit eenders is nie. Daarom is dit belangrik om konsekwente kultivarprestasie oor ’n aantal seisoene in ag te neem. Van al die kultivars in die proef, toon Palace tans die minste variasie in die Bultfontein-area oor die afgelope drie seisoene (Figuur 8).

Laastens, wanneer gekyk word na die interne gehalte van aartappels, kan kook- en prosesseringseienskappe ook geëvalueer word. Om aan verwerkingsvereistes te voldoen, moet kultivars aan ’n skyfiekleurnorm van >50 en ’n soortlike gewig (SG) van ≥1.075 voldoen. Slegs Noya het aan die SG-vereiste en korrekte skyfiekleur voldoen (Tabel 4). – Enrike Verster, Aartappels SA, en Izak Cronjé, produsent

Spesiale dank aan die betrokke boerdery en medewerker, sowel as die proefdeelnemers en Wes-Vrystaatse Aartappelwerkgroep.

Vir meer inligting, stuur ’n e-pos na enrike@potatoes.co.za