Estimated reading time: 7 minutes
Sowat 2.11% van die totale hektare onder aartappels in Suid-Afrika word deur 37 aartappelprodusente in die Mpumalanga-produksiegebied geplant. Die streek se aartappels word onder besproeiing geplant met die oog op mark- en verwerkingsdoeleindes (1 082 ha in die 2024-seisoen). Die hoofkultivars wat in hierdie streek geproduseer word, is Mondial en FL2108.
Die kultivarproef is uitgevoer naby Davel in Mpumalanga se matige somerreënvalgebied. Die afgelope ses jaar het die naaste Landbounavorsingsraad- of LNR-weerstasie ’n jaarlikse gemiddelde reënval van sowat 537 mm vir die breër gebied rondom Davel en Bethal aangeteken.
Hierdie streek word gekenmerk aan warm somers en baie koue winters met ryp wat nog tot laat in die lente kan voorkom.

Proefontwerp en -besonderhede
Die kultivarproefperseel is in ’n ewekansige blokontwerp met drie herhalings per kultivar uitgelê. Tabel 1 bevat bykomende tegniese inligting oor die proef. Grondmonsters is voor plant geneem om die proefperseel se grondvoedingstatus te bepaal (Tabel 2).


Ingesluit in die kultivarproef is kultivars met kort en lang groeitydperke. Gevolglik kan groeitydperke die uiteindelike opbrengs van sekere kultivars beïnvloed. Die lengte van groeitydperke is aan die aard van die seisoen onderhewig, maar word gesien as die hoeveelheid tyd wat verloop vanaf opkoms tot natuurlike loofafsterwe.
Tabel 3 sit uiteen hoe hierdie groeitydperke van kultivar tot kultivar verskil. Plantgereedheid van moere ten tyde van die plant van die proef, sowel as standpersentasie en halmtelling wat later in die groeitydperk waargeneem is, word ook in Tabel 3 aangedui.

Die evaluering van nuwe kultivars soos in die Davel-kultivarproef verskaf resultate wat onder andere op opbrengs- en bemarkingsindeks betrekking het. Die bemarkingsindeks van die betrokke kultivars word bereken deur elke kultivar volgens gehalte en groottegroepe, byvoorbeeld Klas 1 groot of Klas 2 groot-medium, te klas en sorteer.
Prysvergelykings word dan met markpryse, soos verkry ten tyde van oes, getref. Die prestasie van nuwe kultivars kan egter nie net op die resultate van een spesifieke seisoen geskoei word nie, aangesien klimaat van een jaar na ’n volgende kan wissel.
Juis daarom word die kultivars verkieslik oor ’n aantal seisoene getoets.

Klimaats- en weertoestande
Soos met enige gewas is temperatuur, waterbeskikbaarheid (hetsy goeie besproeiingskedulering of reënval), asook hitte-eenhede belangrike faktore wat ’n wesenlike invloed gedurende die aartappelplant se groeitydperk het. Hierdie faktore word dus in aanmerking geneem wanneer die prestasie van kultivars geëvalueer word.
Toepaslike daaglikse weerdata vir die afgelope seisoen word verkry vanaf ’n weerstasie op die plaas waar die proef geplant word. Die langtermyndata bestaan egter uit die afgelope ses jaar se data vanaf die naaste LNR-weerstasie wat 21 km suid van die proef geleë is.
Die 2024/25-seisoen (Figuur 2) het aanvanklik met baie droë weerstoestande afgeskop en groot kommer het geheers oor damvlakke te midde van die warm toestande. Ietwat ondergemiddelde reënval is in die eerste maand van die aktiewe groeiseisoen aangeteken. Daarna was bogemiddelde reënval aan die orde van die dag en redelik goed-verspreide buie het voorgekom.

Die minimum- en maksimumtemperature word in Figuur 3 uiteengesit. Die betrokke seisoen het deurgaans bogemiddelde maksimum- en minimumtemperature ervaar, soos die versameling van hitteeenhede ook aandui. Altesaam 41 dae van temperature bo 30°C is aangeteken, veral in die eerste twee maande na plant en aan die einde van die aktiewe groeitydperk.

Die versameling van hitte-eenhede gedurende ’n groeitydperk is ’n belangrike faktor in die ontwikkeling van ’n aartappelplant. Die tendens van hitte-eenhede wat vir hierdie seisoen se Davel-kultivarproef beskikbaar is, blyk hoër te wees as die langtermyndatatendens van hitte-eenhede (Figuur 4). Die beskikbare temperatuurdata dui ook daarop dat dit ’n buitengewoon warm seisoen was.

Opbrengs en kultivareffek
Opbrengsdata wat tydens oesdag aangeteken word, word aan statistiese verwerking met behulp van die GenStat®-program onderwerp. Die Tukey-toets van kleinste betekenisvolle verskille (KBV) is gebruik om die gemiddeld te skei. Die kultivareffek gedurende hierdie proef (Figuur 5) was statisties beduidend (p<0.05) en die koëffisiënt van variasie was laag (13.2%). Hierdie faktore dui daarop dat die proef baie goed uitgevoer is en die resultate derhalwe betroubaar is.

Die opbrengs van elk van die kultivars word deur die proefgemiddeld gedeel, met die proefgemiddeld van al die kultivars wat as 100% geneem word. Sodoende word ’n opbrengsindeks bepaal en elke kultivar se prestasie in terme van opbrengs as ’n persentasie van die proefgemiddeld gelees.
Die gemiddelde opbrengs van die proef vir die 2024/25-seisoen is 74.9 t/ha. Die hoë opbrengs kan aan ’n goeie sameloop van omstandighede en goeie bestuur toegeskryf word – onder andere hoë stand, goeie grond en doeltreffende besproeiingskedulering. Lilly en Lanorma het die beste bemarkingsindeks behaal. ’n Goeie bemarkingsindeks word toegeskryf aan ’n hoër opbrengs van groot aartappels en/of aartappels van goeie gehalte.
Groottegroepverspreiding en graderingsevaluasies in aartappels is onontbeerlik om ’n kultivar se bemarkbaarheid te bepaal (Figuur 6 en 7). Hoofredes vir afgradering word in Tabel 4 aangedui. Vergroening en insekskade was die grootste redes vir die afgradering van aartappels na Klas 2 en 3.



Laastens, wanneer gekyk word na die interne gehalte van aartappels, kan prosesseringseienskappe ook geëvalueer word. Om aan prosesseringsvereistes te voldoen, moet kultivars onder andere aan ’n soortlike gewig (SG) van ≥1.075 voldoen (Tabel 5). Geen kultivar het die gewenste SG-vereiste behaal nie, maar bykans elkeen het oor die korrekte skyfiekleur beskik. – Enrike Verster, Aartappels SA.
Spesiale dank aan die medewerkers by Fremax Farms, deelnemers GWK, RSA en Provision Agri, sowel as Damien da Cal en Dikgetho Mokoena van Aartappels SA. Vir meer inligting, stuur ’n e-pos na enrike@potatoes.co.za