Sowat 2.04% van die totale hektare onder aartappels in Suid-Afrika word deur 37 aartappelprodusente in die Mpumalanga produksiegebied geplant. Die streek se aartappels word onder besproeiing geplant met die oog op mark- en verwerkingsdoeleindes (1 082 ha). Die hoofkultivars wat in dié streek geproduseer word, is Mondial en FL2108.
Die kultivarproef is uitgevoer naby Davel in Mpumalanga, wat in Suid-Afrika se matige somerreënvalgebied geleë is. Die afgelope sewe jaar het die naaste Landbounavorsingsraad (LNR)-weerstasie ’n jaarlikse gemiddelde reënval van ongeveer 540 mm vir die breër gebied rondom Davel en Bethal aangeteken. Hierdie streek word gekenmerk deur warm somers en baie koue winters, met ryp wat nog tot laat in die lente kan voorkom.

Proefontwerp en -besonderhede
Die proefperseel is in ’n ewekansige blokontwerp met drie herhalings per kultivar uitgelê. Tabel 1 bevat addisionele tegniese inligting oor die proef.

Grondmonsters is voor plant geneem om die grondvoedingstatus van die proefperseel te bepaal (Tabel 2). Die kultivarproef sluit kultivars met kort en lang groeitydperke in; dit kan dus die uiteindelike opbrengs van sekere kultivars beïnvloed. Die lengte van groeitydperke is aan die aard van die seisoen onderhewig, maar word beskou as die hoeveelheid tyd wat verloop vanaf opkoms tot natuurlike loofafsterwe.

Tabel 3 sit uiteen hoe dié groeitydperke van kultivar tot kultivar verskil.

Die plantgereedheid van moere ten tyde van plant, sowel as die standpersentasie en halmtelling wat later in die groeitydperk waargeneem is, word ook in Tabel 3 aangedui.
Die evaluering van nuwe kultivars soos in die Davel-kultivarproef, bied resultate wat onder meer op opbrengs en bemarkingsindekse betrekking het. Die bemarkingsindeks van die betrokke kultivars word bereken deur elke kultivar op grond van gehalte en groottegroepe (byvoorbeeld Klas 1 groot of Klas 2 groot-medium) te klas en sorteer. Prysvergelykings word dan getref met markpryse wat ten tyde van oes verkry is. Die prestasie van nuwe kultivars kan egter nie net op die resultate van een spesifieke seisoen geskoei word nie, aangesien die klimaat van een jaar na ’n volgende wissel. Juis daarom word kultivars verkieslik oor ’n aantal seisoene getoets.
Klimaats- en weertoestande
Soos met enige gewas is temperatuur, waterbeskikbaarheid (hetsy deur goeie besproeiingskedulering of reënval), asook hitte-eenhede belangrike faktore wat ’n wesenlike invloed gedurende die aartappelplant se groeitydperk het. Hierdie faktore word dus in aanmerking geneem wanneer die prestasie van kultivars geëvalueer word.
Toepaslike daaglikse weerdata vir die afgelope seisoen word verkry vanaf ’n weerstasie op die plaas waar die proef geplant word. Die langtermyndata bestaan egter uit die afgelope ses jaar se data vanaf die naaste LNR-weerstasie wat 21 km suid van die proef geleë is.
Die 2025/26-seisoen (Figuur 2) het oor die algemeen bogemiddelde reënval ervaar. Daar was ook gehalteprobleme as gevolg van sonbrand, sowel as oopgespoelde walle weens swaar reën laat in die seisoen.


Minimum- en maksimumtemperature word in Figuur 3 uiteengesit. Bogemiddelde maksimumtemperature is met tye vir die betrokke seisoen aangeteken, veral gedurende middel-Januarie tot middel-Februarie, soos die versameling van hitte-eenhede ook aandui. Altesaam 47 dae met temperature bo 30°C is aangeteken, veral in die laaste maande voor oesdag.

Die versameling van hitte-eenhede gedurende ’n groeitydperk is ’n belangrike faktor in die ontwikkeling van ’n aartappelplant. Die tendens van hitte-eenhede wat vir hierdie seisoen se kultivarproef by Davel beskikbaar is, blyk heelwat hoër as die langtermyn datatendens van hitte-eenhede te wees (Figuur 4).

Opbrengs en kultivareffek
Opbrengsdata wat tydens oesdag versamel word, word aan statistiese verwerking met behulp van die GenStat®-program onderwerp. Die Tukey-toets van kleinste betekenisvolle verskille (KBV) is gebruik om die gemiddelde te skei. Die kultivareffek gedurende hierdie proef (Figuur 5) was statisties beduidend (p<0.05) en die koëffisiënt van variasie was laag (14.3%).

Hierdie faktore dui daarop dat die proef baie goed uitgevoer is en die resultate derhalwe betroubaar is.
Die opbrengs van elk van die kultivars word deur die proefgemiddelde gedeel, met die proefgemiddelde van al die kultivars wat as 100% geneem word. Hierdeur word ’n opbrengsindeks bepaal en word die prestasie van elke kultivar in terme van opbrengs as ’n persentasie van die proefgemiddelde gelees.
Die gemiddelde opbrengs van die kultivarproef vir die 2025/26-seisoen is 64.97 t/ha. Die hoë opbrengs kan aan ’n goeie sameloop van omstandighede en goeie bestuur toegeskryf word. Dit sluit ’n hoë stand, goeie grond en goeie besproeiingskedulering in.

Foxy, Moonlight, EXP C, EXP B, Mondial, Lilly en Kelly het die beste opbrengste gelewer met geen statistiese verskille nie. EXP C en Moonlight het die beste bemarkingsindeks behaal. ’n Goeie bemarkingsindeks word toegeskryf aan ’n hoër opbrengs van groot aartappels en/of ’n goeie persentasie goeie-gehalte aartappels.
Groottegroepverspreidings- en graderingsevaluasies in aartappels is onontbeerlik om die bemarkbaarheid van ’n kultivar te bepaal (Figuur 6 en 7). Die hoofredes vir afgradering word in Tabel 4 aangedui. Vergroening en insekskade was die grootste redes vir die afgradering van aartappels na Klas 2 en 3.



Kultivarprestasie
Soos die aard van seisoene is, wissel die prestasie van kultivars van seisoen tot seisoen. Dit is bloot omdat klimaat van een seisoen na ’n volgende nooit eenders is nie. Daarom is dit belangrik om die konsekwente prestasie van kultivars oor ’n aantal seisoene in ag te neem.
Hierdie proef is nog net vir twee seisoene uitgevoer en die stabiliteit van die kultivars vir hierdie seisoene word in Figuur 8 aangedui. Mondial en Moonlight toon tot dusver die meeste konsekwentheid oor die twee seisoene.

Laastens, wanneer gekyk word na die interne gehalte van aartappels, kan prosesseringseienskappe ook geëvalueer word. Om aan prosesseringsvereistes te voldoen, moet kultivars aan onder meer ’n soortlike gewig (SG) van ≥1.075 voldoen (Tabel 5). EXP B, Kelly en Satin King het aan die gewenste SG-vereiste asook korrekte skyfiekleur voldoen.

Spesiale dank aan Fremax Farms en medewerkers, deelnemers GWK, RSA, FPD en Provision Agri, en Damien Da Cal van Aartappels SA. – Enrike Verster, Aartappels SA
Vir meer inligting, stuur ’n e-pos na enrike@potatoes.co.za