Estimated reading time: 4 minutes
Mikrofyn kalk en gips bied nie net gemak van toediening nie, maar lewer ook beter prestasie. Die vloeibare toepassing hiervan bied die nodige beheer tydens eenvormige verspreiding, sonder enige stof of die behoefte aan reën wat gewoonlik met droë kalkprodukte geassosieer word.
Prestasie word ook aansienlik verbeter danksy die mikrofyn gemaalde kalk en gips van World Focus Agri wat in suspensie toegedien word. Met partikelgroottes van tussen vyf en 15 mikron, bied hierdie verbeterde tegnologie ’n vinniger pH-aanpassing en verseker dit groter vertikale beweging in die grondprofiel. Dit korrigeer nie die pH slegs in die boonste 2,5 cm nie, maar ook tot ’n diepte van 7,5 tot 16 cm waar dit die meeste nodig is. Dit maak voorsiening vir beter voedingstofbeskikbaarheid en mikrobiologiese aktiwiteit regdeur die wortelsone.
Tydsberekening en werking
Aangesien kalk vir die grond bedoel is eerder as vir die plant, is die presiese tyd van toediening nie deurslaggewend nie. Dus, as ’n jaarlikse toepassing, sal lente of herfs ewe aanvaarbaar wees. Danksy gemak van toediening en verhoogde reaksietempo, kan die mikrofyn kalk en gips nou enige tyd gedurende die groeiseisoen toegedien word.
Indien grondtoetse toon dat ’n betekenisvolle aanpassing nodig is, kan maandelikse toedienings regdeur die groeiseisoen gedoen word totdat die vlakke reggestel is. Hierdie benadering word verkies bo ’n eenmalige, swaar toediening, omdat dit die grond se mikrobepopulasies kans gee om na ’n hoër pH-regime oor te skakel, pleks van ’n vinnige aanpassing wat die biologiese balans in die grond ontwrig.
Aangesien kalk water nodig het om met die grond te reageer, is die uitwerking in droë grond stadiger. Selfs onder optimale toestande neem dit dikwels ’n jaar of langer voordat ’n reaksie gemeet kan word. Indien die grond-pH egter uiters laag is, kan ’n reaksie binne weke van die toediening waargeneem word. Dit is dus belangrik om kalk onmiddellik na die groeiseisoen of die verwydering van gewasse toe te dien, sodat dit genoeg tyd het om te reageer en die grond-pH voor die volgende seisoen reg te stel.
Hierdie reaksietyd hang ook af van die tipe kalk wat gebruik word. Kalkmateriaal verskil grootliks in hul neutraliseringsvermoë weens variasies in die persentasie kalsium en/of magnesium. Kalkmateriale met ’n hoë kalsiumkarbonaat-ekwivalent (KKE), oftewel die persentasie bruikbare kalk in ’n produk, neutraliseer grondsuurheid vinniger as dié met ’n lae KKE.
Uiteindelik speel gemiddelde partikelgrootte ’n deurslaggewende rol: Hoe fyner die materiaal, hoe vinniger die uitwerking. World Focus Agri se mikrofyn kalk en gips is só fyn, dat dit in suspensie met water gehou word, wat beteken dit begin onmiddellik werk sodra dit toegedien word.
Gereeldheid van toediening
Die tussenposes waarteen kalk of gips toegedien moet word, hang van ’n verskeidenheid faktore af. Grond met ’n lae katioonuitruilkapasiteit (KUK) – die vermoë van die plant en grond om voedingstowwe uit te ruil – benodig nie baie kalk om die grond-pH reg te stel nie, maar moet meer gereeld bekalk word. Daarteenoor vereis grond met ’n hoë KUK ’n groot hoeveelheid kalk; danksy die hoë bufferkapasiteit kan dit egter jare neem voordat ’n opvolgtoediening nodig is.
Soos wat kunsmis toegedien word om gewasproduksie te verbeter, versnel dit die onttrekking van essensiële voedingstowwe uit die grond. Gevolglik word kalk benodig om hierdie voedingstowwe aan te vul, waarvan kleiner hoeveelhede meer gereeld toegedien kan word. Mikrofyn kalk en gips kan as ‘n reël deel van die jaarlikse bemestingsprogram vorm. By rygewasse kan dit ook in die kunsmisband toegedien word om versuring te neutraliseer wat ontstaan as gevolg van die oksidasie van toegediende stikstofkunsmis.
Die voordele van ultrafyn kalk en gips sluit in:
- Gemak van toediening.
- Hoër reaktiwiteit.
- Vertikale beweging in die grond.
- Laer vervoerkoste.
Vertrou op World Focus Agri se mikrofyn kalk- en gipsprodukte, Complex Calsus, CCM en Complex Calsul – dit is geskik vir alle gewasse en word maklik met ’n spuitboom of besproeiingstelsel toegedien. – At van Schalkwyk, World Focus Agri
Vir meer inligting, stuur ’n e-pos na at@worldfocusagri.co.za of besoek www.worldfocusagri.co.za/home