Oos-Vrystaatse produkteproef onder droëlandtoestande op Bethlehem, 2021 tot 2023

Estimated reading time: 16 minutes

Die Oos-Vrystaatse aartappelproduksiestreek produseer ongeveer 18.5% van die land se kommersiële aartappels op 9 523 ha, waarvan 71.8% onder droëlandtoestande geplant word (2024-oesjaar). Die mees prominente kultivars wat in hierdie streek geplant word is Mondial (56.6%), Panamera (19.3%), en Lanorma (11%).

Hierdie proef is op die proefplaas van Asearch Agri-Tech by Bethlehem (Figuur 1) geplant. Asearch Agri-Tech is ’n landboukonsultasiemaatskappy wat sedert 2013 by die onafhanklike ontwikkeling van onder meer gewasbeskermingsprodukte en kultivars betrokke is.

Gewasbeskermingsprodukte (landbouchemie) kos aartappelprodusente in Suid-Afrika jaarliks ’n groot hoeveelheid kapitaal, na raming sowat 14.7% van alle insetkoste. Dit is ook die derde-grootste seisoenale uitgawe naas kunsmis en saad (Figuur 2). Dit is dus belangrik om so doeltreffend as moontlik te werk te gaan met chemiese produkte in ’n aartappelprogram.

Die Oos-Vrystaat Aartappelwerkgroep het Asearch Agri-Tech aangestel om hierdie produkteproef, wat kunsmis- en diverse gewasbeskermingsprogramme insluit, uit te voer en bestuur. Dit verseker sover moontlik die presisie, onafhanklikheid, en integriteit van so ’n produkteproef wat op ’n gekontroleerde wyse uitgevoer word en pasgemaak is vir elke program se behoeftes. Die doel van hierdie produkteproef is nie produkontwikkeling by aartappels nie, maar om verskeie aartappelprogramme (waaronder insekdoders, swamdoders, kunsmis, en produkte wat plante se groei biologies bevorder) onder Oos-Vrystaatse toestande te toets.

Bethlehem val in Suid-Afrika se gematigde somerreënvalgebied en ontvang die afgelope 19 jaar ’n gemiddelde jaarlikse reënval van 684 mm. Die area word gekenmerk aan warm somers en baie koue winters, met gereelde ryp en per geleentheid selfs sneeu.

Proefontwerp en -deelname

Die produkteproef by Bethlehem is in ’n ewekansige blokontwerp met vier herhalings per program uitgelê. Tabel 1 bevat relevante tegniese inligting rakende die proef. Die bemestingsprogram en kunsmistoediening vir 2020/22 is in Tabel 2 uiteengesit.

Ingesluit in die produkteproef is talle maatskappye met uiteenlopende programme. Hierdie artikel sluit tien programme in wat vir drie jaar al in die proef getoets is, soos beleid vereis. Gedurende al drie die proefseisoene is die betrokke programme teenoor die plaasstandaardprogram (kontrole) op die kultivar, Mondial, getoets.

Die evaluering van behandelings soos in die Bethlehem-produkteproef, verskaf resultate oor onder meer opbrengs- en bemarkingsindekse. Die doel van die proef is om die betrokke programme se werking binne die streek te toets, en dit is dus baie belangrik om daarop te let dat die programme nie noodwendig teen mekaar gemeet moet word nie, maar teenoor die kontrole (plaasstandaardprogram). Verskillende programme het verskillende uitkomste en doelwitte, en die fynere besonderhede van elke program kan met die betrokke verteenwoordigers bespreek word.

Programsamestelling

Die plaas se standaard gewasbeskermings- en bemestingsprogramme dien as die kontrolebehandeling (plaasstandaardprogram) in hierdie proef. Elke deelnemer het die geleentheid gehad om gedurende die beplanningsfase voor elke seisoen die plaasstandaardprogram vir kunsmis en gewasbeskerming te sien en sy of haar eie insette te lewer, byvoorbeeld om eie produkte te vervang, by te voeg of bespuitings uit te haal.

Die betrokke deelnemers se programme is dus pasgemaak om die bespuitings uit te voer, presies soos verlang word. Hierdie artikel sluit die plaasstandaardprogram (Tabel 3) sowel as die programme wat later kortliks bespreek word, in.

Sortering en klas

Die bemarkingsindeks van die behandelings word bereken deur elke behandeling te klas en sorteer volgens gehalte en groottegroepe (byvoorbeeld, Klas 1 Groot of Klas 2 Groot medium). In hierdie proef word al die herhalings bymekaargegooi, gewas, en geklas en sorteer deur werkers in ’n pakstoor. Dienooreenkomstige prysvergelykings word dan gemaak met markpryse soos verkry ten tyde van oes.

Die prestasie van behandelings kan nie net op die resultate van een betrokke seisoen geskoei word nie, aangesien klimaat jaarliks wissel.

Juis daarom word die programme as ’n reël verkieslik oor minstens drie seisoene getoets.

Reënval en temperatuur

Soos met enige gewas is temperatuur, waterbeskikbaarheid (hetsy goeie besproeiingskedulering of reënval), asook hitte-eenhede belangrike faktore wat ‘n wesenlike invloed gedurende die aartappelplant se groeitydperk het.

Hierdie faktore word dus in aanmerking geneem wanneer ‘n proef geëvalueer word. Toepaslike weerdata van die betrokke seisoene vir hierdie proef word verkry vanaf ’n Metos-weerstasie wat binne 1 km vanaf die proefperseel geleë is.

Figuur 3 sit die reënvaltendense van die afgelope drie seisoene uiteen. Noemenswaardige besonderhede oor die drie seisoene se reënval en aanmerkings oor die seisoen se temperature, word in Tabel 4 uitgelig.

Proefbetroubaarheid

Opbrengsdata versamel gedurende oesdag word onderwerp aan statistiese verwerking met behulp van die GenStat®-program. Die Tukey-toets van kleinste betekenisvolle verskille (KBV) is gebruik om die gemiddelde te skei. Die behandelingeffek gedurende hierdie proef wat oor drie seisoene strek was statisties beduidend (p<0.05) en die koëffisiënt van variasie was deurgaans laag (12.8, 8.3 en 8.5%).

Hierdie faktore dui daarop dat die proewe baie goed uitgevoer is en die resultate derhalwe betroubaar is. Die opbrengs van elk van die behandelings word deur die proefgemiddeld gedeel (die proefgemiddeld van al die behandelings word as 100% geneem). Hierdeur word ’n opbrengsindeks geskep en word elke behandeling se prestasie in terme van opbrengs, as ’n persentasie van die proefgemiddeld gelees (Tabel 5).

Die betrokke programme word afsonderlik teen die plaasstandaardprogram geïllustreer, aangesien die doel van die proef nie is om programme teen mekaar te meet nie. Elke maatskappy se program word kortliks in die volgende afdeling bespreek. Vir meer gedetailleerde en volledige programbesonderhede, skandeer die QR-kode aan die einde van hierdie artikel.

Adama-plantbeskermingsprogram

Adama het ‘n afgeronde plantbeskermingsprogram vir die tydperk van hierdie proewe ingeskryf. Nimitz® is toegedien en is doeltreffend vir aalwurmbeheer wat voor plant ingewerk word. Swamdoders en insekdoders met verskillende aktiewe bestanddele uit Adama se produktereeks is ook op toepaslike tye deur die loop van die groeitydperk geïnkorporeer om doeltreffendheid te verseker.

Adama se program het aan die einde van die proef se drie-jaar-tydperk baie goed presteer. ‘n Mededingende gemiddeld is oor die drie jaar by Klas 1-aartappels waargeneem. Die Adama-program se prestasie in vergelyking met die plaasstandaard word in Figure 4a, b en c uiteengesit.

AECI-aartappelspuitprogram

Die doel van die AECI-aartappelspuitprogram (Figure 5a, b en c) is om ’n gestruktureerde en seisoenale reeks chemiese toedienings te bied om aartappelgewasse wat onder droëlandomstandighede verbou word, deur hul groeisiklus teen sleutelplae, siektes en onkruide te beskerm. Hierdie program bevat spesifieke produkte, aktiewe bestanddele, toedieningsdosisse en toepassingstydperke – vanaf voorplantbehandelings tot inseisoenspuite – om optimale gewasgesondheid, verbeterde opbrengs en gehalte te verseker.

Dit integreer onkruiddoders, insekdoders, swamdoders, biostimulante en voedingsprodukte om bedreigings soos vroeë- en laatroes, onkruide en insekte te bestuur. AECI volg ook ’n sterk beginselgedrewe benadering, NuWay, wat fokus op grondgesondheid en daarop gemik is om die gebruik van skadelike plaagdoders te verminder.

Atlas Organiese Kunsmis

Atlas Organiese Kunsmis is die enigste kunsmismaatskappy wat aan Aartappels SA se produkproewe by Asearch Agri-Tech in Bethlehem deelneem. Die produkte in die Atlas-program is ‘n kombinasie van lêhenhoendermis as die organiese basis, verryk met chemiese kunsmisprodukte, in ongeveer gelyke hoeveelhede.

Vir die Atlas-behandeling is die plaasstandaard of kontrole se kunsmis bloot vervang met Atlas se kunsmis. Die plaasstandaard se hoeveelhede NPK is as basis gebruik. Jaarlikse aanpassings is gemaak vir die hoeveelheid fosfor (P) en kalium (K) op grond van die grondontledings van die perseel of land waarop geplant is, asook die behoefte vir ‘n 30t/ha-aartappeloes.

Onkruid- en plaagbeheer is dus dieselfde as vir die plaasstandaard se behandeling.

Bayer-behandelingsprogram

Van 2021 tot 2023 het die aartappelproewe by Asearch Agri-Tech deurlopend gedemonstreer dat Bayer se behandelings vergelykbaar met die standaardplaaspraktyke presteer indien belangrike metings soos opbrengs, siekteweerstand en bemarkbaarheid in ag geneem word. In die 2020/21-seisoen het Bayer-behandelings die graad en voorkoms van vroeëroes merkbaar verlaag met voorkoms wat gedaal het van 33.8% in die standaardbehandeling, na slegs 8.8% in die Bayer-protokol. In die 2021/22-seisoen is geen statistiese verskille in opbrengs tussen behandelings aangeteken nie, maar die Bayer-behandelings het ‘n mededingende opbrengs asook gunstige graderings gehandhaaf.

In die 2022/23-seisoen het die Bayer-behandelings weer eens goed presteer en 46.4 t/ha behaal, wat die plaasstandaardprogram se opbrengs oortref het. Bayer-behandelings het ook deurlopend hoër proporsies van die aartappelgroottes wat deur die mark verkies word, sowel as goeie graderings, opgelewer.

FMC-pesbeheerprogram

FMC bied ‘n uitgebreide portefeulje van hoë-gehalte produkte wat aartappelproduksie-uitdagings aanspreek. Van die produkte sluit Coragen® (Rynaxypyr®) vir insekbeheer in; dit is ‘n antranielsuurdiamied met ‘n unieke werking wat die rianodienreseptore van insekte teiken. Coragen® beheer peste soos aartappelmotlarwes (Phthorimaea operculella), tamatieblaarmyner-motlarwes (Phthorimaea [Tuta] absoluta) en aartappelblaarmynerlarwes (Liriomyza huidobrensis).

Nog ‘n antranielsuurdiamied, Benevia®, word gebruik om kou- en suiginsekpeste soos aartappelmot en aartappelblaarmyner te beheer. Vir die beheer van swamsiektes sal Tizca® (fluasinaam) help met die bekamping van laatroes (Phytophthora infestans) asook beskerming teen aartappelroes en poeierskurf (Spongospora subterranea).

MBFi-behandeling

MBFi is ‘n gevestigde blaarvoeding- en biostimulantvervaardiger met ‘n verskeidenheid produkte wat by die meeste konvensionele, geïntegreerde pesbeheerprogramme kan inskakel. Dit sluit saadbehandelings in wat grondgedraagde siektes bestry (Trillum DS Potato Premix – Trichoderma asperellium) asook in-voorprodukte (Microphos Fruit & Veg) wat bakterieë bevat wat fosfor aan die plant beskikbaar maak en sterk wortelontwikkeling verseker.

MBFi verskaf ook plantegroei-regulerende produkte soos Instructor (‘n brassinoliede biostimulant) wat knolinisiasie aanmoedig. Verskeie blaarvoedingspakette fokus op biomassaproduksie en knolvulling. MBFi voorsien ook ‘n ‘groen’ oplossing vir geïntegreerde pesbeheer deur middel van biologiese swamdoders soos Incite (Bacillus methylotrophicus), ‘n biologiese kontak-swamdoder wat die onderdrukking en korreksie van vroeëroes en grysskimmel bewerkstellig.

Wanneer dit saam met Agricure SP (‘n wateroplosbare kontak-swamdoder) toegedien word, is die mengsel hoogs doeltreffend teen vroeëroes en grysskimmel.

Syngenta-behandelingsprogram

Syngenta se benadering tot die proef is om goeie langtermyndata in ‘n tipiese plaasstandaardprogram te genereer. Die fokus is goeie boerderypraktyke en ‘n volledige program wat aan produsente die beste waarskynlikheid van ‘n goeie opbrengs bied. Vanaf plant word aandag gegee aan swamsiektes, met Syngenta se AMISTAR® wat in-voor gebruik word. Deur die seisoen kry vroeë- en laatroes aandag deur BRAVO®, MIRAVIS Duo®, AMISTAR Opti®, SCORE® en REVUS® afwisselend en met goeie tydsberekening te gebruik.

Wat peste betref, gebruik Syngenta die regte groepe insekdoders op grond van Croplife SA se Insekdoderweerstandskomitee (IRAC)-riglyne. Verskeie produkte is tydig en volgens behoefte gebruik met handelsmerke soos AMPLIGO®, SORBA®, AGRIMEC Gold® en PROCLAIM® wat aangewend is.

Villa-gewasbeskerming

Villa se produkportefeulje bied ‘n volledige program wat die totale gewasbeskermingspektrum van aartappels in ‘n seisoen dek. Villa het in die drie proefseisoene konsekwent en met ‘n mededingende opbrengs teenoor die plaasstandaardprogram presteer.

Die afgelope drie jaar is Mancozeb uit die program gelaat ter voorbereiding daarvan dat die aktiewe bestanddeel in die toekoms nie beskikbaar sal wees nie. Vir hierdie rede voeg Villa gereeld nuwe chemiese tegnologie tot sy stal by. Die maatskappy bied ‘n sterk mot- en roesprogram asook ‘n volledige reeks aalwurmprodukte.

Gemiddelde proefopbrengs

Die gemiddelde opbrengs van die proef vir die drie seisoene was 38.14, 30.45 en 47.02 t/ha. Dit is weereens belangrik om kennis te neem dat die behandelings nie noodwendig met mekaar vergelyk kan word nie, aangesien die uitkomste en doelwitte van die deelnemende programme verskil en uiteenlopend is.

Die prestasie van behandelings wissel van seisoen tot seisoen, bloot omdat klimaat en seisoene van een seisoen na ’n volgende nooit eenders is nie. Dit is dus belangrik om die konsekwente prestasie van ’n program oor ’n aantal seisoene in ag te neem, eerder as om besluite te skoei op een seisoen se goeie prestasie. Atlas se kunsmisprogram, en AECI en FMC se gewasbeskermingsprogramme toon die minste variasie vir die drie seisoene tussen 2021 tot 2023 van hierdie proef (Figuur 12). – Enrike Verster, Aartappels SA, Asearch Agri-Tech en die Oos-Vrystaat Aartappelwerkgroep

Spesiale dank aan elke deelnemer in hierdie projek asook Asearch Agri-Tech se Leanté de Jager, Dixon en Heinrich Odendaal, en personeel. Vir meer inligting, kontak Enrike Verster van Aartappels SA by enrike@potatoes.co.za of Leanté de Jager by 079 597 6017 of leante@asearchagritech.co.za.