Estimated reading time: 8 minutes
Die Loskopvallei-omgewing is ’n aartappelproduksiestreek waar sowat 3.3% van die land se kommersiële aartappels, hoofsaaklik vir verwerkingsdoeleindes, deur 18 produsente op ongeveer 1 715 ha produseer word (2024-oesjaar). Die mees prominente kultivars wat vir verwerkingsdoeleindes in die omgewing geproduseer word, is FL2108, Hertha, Markies en Innovator.
Die proef is tussen Marble Hall en Groblersdal uitgevoer. Die gebied val in Suid-Afrika se gematigde somerreënvalgebied en het die afgelope 24 jaar ’n gemiddelde jaarlikse reënval van 517.9 mm ontvang. Die streek word geken aan baie warm somers en winters, met die moontlikheid van ryp wat van Julie tot Augustus kan voorkom.

Proefontwerp en -besonderhede
Die kultivarproef is in ’n ewekansige blokontwerp met drie herhalings per kultivar uitgelê. Tabel 1 bevat tegniese inligting oor die proef en die grondontledingsresultate word in Tabel 2 weergegee.


Die kultivarproef sluit kultivars met kort en lang groeitydperke in; dus kan dit die uiteindelike opbrengs van sekere kultivars beïnvloed. Die lengte van groeitydperke is aan die aard van die seisoen onderhewig, maar word beskou as die hoeveelheid tyd wat verloop vanaf opkoms tot natuurlike loofafsterwe. Tabel 3 sit uiteen hoe hierdie groeitydperke van kultivar tot kultivar verskil.

Die stand en aantal halms per moer beïnvloed knolgrootte en opbrengs. Die aantal ogies per knol is kultivar-afhanklik en bepaal die hoeveelheid spruite wat elke knol kan voortbring. In hierdie opsig is die plantgereedheid van moere baie belangrik, aangesien die ideale plantgereedheid gewoonlik veroorsaak dat moere beter spruit en meer stamme per spruit voortbring. Die plantgereedheid van moere ten tyde van die plant van die proef, sowel as standpersentasie en halmtelling wat later in die groeitydperk waargeneem is, word in Tabel 3 aangedui.
Bemarkingsverwante resultate
Die evaluering van nuwe kultivars soos in die Loskopvallei-kultivarproef, bied resultate wat onder meer op opbrengs- en bemarkingsindeks betrekking het. Die aartappels is slegs in groottegroepe gesorteer op ’n tafel wat vir verwerkingsmarkte bedoel is. Groottes is uiteengesit as groot (70 mm in diameter), groot-medium (65 mm), medium (55 mm), klein (50 mm) en ekstra-klein (45 mm).
Die gehalte van die aartappels was baie goed en geen noemenswaardige redes vir afgradering is opgemerk of aangeteken nie. Prysvergelykings is met gemiddelde markpryse ten tyde van die oes getref. Die prestasie van nuwe kultivars kan egter nie net op die resultate van een spesifieke seisoen geskoei word nie, omdat klimaat van een jaar na ’n volgende kan wissel. Juis daarom word die kultivars verkieslik oor ’n aantal seisoene geëvalueer.
Klimaats- en weertoestande
Soos met enige gewas is temperatuur en waterbeskikbaarheid (hetsy goeie besproeiingskedulering of reënval)belangrike faktore wat ’n wesenlike invloed op die aartappelplant se groeitydperk het. Hierdie faktore word in aanmerking geneem wanneer kultivarprestasie geëvalueer word. Toepaslike daaglikse en langtermyn weerdata is afkomstig van ’n Landbounavorsingsraad (LNR)-weerstasie wat so na as moontlik aan die proefperseel geleë is.
Die reënvaltendens vir die 2025-seisoen (Figuur 2) toon kumulatief dieselfde hoeveelheid reënval as die langtermyn gemiddelde. Besproeiingskedulering was uiteraard goed bestuur oor die groeitydperk, wat grootliks in die wintermaande val. Hoër reënval is tydens die laatstadiums en met loofafsterwe (September en Oktober) aangeteken.

Minimum- en maksimumtemperature word in Figuur 3 uiteengesit. Altesaam 57 dae van maksimumtemperature bo 30°C en tien dae bo 35°C is gedurende die seisoen gemeet. Sedert Augustus het maksimumtemperature feitlik deurlopend bo 30°C gedraai en aan die einde van die seisoen selfs 35°C oorskry. ’n Dramatiese wisseling in maksimum- en minimumtemperature op belangrike groeistadia kan ’n negatiewe invloed op knolinisiasie en ontwikkeling hê. Ryp is aan die begin en einde van Julie aangeteken en het ’n rol in die uiteindelike opbrengs gespeel.

Om die groei en ontwikkeling van gewasse te verstaan, is insig in die versameling van hitte-eenhede gedurende ’n groeitydperk belangrik. Die tendens van hitte-eenhede wat vir hierdie seisoen se kultivarproef beskikbaar is, blyk ietwat hoër te wees as die langtermyn datatendens (Figuur 4), met Augustus en September wat warm maksimumtemperature getoon het.


wintermaande val.
Opbrengs en kultivareffek
Opbrengsdata wat tydens oesdag versamel is, is statistiese verwerk met die GenStat®-program. Die Tukey-toets van kleinste betekenisvolle verskille (KBV) is gebruik om die gemiddelde te skei. Die kultivareffek gedurende hierdie proef (Figuur 5) was statisties beduidend (p<0.05) en die koëffisiënt van variasie was binne perke (16.1%). Hierdie faktore dui daarop dat die proef goed uitgevoer is en die resultate dus betroubaar is.

Die opbrengs van elk van die kultivars word deur die proefgemiddelde gedeel, met die proefgemiddelde van al die kultivars wat as 100% geneem word. Hierdeur word ’n opbrengsindeks geskep en word elke kultivar se prestasie in terme van opbrengs as ’n persentasie van die proefgemiddelde gelees.
Die gemiddelde opbrengs van die proef vir die 2025-seisoen is 37.96 t/ha, wat ’n paar t/ha laer is as die afgelope drie seisoene (42 t/ha). Sound het statisties die beste opbrengs gelewer en ook by uitstek die beste bemarkingsindeks behaal. Groottegroepverspreiding is ’n belangrike evaluasie wanneer gekyk word na die bemarkbaarheid van ’n kultivar, veral in die prosesseringsbedryf (Figuur 6). Tesame met grootte, is onder meer gehalte, knolvorm en soortlike gewig (SG) ook beduidend vir verwerkers.

Kultivarprestasie
Soos die aard van seisoene is, wissel kultivarprestasie van seisoen tot seisoen, bloot omdat klimaat van een seisoen na ’n volgende nooit eenders is nie. Daarom is dit belangrik om konsekwente kultivarprestasie oor ’n aantal seisoene in ag te neem. Die afgelope vyf seisoene se variasie in deelnemende kultivars word in Figuur 7 aangedui.

Laastens, wanneer gekyk word na die interne gehalte van aartappels, veral met die oog op verwerking, moet die prosesseringseienskappe ook geëvalueer word. Om aan prosesseringsvereistes te voldoen, moet kultivars onder meer aan ’n skyfiekleurnorm van >50 en ’n SG van ≥1.075 voldoen (Tabel 4). Vleeskleur- en knolvorm is ook geëvalueer. Byna al die kultivars het aan die voorgeskrewe skyfiekleur voldoen, maar geen kultivar het die verlangde SG behaal nie.

Faktore soos uitermatige hitte, waterstres, die groeiseisoenlengte en uitermatige stikstof of soute in die grond, kan die SG benadeel. Interne gehalte was deur die bank goed en geen wesenlike probleme soos bruinvlek of holhart is waargeneem nie. – Enrike Verster, Aartappels SA
’n Spesiale woord van dank aan die produsent, Jaco van den Heever, deelnemers FPD, GWK en Provision Agri, asook Damien Da Cal en ander Aartappels SA-personeel. Vir meer inligting, stuur ’n e-pos na enrike@potatoes.co.za