Estimated reading time: 6 minutes
Tydens ’n onlangse Aartappels SA-inligtingdag in die Sandveld, het André Erasmus, afgetrede tegniese spesialis by Inteligro, sekere aspekte met betrekking tot watergehalte bespreek. Hoewel meer as 95% van ’n tipiese spuitoplossing uit water bestaan, fokus baie produsente hoofsaaklik op die chemikalieë wat toegedien word. Die gehalte van die water bepaal egter dikwels die doeltreffendheid van ’n produk.
In ’n era waarin gewasbeskerming al hoe duurder raak en regulatoriese druk toeneem, kan swak watergehalte enorme finansiële verliese meebring.
Belangrike definisies
- Oplosbaarheid: Hoe doeltreffend ’n soliede of vloeibare produk in water versprei sonder om neerslae te vorm.
- Verenigbaarheid: Die vermoë van verskillende chemikalieë om saam in dieselfde tenk te bestaan sonder om uit te sak of te reageer.
- Stabiliteit: Die behoud van die chemiese struktuur van die aktiewe bestanddeel, vandat dit gemeng word totdat dit die teiken tref.
- Halfleeftyd: Die spoed waarteen ’n middel afbreek en sy krag weens omgewingsfaktore verloor.
- Opname deur plante: Die gemak waarmee die plantblaar die aktiewe bestanddeel deur sy waslaag en stomata absorbeer.
- Doeltreffendheid van die aktiewe bestanddeel: Die uiteindelike vermoë van die middel om die spesifieke plaag, siekte of onkruid suksesvol te beheer.
- Antagonisme: Verskillende komponente in die tenk begin mekaar aktief teëwerk.
Water dien as die draer vir die meeste spuittoedienings. Aangesien dit die medium is waarin produkte opgelos of gesuspendeer word, speel dit ’n sentrale rol in die sukses van enige tenkmengsel. Swak watergehalte kan tot swakker opname, chemiese afbreking, blokkering van spuitpunte, onverenigbaarheid en gevolglike swak beheer lei. Die probleem is egter dat baie van hierdie gevolge nie onmiddellik sigbaar is nie.
Die rol van pH
Een van die belangrikste waterfaktore is pH. Die pH-skaal is logaritmies, wat beteken dat klein veranderinge groot verskille in suurheid of alkaliniteit verteenwoordig. ’n pH van 5 is byvoorbeeld tien keer suurder as ’n pH van 6; dit veroorsaak ’n klein skuif op die skaal met ’n merkbare impak op sensitiewe chemikalieë.
Netso is ’n pH van 5 ’n 100 keer suurder as ’n pH van 7. Hierdie skuif verteenwoordig die verskil tussen neutrale water en matig-suur water, wat chemiese reaksies drasties versnel of vertraag. So is ’n pH van 5 ’n 1 000 keer suurder as ’n pH van 8, wat ’n enorme chemiese gaping verteenwoordig. Water wat alkalies is (pH 8), sal sekere suur-aangetrokke produkte binne minute neutraliseer.
Hierdie verskille het ’n direkte invloed op chemiese stabiliteit. Sekere aktiewe bestanddele breek vinnig in suur toestande af, terwyl ander weer deur alkaliese toestande beïnvloed word. Indien water met die verkeerde pH aangewend word, kan dit die halfleeftyd dramaties verminder, doeltreffendheid verlaag, antagonisme verhoog en opname deur die plant benadeel word.Daarom is dit noodsaaklik om die water-pH volgens die etiket se aanbevelings aan te pas voordat produkte gemeng word.
Minerale-inhoud en harde water
Water bevat dikwels opgeloste minerale (gelaaide katione) wat ’n onsigbare bedreiging vir chemikalieë inhou. Hierdie katione kan met sekere aktiewe bestanddele bind en onoplosbare verbindings vorm. Die mineraal-sondebokke sluit in:
- Kalsium is een van die hoofoorsake van harde water wat veral met onkruiddoders soos glifosaat bind.
- Magnesium werk hand aan hand met kalsium om die hardheid van water te verhoog en chemikalieë te neutraliseer.
- Yster kan uitsakking veroorsaak en verkleuring of bindingsprobleme in die tenkmengsel veroorsaak.
- Aluminium is ’n sterk-gelaaide ioon wat selfs in klein hoeveelhede ernstige bindings met negatief-gelaaide plaagdoders kan veroorsaak.
- Natrium verhoog die soutgehalte van die water, wat toksies vir plante kan wees en opname kan bemoeilik.
Hierdie nuutgevormde mineraal-chemiese bindings lei tot swakker opname, neerslag in die tenk en verlaagde doeltreffendheid. Produsente behoort hul water gereeld te toets om hierdie risiko’s te bestuur.
Waak teen koue of min water
Temperatuur beïnvloed die fisiese gedrag van chemikalieë, sowel as die spoed waarteen dit in water reageer. Sekere produkte neem langer om in koue water op te los, byvoorbeeld vroeë oggendwater uit ’n dam of boorgat. Dit verhoog die risiko vanklontvorming, onvolledige verspreiding, spuitpuntblokkasie en ongelyke toediening. Dit beteken dat die eerste deel van die land wat gespuit word minder produk ontvang as die laaste deel. Om dit te voorkom, is voldoende mengtyd noodsaaklik sodat die chemikalieë volledig kan oplos.
Laer waterhoeveelhede per ha beteken dat dieselfde hoeveelheid chemikalieë in minder water gegooi word, wat die algehele produkkonsentrasie in die tenk verhoog. Hoe hoër die konsentrasie, hoe groter die kans op onverenigbaarheid tussen die produkte, kristallisasie, skuimvorming en gewasskade as gevolg van die blare wat brand. Produsente moet daarom versigtig wees wanneer ultra-lae volumes toegedien word.
Die belangrikheid van mengvolgorde
Een van die algemeenste redes vir die onversoenbaarheid van chemikalieë is die byvoeging daarvan in die verkeerde volgorde. Om die risiko van fisiese onverenigbaarheid aansienlik te verlaag, kan die volgende stappe gevolg word:
- Vul die tenk met ongeveer 50% water om die nodige watervolume te verkry, sodat produkte nie te gekonsentreer is nie.
- Voeg buffers en pH-reguleerders by voordat die duur aktiewe bestanddele bygesit word.
- Voeg wateroplosbare sakkies (WSB’s) by. Dit verg skoon water en tyd voordat die plastiek-tipe sakkie heeltemal oplos.
- Voeg droë formulerings (WG, WP) by. Dit vereis die maksimum hoeveelheid water en genoeg roertyd om korrels maklik in suspensie te dwing.
- Voeg dispergeerbare vloeibare formulerings (SC, SE) by. Hierdie dikker vloeistowwe is vloeibaar, maar benodig steeds goeie verspreiding in die water.
- Voeg vloeibare formulerings (EC, SL) by: Dit is olie- of wateroplosbare vloeistowwe wat makliker meng, maar die watereienskappe kan verander.
- Voeg byvoegmiddels (adjuvante, benatters, olies) by: Dit is ontwerp om druppelgedrag te verander en moet eers bygevoeg word wanneer die chemikalieë reeds gemeng is.
- Voeg mikro-elemente en vloeibare bemestingstowwe laaste by. Soute met hoë ladings en wat maklik uitsak moet as die heel laaste komponent bygevoeg word.
Wetlike aspekte van tenkmengsels
Etikette bly die belangrikste wetlike dokument in gewasbeskerming, en ingevolge die Wet op Misstowwe, Veevoedsel, Landboumiddels en Veemiddels, 1947 (Wet 36 van 1947) is dit ’n misdryf om buite die etiketaanbevelings op te tree.
Produsente moet die etiketinstruksies noukeurig volg en die wettige dosis, veiligheidstydperke en toepassingsmetodes streng nakom. Spuit slegs geregistreerde mengselswat amptelik getoets en op die etiket vir daardie spesifieke gewas goedgekeur is. Hou volledige rekords van die produkte wat toegedien is, asook die spesifieke doel daarvan.
Daar is ook toenemende druk vanaf versekeraars wat komplekse tenkmengsels betref. Hoe meer produkte in ’n tenk geplaas word, hoe groter die risiko vir eise en skade. Indien iets verkeerd loop met ’n ongemagtigde ‘skemerkelkie’ bestaande uit vyf of ses produkte, sal versekeraars weier om die skade uit te betaal.
Praktiese wenke aan produsente
Ontleed gereeld die pH, hardheid en totale opgeloste soute (EC) van verskillende waterbronne by ’n geakkrediteerde laboratorium. Indien nodig, moet geskikte buffers ingespan word om die pH en mineraalvlakke van die water aan te pas voordat enige gewasbeskermingsprodukte in die tenk gegooi word.
Wanneer dit by die vermenging kom, moet die korrekte volgorde gevolg word om fisiese probleme te vermy. Daarbenewens moet jy seker maak die tenk se roerstelsel loop voortdurend, vandat die eerste produk bygevoeg word totdat die laaste liter op die land uitgespuit is. Hou in gedagte dat wanneer te veel verskillende produkte (chemie, voeding en opknappers) saamgegooi word, dit die risiko van chemiese botsings eksponensieel kan verhoog.
Lees etikette noukeurig deur en skenk veral aandag aan die watergehalte, verenigbaarheid en onthoudingstydperke. Raadpleeg liefs tegniese adviseurs voordat jy ’n nuwe of ingewikkelde tenkmengsel toedien. Moet liefs nie op benattingsmiddels of olies probeer spaar nie; die regte bymiddel kan die doeltreffendheid van die spuitstof dramaties verhoog.
Laastens moet onnodige risiko’s soos om ’n mengsel oornag in die tenk te laat staan of te midde van uitermatige daghitte te spuit, vermy word. Hou rekord van suksesvolle mengsels en omstandighede om ’n betroubare verwysingsraamwerk vir jou eie plaas op te bou.
Watergehalte, formulerings en mengvolgorde is die grondslag van suksesvolle gewasbeskerming. Produsente wat hierdie beginsels verstaan en korrek toepas, kan groot verliese voorkom en maksimumwaarde uit hul spuitprogramme put. – Francois Strauss, Potatoes SA
Vir meer inligting, stuur ’n e-pos aan die outeur by francois@potatoes.co.za