Estimated reading time: 3 minutes
Aartappels SA het vroeër vanjaar ‘n bemarkingsveldtog op die gemeenskapsradioprogram, LandbouRadio, van stapel gestuur. Die veldtog bestaan uit ‘n reeks praatjies deur voedingkundiges, navorsers en ander rolspelers oor die rol van aartappels in ‘n gesonde eetplan, maar ook aspekte soos aartappelvariëteite en hul gebruike, gaarmaakmetodes en vele meer. Die reeks praatjies bereik ‘n hoofsaaklik Afrikaanssprekende gehoor van sowat 750 000 luisteraars en word op verskeie gemeenskapsradiostasies landwyd uitgesaai. Die eerste twee gesprekke met drs Carmen Muller en Marion Beeforth is op 23 April en 20 Mei onderskeidelik uitgesaai.
Meer as net ‘n aartappel
Aartappels is ‘n besonder veelsydige produk en navorsing daaroor is uiteenlopend en dinamies. In haar gesprek op LandbouRadio gesels dr Carmen Muller, ‘n navorser verbonde aan die Universiteit van Pretoria en ‘n bekende in aartappelkringe, oor Suid-Afrika se unieke aartappelbedryf. Suid-Afrika, sê sy, is die enigste land ter wêreld wat heeljaar aartappels verbou, met al nege provinsies wat bydra tot ‘n diverse aanbod van meer as 100 aartappelvariëteite.
Die tekstuur van aartappels is direk gekoppel aan hul droë materieen voginhoud, ‘n eienskap wat grootliks deur die spesifieke kultivar en omgewingsfaktore bepaal word. Aartappels met ‘n hoër voginhoud word as waxy of wasagtig beskryf en is ideaal vir kook. Daar is egter ook dié met minder vog, bekend as die floury of melerige variëteite wat perfek is vir bak of kapokaartappels.
Sy verwys tydens die gesprek na verskillende maniere om aartappels te stoor en vermorsing te voorkom. Sy beklemtoon ook hoe belangrik dit is om aartappels apart van ander vrugte en groente te stoor. Die ideale bergingsplek is donker, koel en goed geventileer. Boonop kan ongewaste aartappels vir ‘n paar weke tot ongeveer ‘n maand langer as gewaste aartappels geberg word.
Volgens ‘n studie wat sy aangehaal het, is slegs ongeveer 20 tot 25% van verbruikers bewus van die verskillende aartappelkultivars wat bestaan en hul optimale gebruike. Elke aartappel is uniek in sy droëmaterie-tot-vog-verhouding, wat uiteindelik die beste voorbereidingsmetode bepaal.
Gesonde kos vir almal
In die gesprek met dr Marion Beeforth was verskeie aspekte van voedselsekerheid in Suid-Afrika in die kollig. Sy het onder meer ook gesels oor ‘n voedingsprojek in Pretoria-Wes. Hierdie unieke, gemeenskapsgebaseerde kliniek se fokus is om ‘n gesonde leefstyl te bevorder. ‘n Gemeenskapskombuis is reg langs die kliniek geleë en ‘n groentetuin dien as ‘n praktiese middel om gesonde eetgewoontes te demonstreer en aan te moedig.
Studente van die Universiteit van Pretoria is aktief hierby betrokke as deel van hul geïntegreerde gesondheidsleermodules en geniet praktiese blootstelling ter aanvulling van hul akademiese kennis. Dr Beeforth sê die projek betrek ook talle gesondheidsrolspelers met die doel om algehele lewensgehalte te verhoog. Sy beklemtoon in hierdie opsig dat gesondheid oor meer as net ‘n dieet gaan.
In haar onderhoud verwys sy na Suid-Afrika se voedingsuitdagings en gebruik die term ‘drievoudige voedingslas’ om die probleem toe te lig. Navorsing van 2022 toon dat ongeveer 41% van tieners en meer as 50% van volwassenes oorgewig of diabete is, wat lei tot die vroeë voorkoms van nie-oordraagbare siektes. ‘n Multidissiplinêre benadering waarby akademici, staatsdepartemente, voedselprodusente, organisasies sonder winsbejag en die gemeenskap betrokke is, kan hierdie statistieke verbeter in ‘n land waar voedselonsekerheid een van die grootste uitdagings bly.
Verdere onderhoude sal tot einde 2025 op LandbouRadio uitgesaai word. Vir meer inligting oor die program of om dit aanlyn te luister, volg dit op SoundCloud by die skakel www.soundcloud.com/andbouadio en volg die Facebookblad LandbouRadio om op hoogte te bly van die jongste programinhoud. – Elnieke Bronkhorst, Plaas Media