Estimated reading time: 8 minutes
Limpopo is ‘n groot aartappelproduksiestreek waar ongeveer 24.8% van die land se totale kommersiële aartappels deur 121 produsente op nagenoeg 12 760 ha geproduseer word. Die mees prominente kultivars wat hier vir tafelverbruik en verwerking geproduseer word is Mondial, Panamera en Sifra.
Dendron val in Suid-Afrika se tropiese somerreënvalgebied (Figuur 1) en ontvang die afgelope 23 jaar ’n gemiddelde jaarlikse reënval van 375 mm, volgens die nabygeleë Landbounavorsings- of LNR-weerstasie. Winters in hierdie streek is koel en kort, terwyl somers baie warm en lank is.

Gedurende die wintermaande (Mei tot Julie) ervaar die streek langtermyntemperature van gemiddeld minimum 6°C en maksimum 24°C, met min dae waarop die kwik onder 0°C daal. Twee produksieseisoene is dus hier moontlik: ‘n vroeë aanplanting van Januarie tot Maart, met die hoofaanplanting van April tot Julie. As gevolg van hierdie twee aanplantingstydperke is die streek se bydrae tot die bedryf in Suid-Afrika een van die grootste.
Proefontwerp en -besonderhede
Die Dendron-kultivarproef is in ’n ewekansige blokontwerp met drie herhalings per kultivar uitgelê. Tabel 1 bevat bykomende tegniese inligting oor die proef. Grondmonsters is voor plant geneem om die proefperseel se grondvoedingstatus te bepaal (Tabel 2).


Ingesluit in die kultivarproef is kultivars met kort en lang groeitydperke – derhalwe kan groeitydperke die uiteindelike opbrengs van sekere kultivars beïnvloed. Die lengte van groeitydperke is aan die aard van die seisoen onderhewig, maar word gesien as die hoeveelheid tyd wat verloop vanaf opkoms tot natuurlike loofafsterwe. Tabel 3 sit uiteen hoe hierdie groeitydperke van kultivar tot kultivar verskil. Plantgereedheid van moere ten tye van die plant van die proef, sowel as standpersentasie en halmtelling wat later in die groeitydperk waargeneem is, word ook in Tabel 3 aangedui.

Bemarkingsverwante resultate
Die evaluering van nuwe kultivars soos in die Dendron-kultivarproef, verskaf resultate wat onder andere op opbrengs- en bemarkingsindeks betrekking het. Die bemarkingsindeks van die betrokke kultivars word bereken deur elke kultivar volgens gehalte en groottegroepe (byvoorbeeld Klas 1 groot of Klas 2 grootmedium) te klas en sorteer.
Prysvergelykings word dan met markpryse, soos verkry ten tyde van oes, getref. Die prestasie van nuwe kultivars kan egter nie net op die resultate van een spesifieke seisoen geskoei word nie, omdat klimaat van een jaar na ’n volgende kan wissel. Juis daarom word die kultivars verkieslik oor ’n aantal seisoene getoets.
Uitwerking van klimaatstoestande
Soos met enige gewas is temperatuur, beskikbaarheid van water (hetsy goeie besproeiingskedulering of reënval), asook hitte-eenhede belangrike faktore wat ‘n wesenlike invloed gedurende die aartappelplant se groeitydperk het. Hierdie faktore word dus in aanmerking geneem wanneer die prestasie van kultivars geëvalueer word.
Toepaslike daaglikse weerdata vir die betrokke seisoen word vanaf ‘n weerstasie naby aan die proef verkry, terwyl langtermyndata vanaf die naaste LNR-weerstasie verkry word.
Reënvaldata reflekteer bykans geen reën vir die tydperk van plant tot uithaal nie, alhoewel die langtermyn gemiddelde reënval vir hierdie somerreënvalgebied, vanaf Mei tot Oktober, ongeveer 45mm in totaal is. Voldoende besproeiingskedulering is dus baie belangrik, veral gedurende belangrike groeitye wanneer dit warm is.
Minimum- en maksimumtemperature word in Figuur 2 uiteengesit. Groot wisseling is sigbaar in maksimum- sowel as minimumtemperature gedurende die laaste drie maande van die seisoen. Alhoewel geen ryp deur die nabygeleë weerstasie aangeteken is nie, is ryp wel oor die proefperseel aangeteken. Die kultivar, Sound, het noemenswaardig uitgestaan ná hierdie ryptoestande, met die loof wat uiteindelik baie weliger en hoër gestaan het as die ander kultivars s’n. Dit is ‘n aanduiding dat Sound goeie ryptoleransie in hierdie gebied toon.

Die versameling van hitte-eenhede gedurende ’n groeitydperk is ’n belangrike faktor in die ontwikkeling van ’n aartappelplant. Die tendens van hitte-eenhede wat vir hierdie seisoen se Dendron-kultivarproef beskikbaar is, blyk hoër te wees as die langtermyndatatendens van hitte-eenhede (Figuur 3).

Kultivareffek
Opbrengsdata wat tydens oesdag aangeteken word, word aan statistiese verwerking met behulp van die GenStat®-program onderwerp. Die Tukey-toets van kleinste betekenisvolle verskille (KBV) is gebruik om die gemiddeld te skei. Die kultivareffek gedurende hierdie proef (Figuur 4) was statisties beduidend (p<0.05) en die koëffisiënt van variasie was goed (8.4%). Hierdie faktore dui daarop dat die proef so goed as moontlik uitgevoer is en die resultate derhalwe betroubaar is.

Die opbrengs van elk van die kultivars word deur die proefgemiddeld gedeel, met die proefgemiddeld van al die kultivars wat as 100% geneem word. Hierdeur word ’n opbrengsindeks bepaal en word elke kultivar se prestasie in terme van opbrengs, as ’n persentasie van die proefgemiddeld gelees.
Proefopbrengs
Die gemiddelde opbrengs van die proef vir die 2024-seisoen is 63.15 t/ha, wat hoër is as die vorige vier seisoene se gemiddeld van 57.38 t/ha. Foxy, Sound en Mondial het die beste opbrengs gelewer met geen statistiese verskil in opbrengs nie. Dieselfde drie variëteite het ook die beste bemarkingsindekse behaal.
Ongelukkig is geen bemarkingsindeks vir Valor aangeteken nie, aangesien vermenging tydens die klas- en sorteeraksie plaasgevind het voordat Valor se evaluasie gedoen kon word. ‘n Goeie bemarkingsindeks word toegeskryf aan ’n hoër opbrengs van groot aartappels en/of ‘n goeie persentasie goeie-gehalte aartappels.
Groottegroepverspreiding en gradering is veelseggende evaluasies wanneer gekyk word na ’n aartappelkultivar se bemarkbaarheid (Figuur 5 en 6).


Die hoofredes vir afgradering word in Tabel 4 aangedui. Insekskade in die vorm van snywurmgate asook sagtevrot het die grootste invloed op die afgradering van aartappels in hierdie proef gehad.

Kultivarprestasie
Soos die aard van seisoene is, wissel die prestasie van kultivars van seisoen tot seisoen, bloot omdat klimaat van een seisoen na ’n volgende nooit eenders is nie. Derhalwe is dit belangrik om konsekwente kultivarprestasie oor ’n aantal seisoene in ag te neem. Die afgelope drie seisoene se variasie in deelnemende kultivars word in Figuur 7 aangedui.

Laastens, wanneer gekyk word na interne gehalte van aartappels, kan prosesseringseienskappe ook geëvalueer word. Om aan prosesseringsvereistes te voldoen, moet kultivars aan ’n skyfiekleurnorm van >50 en ’n soortlike gewig (SG) van ≥1.075 voldoen (Tabel 5).

Volgens LNR-analises het alle kultivars aan die korrekte skyfiekleur voldoen, maar slegs Lady Alicia en Prince het die korrekte SG-vereiste behaal. Met die interne gehalte-evaluasie het Lady Alicia egter die beginstadiums van holhart getoon, terwyl dit op ‘n groot en gevorderde skaal in Markies gevind is. – Enrike Verster, Aartappels SA
Spesiale dank aan die produsent, Mossie Jongbloed, werkgroepvoorsitter Schalk Grobbelaar, deelnemers FPD en RSA, en Ané du Plessis en ander betrokke Aartappels