Estimated reading time: 8 minutes
Limpopo is ’n groot aartappelproduksiestreek waar sowat 24.8% van die land se totale kommersiële aartappels deur 121 produsente op ongeveer 12 760 ha geproduseer word. Die mees prominente kultivars wat hier vir tafelverbruik en verwerking geproduseer word, is Mondial, Panamera en Sifra.
Dendron is in Suid-Afrika se tropiese somerreënvalgebied geleë (Figuur 1) en kry die afgelope 23 jaar ’n gemiddelde jaarlikse reënval van 375 mm, volgens die nabygeleë Landbounavorsingsraad- of LNR-weerstasie. Winters in hierdie streek is koel en kort, terwyl somers baie warm en lank is.

Gedurende die wintermaande (Mei tot Julie) is die streek se langtermyn temperature gemiddeld ‘n minimum van 6°C en ‘n maksimum van 24°C, met min dae onder 0°C. Twee produksieseisoene is dus hier moontlik: ’n vroeë aanplanting van Januarie tot Maart, met die hoofaanplanting van April tot Julie. As gevolg van hierdie twee aanplantingstydperke lewer die streek een van die grootste bydraes tot die Suid-Afrikaanse aartappelbedryf.
Proefontwerp en besonderhede
Die Dendron-kultivarproef is in ’n ewekansige blokontwerp met drie herhalings per kultivar uitgelê. Tabel 1 bevat bykomende tegniese inligting oor die proef. Grondmonsters is voor plant geneem om die grondvoedingstatus van die proefperseel te bepaal (Tabel 2).


Die kultivarproef sluit kultivars met kort en lang groeitydperke in; derhalwe kan dit die uiteindelike opbrengs van sekere kultivars beïnvloed. Die lengte van groeitydperke is aan die aard van die seisoen onderhewig, maar word beskou as die hoeveelheid tyd wat verloop vanaf opkoms tot natuurlike loofafsterwe. Tabel 3 sit uiteen hoe hierdie groeitydperke van kultivar tot kultivar verskil. Die plantgereedheid van moere ten tyde van plant, sowel as standpersentasie en halmtelling wat later in die groeitydperk waargeneem is, word ook in Tabel 3 aangedui.

Bemarkingsverwante resultate
Die evaluering van nuwe kultivars, soos in die Dendron-kultivarproef, bied resultate wat onder meer op opbrengs- en bemarkingsindekse betrekking het. Die bemarkingsindeks van die betrokke kultivars word bereken deur elke kultivar op grond van gehalte en groottegroepe (byvoorbeeld Klas 1 groot of Klas 2 groot medium) te klas en sorteer.
Prysvergelykings word dan getref met markpryse wat ten tyde van oes verkry is. Die prestasie van nuwe kultivars kan egter nie net op die resultate van een spesifieke seisoen geskoei word nie, omdat klimaat van een jaar na ’n volgende kan wissel. Juis daarom word die kultivars verkieslik oor ’n aantal seisoene getoets.

Uitwerking van klimaatstoestande
Soos met enige gewas is temperatuur, waterbeskikbaarheid (hetsy goeie besproeiingskedulering of reënval), asook hitte-eenhede belangrike faktore wat ’n wesenlike invloed gedurende die aartappelplant se groeitydperk het. Hierdie faktore word dus in aanmerking geneem wanneer kultivarprestasie geëvalueer word.
Toepaslike daaglikse weerdata van die betrokke seisoen word verkry vanaf ’n nabygeleë weerstasie, terwyl langtermyn data vanaf die naaste LNR-weerstasie verkry word. Die reënvaldata word in Figuur 2 aangedui. Wanneer langtermyn data in ag geneem word, het die seisoen ondergemiddelde reënval ervaar, met die uitsondering van Oktober toe ietwat meer reën aangeteken is. Voldoende besproeiingskedulering is onontbeerlik, veral gedurende belangrike groeitydperke wanneer dit warm is.

Minimum- en maksimumtemperature word in Figuur 3 uiteengesit. Groot skommelings in maksimumtemperature is gedurende die laaste drie maande van die seisoen waargeneem. Die versameling van hitte-eenhede gedurende ’n groeitydperk is ’n belangrike faktor in die ontwikkeling van ’n aartappelplant. Die tendens van hitte-eenhede wat vir hierdie seisoen se Dendron-kultivarproef beskikbaar is, blyk hoër te wees as die langtermyn datatendens van hitte-eenhede (Figuur 4).


Opbrengs en kultivareffek
Opbrengsdata wat tydens oesdag aangeteken is, is statisties verwerk met behulp van die GenStat®-program. Die Tukey-toets van kleinste betekenisvolle verskille (KBV) is gebruik om die gemiddelde te skei. Die kultivareffek gedurende hierdie proef (Figuur 5) was statisties beduidend (p<0.05) en die koëffisiënt van variasie was baie goed (7.1%). Hierdie faktore dui daarop dat die proef so goed as moontlik uitgevoer is en die resultate dus betroubaar is.

Die opbrengs van elk van die kultivars word deur die proefgemiddelde gedeel, met die proefgemiddelde van al die kultivars wat as 100% geneem word. Hierdeur word ’n opbrengsindeks bepaal en word elke kultivar se prestasie in terme van opbrengs as ’n persentasie van die proefgemiddelde gelees.
Die gemiddelde opbrengs van die proef vir die 2025-seisoen is 60.25 t/ha, wat hoër is as die vorige vyf seisoene se proefgemiddelde van 58.5 t/ha. Foxy het statisties die beste opbrengs gelewer en het, saam met Moonlight en Sound, ook die beste bemarkingsindeks behaal. ’n Goeie bemarkingsindeks word toegeskryf aan ’n hoër opbrengs van groot aartappels en/of ’n goeie persentasie goeie-gehalte aartappels. Groottegroepverspreiding en gradering is veelseggende evaluasies wanneer gekyk word na die bemarkbaarheid van ’n aartappelkultivar (Figure 6 en 7).


Die hoofredes vir afgradering word in Tabel 4 aangedui. Misvorming blyk die grootste faktor te wees in die afgradering van aartappels in hierdie proef.

Kultivarprestasie
Soos die aard van seisoene is, wissel die prestasie van kultivars van seisoen tot seisoen. Dit is bloot omdat die klimaat van een seisoen tot ’n volgende nooit eenders is nie. Daarom is dit belangrik om konsekwente kultivarprestasie oor ’n aantal seisoene in ag te neem. Die afgelope vyf seisoene se variasie in deelnemende kultivars word in Figuur 8 aangedui.

Wanneer gekyk word na die interne gehalte van aartappels, kan prosesseringseienskappe ook geëvalueer word. Om aan prosesseringsvereistes te voldoen, moet kultivars aan ’n skyfiekleurnorm van >50 en ’n soortlike gewig (SG) van ≥1.075 voldoen (Tabel 5). Volgens LNR-analises het byna alle kultivars aan die korrekte skyfiekleur voldoen, maar slegs Palace en Satin King het die korrekte SG én skyfiekleur behaal. Tydens die interne gehalte-evaluasie het geen van die kultivars tekens van holhart getoon nie. – Enrike Verster, Aartappels SA

Spesiale dank aan Mossie Jongbloed (produsent), Schalk Grobbelaar (werkgroepvoorsitter), deelnemers FPD, GWK, Provision Agri en RSA, asook Ané du Plessis en ander betrokke Aartappels SA-personeel. Vir meer inligting, stuur ’n e-pos na enrike@potatoes.co.za