Philagro1

’n Uitklopbenadering tot laat- en vroeëroes

Estimated reading time: 6 minutes

Stel jou ’n byna perfekte aartappelseisoen in Suid-Afrika voor – een waar vroeë- en laatroes nie daarin slaag om jou gewas se groeisiklus te onderbreek nie. Volgens navorsing deur dr Christine Jones van Dyson Farming Research in die Verenigde Koninkryk, kan gesonde plante gedurende die kritieke laaste groeistadia weekliks tussen 5 en 7 t/ha produseer. Met ’n goedbeplande en doeltreffende spuitprogram teen vroeë- en laatroes, kan jy jou gewas ’n stap nader aan hierdie ideale scenario bring.

Waarom is dit ’n groot bedreiging?

Laatroes (Phytophthora infestans) is wêreldwyd een van die bekendste en ekonomies-belangrikste aartappelsiektes in die geskiedenis van landbou. Hierdie oömiseet-patogeen het Europa in 1845 getref nadat dit waarskynlik vanaf Sentraal-Amerika deur besmette aartappelknolle versprei is. Die siekte het vinnig oor die vasteland versprei en ’n groot bydrae gelewer tot die sogenaamde landbou- en voedselkrisis tussen 1845 en 1850.

Ierland is die swaarste getref. Aartappels het destyds sowat 60% van ongeveer 8.5 miljoen mense se dieet uitgemaak. In 1845 het bykans 40% van die oes verlore gegaan, en teen 1846 was groot dele van die gewas vernietig. Dit het gelei tot die groot Ierse hongersnood (An Gorta Mór), waartydens ongeveer een miljoen mense gesterf het en nog een tot 1.5 miljoen geëmigreer het. Teen 1855 was die land se bevolking byna gehalveer.

Vroeëroes (Alternaria solani) is ’n ander belangrike siekte wat gewoonlik later in die groeiseisoen voorkom wanneer plante se natuurlike weerstandsvermoë begin afneem. Warm en vogtige toestande bevorder die ontwikkeling daarvan, wat blaarmassa vernietig, fotosintese beperk en knolgehalte negatief beïnvloed. Indien dit nie beheer word nie, kan die gewas voortydig verouder en opbrengsverliese veroorsaak.

Die Suid-Afrikaanse werklikheid

Die nagenoeg 50 000 ha aartappelaanplantings in Suid-Afrika word deur beide siektes bedreig, hoewel die risiko tussen produksiegebiede verskil. Laatroes kom hoofsaaklik voor in koeler, mistige gebiede soos dele van KwaZulu-Natal. Hoewel hierdie klimaatstoestande nie altyd gunstig is vir grootskaalse uitbrekings nie, kan onbeheerde infeksies op vatbare kultivars plaaslik groot opbrengsverliese veroorsaak.

Vroeëroes is egter die meer algemene en voortdurende uitdaging in warmer produksiegebiede, van Limpopo tot die Wes-Kaap.

’n Omvattende opname gedurende 2001 tot 2002 oor Suid-Afrika se tien grootste aartappelproduksiestreke deur prof Jacquie van der Waals, prof Lise Korsten en dr Freddie Denner, het gemiddelde opbrengsverliese van 20% aangetoon, met verliese wat tussen 1 en 60% gewissel het.

Kies die regte spanmaat

Philagro SA bied produsente toegang tot hoëgehalte swamdoders wat as deel van ’n geïntegreerde plaagbeheerprogram gebruik kan word. Twee geregistreerde produkte wat mekaar uitstekend aanvul is Sumisclex® SC (L6377) vir vroeëroesbeheer en Leimay® 200 SC (L10884) vir laatroesbeheer.

Nadat Sumisclex® SC op die blaaroppervlak toegedien is, beweeg die aktiewe bestanddeel deur die blaarweefsel vanaf die behandelde oppervlak na die onderkant van die blaar en beskerm ook weefsel wat nie direk deur spuitdruppels geraak is nie.

Hierdie produkte is die resultaat van Japannese navorsing en is beskikbaar vir gebruik in Suid-Afrika volgens hul geregistreerde etiketaanbevelings.

Beskerming teen vroeëroes

Sumisclex® SC, wat deur Sumitomo Chemical vervaardig is, bevat prosimidoon (250 g/ℓ) in ’n suspensiekonsentraatformulering wat maklik meng en eweredige bedekking bevorder. Prosimidoon behoort tot die Fungicide Resistance Action Committee (FRAC) Groep 2-dikarboksimiede en word internasionaal gebruik vir die beheer van talle swamsiektes, insluitend Alternaria-spesies wat vroeëroes veroorsaak.

Die middel se werking berus op die ontwrigting van die swam se osmotiese seintransduksiestelsel, wat noodsaaklik is vir spoorontkieming, miseliumgroei en verdere siekte-ontwikkeling.

’n Belangrike eienskap van Sumisclex® SC is sy translaminêre sistemiese beweging. Nadat die produk op die blaaroppervlak toegedien is, beweeg die aktiewe bestanddeel deur die blaarweefsel vanaf die behandelde oppervlak na die onderkant van die blaar. Hierdie beweging help om ook weefsel te beskerm wat nie direk deur spuitdruppels geraak is nie, wat veral waardevol is in digte aartappelloof waar volledige bedekking moeilik kan wees.

Die translaminêre eienskappe beteken dat prosimidoon nie bloot op die blaaroppervlak bly nie. Deur in die behandelde blaarweefsel opgeneem te word, bied dit meer robuuste beskerming teen infeksies wat kort ná toediening begin ontwikkel. Hierdie aanvullende beskerming maak dit ’n waardevolle komponent van ’n geïntegreerde vroeëroesbeheerprogram.

Vir optimale werking behoort spuitwater na ’n pH van 4,5 tot 5,5 gebuffer te word. In aartappels word twee opeenvolgende toedienings aanbeveel teen 500 tot 1 000 mℓ/ha vir grondtoedienings of 600 tot 1 200 mℓ/ha vir lugtoedienings, met ’n voor-oes wagtydperk van 35 dae. Gebruik altyd die voorgeskrewe watervolumes volgens die etiket om deeglike bedekking te verseker en wissel af met produkte uit ander FRAC-groepe om die risiko van weerstandontwikkeling te beperk.

’n Nuwe benadering teen laatroes

Leimay® 200 SC, vervaardig deur Nissan Chemical Corporation, bevat amisulbrom (200 g/ℓ), ’n moderne FRAC Groep 21-swamdoder wat ontwikkel is vir oömiseet-patogeenbeheer, insluitend Phytophthora infestans, wat laatroes veroorsaak. Die aktiewe bestanddeel ontwrig die patogeen se energieproduksie, wat noodsaaklike selprosesse stop en só bydra tot die onderdrukking van siekte-ontwikkeling.

Amisulbrom, die aktiewe bestanddeel in Leimay® 200 SC, toon aktiwiteit teen verskeie stadiums van die laatroesorganisme se lewensiklus. Gepubliseerde navorsing deur Wageningen University & Research in Nederland het getoon dat die aktiewe bestanddeel werksaam is teen prosesse wat verband hou met die vrystelling en beweeglikheid van soöspore, sowel as die ontkieming van sistospore. Hierdie stadiums speel ’n rol in die ontwikkeling en verspreiding van nuwe infeksies.

Die produk beskik oor translaminêre eienskappe, wat dit in staat stel om deur die behandelde blaarweefsel te beweeg en beskerming aan beide kante van die blaar te bied. Hierdie eienskap bevorder meer konsekwente beheer onder uitdagende veldtoestande.

’n Verdere voordeel is die produk se sterk voorkomende werking. Internasionale etikette en tegniese dokumentasie beklemtoon dat amisulbrom die doeltreffendste benut word wanneer dit vroeg in die infeksiesiklus aangewend word, voordat laatroes vestig. Plaaslike registrasiedata ondersteun die gebruik van Leimay® 200 SC vir ’n voorkomende benadering tot laatroesbestuur, waar tydige toedienings help om die risiko van siekte-ontwikkeling te verminder.

In Suid-Afrika is Leimay® 200 SC geregistreer vir grondtoediening teen 375 mℓ/ha in 375 tot 750 ℓ water/ha. In kombinasie met ’n geskikte tenkmengmaat bied Leimay® 200 SC vinnige en betroubare beskerming teen een van die mees vernietigende siektes wat aartappelprodusente wêreldwyd in die gesig staar.

’n Wenkkombinasie vir die seisoen

Die waarde van hierdie twee produkte word die beste benut wanneer hulle as deel van ’n gestruktureerde spuitprogram gebruik word. Sumisclex® SC en Leimay® 200 SC kan in ’n agt- tot 12-week siektebestuursprogram ingesluit word, met afwisseling van swamdoders uit verskillende FRAC-groepe as deel van ’n weerstandbestuurstrategie. Hierdie benadering ondersteun geïntegreerde gewasbeskerming en kan bydra tot die bestuur van vroeë- en laatroes as deel van ’n omvattende gewasbestuursprogram.

Lees die etiket voor gebruik. Leimay® 200 SC, Reg No L10884, Wet 36 van 1947, amisulbrom (sulfonamied) (200 g/ℓ). Waarskuwing: Baie giftig vir waterlewende organismes met langdurige gevolge. Sumisclex® SC, Reg No L6377, Wet 36 van 1947, prosimidoon (dikarboksimied) (250 g/ℓ). Waarskuwing: Kan vermoedelik vrugbaarheid of die ongebore kind benadeel. Philagro SA (Edms) Bpk, Reg No 1998/010658/07. Postnet Suite #378, Privaatsak X025, Lynnwoodrif, 0040. Tel 012 348 8808.

Skandeer die QR-kode vir al Philagro SA se aartappelprodukte.