Estimated reading time: 8 minutes
Die Sandveld Aartappelkwekersorganisasie (SAKO) se algemene jaarvergadering is in Mei vanjaar by die Riviera Hotel in Velddrif aangebied. Die lewering van aartappels op varsproduktemarkte, die bestuur van ondergrondse water in die Sandveld, en aartappelsiektes is van die sake wat bespreek is.
Jannie Basson, die uittredende voorsitter van SAKO, het in sy voorsittersverslag gesê die aanplanting en pryse van aartappels is nou meer stabiel as net na die uitbreek van die oorlog in Oekraïne, toe hoë kunsmispryse en kragonderbrekings ’n demper op aartappelaanplantings geplaas het.
“Die stabilisering van die prys hang steeds van die hoeveelheid aartappels af wat op die varsproduktemarkte aangebied word, maar daar is nou weer ‘n geleentheid om wins te maak. Met ’n oes van 50 ton/ha kan jy geld maak. Ongelukkig val dié opbrengs in die boonste gedeelte van die Sandveld-oes. Die streek se gemiddelde oes is 40 tot 45 ton/ha,” het Basson gesê.


Minder aartappels na markte
Volgens Basson het die tendens dat minder aartappels na varsproduktemarkte gestuur word, die laaste paar jaar toegeneem. Dieselfde tendens word ook by ander groente en vrugte opgemerk, waar al hoe meer produkte direk na kleinhandelaars gestuur word.
Alles gaan oor kostebesparing. Varsproduktemarkte het duur geword en tesame met hoë insetkoste, kyk boere waar hulle kan spaar. “Direkte bemarking bring ’n besparing in bemarkingskoste mee. Maatskappye, groothandelaars of vrugte- en groentehandelaars wat direk by boere koop, bied dieselfde dienste as markagente, koop die boer se hele oes net soos dit van die land af kom, en die boer hoef nie kommissie of die vervoer van die produkte te betaal nie. Die instansies ding dus direk met markagente mee en dit is hoekom die tendens toeneem,” het Basson uitgewys.
“Ons het vandag gehoor dat kommissie op varsproduktemarkte onderhandelbaar is, maar vir my as produsent is dit nuus. Ons het dit al in die verlede voorgestel, maar dit is nie gunstig ontvang nie.” Basson het ook gesê die stelling dat varsproduktemarkte ’n prysbepalingsmeganisme vir varsprodukte in Suid-Afrika is, is nie meer heeltemal geldig nie. “Daar is baie kommoditeite in Suid-Afrika wat nie meer op varsproduktemarkte gelewer word nie. As ’n produsent nie meer ’n gewas plant nie gaan die prys klim, met of sonder ’n mark.”
Waterverbruik kort aandag
Die Sandveld is van ondergrondse water vir besproeiing afhanklik en die droogtesiklus vóór 2023 se bogemiddelde reënval, het watervlakke en watergehalte onder druk geplaas. Verlede jaar se goeie reënval het wel ’n positiewe uitwerking op watervlakke gehad.
“Die watervlakke van rustende en gepompte boorgate, het onderskeidelik met 2.8 en 4.5 m gestyg, wat te wagte was na die hoë reëns. Die water se pH het ‘n bietjie gedaal van 5.7 na 5.3, en die nitrate van 6.4 na 5.2. Die elektriese geleidingsvermoë (EC) van die water het egter van 1.1 na 1.2 gestyg. Die styging is klein, maar onrusbarend, gegewe die hoeveelheid reën wat ons gehad het,” het Basson gesê.
“Hoewel die statistieke meestal positief is, is ons steeds bekommerd daaroor omdat laasjaar ’n goeie reënjaar was. Ons het beter resultate verwag. Die skrif is aan die muur. Ons sal beslis na ons waterverbruik in die Sandveld moet kyk om volhoubaar te boer,” het hy gemaan.

Markte bly relevant
Geo van Zyl, bestuurder van die RSA Groep in Kaapstad, het die relevansie van varsproduktemarkte in die verhandeling van grootmaat-aartappels verduidelik. Hy het gesê daar is van 2019 tot 2023 altesaam R14.6 miljard se aartappels (3.114 miljard kg) op die vier grootste varsproduktemarkte in Suid-Afrika (Johannesburg, Tshwane, Durban en Kaapstad) verkoop. Johannesburg se mark is verantwoordelik vir byna 50% van die totale verkope.
“Die varsproduktemarkte is betroubaar, maklik bereikbaar, met onbeperkte toegang. Alle transaksies op die markte is deursigtig, die markte bied waarde vir geld, het ’n realistiese prysformuleringsproses en daar is vinnige reaksie op prysbepalende faktore. Daarby is ’n produsent se geld gewaarborg,” het Van Zyl uitgewys. Hy het ook aangedui dat varsproduktemarkte aartappels van alle grade en gehalte hanteer teenoor privaatmarkte of direkte verkope wat meer selektief is.
Vestig Sandveld as primagebied
Etienne Booyens, hoof uitvoerende beampte van Prokon, het gesê aartappelprodusente in die Sandveld moet die streek as ’n prima aartappelverbouingsgebied vestig. Die Sandveld en Limpopo is die enigste streke met primêre aartappelprodusente. “As julle die streek as ’n primagebied vestig, is dit belangrik dat julle geloofwaardig optree. Gehalte produkte moet bemark word en die regte gehalte produkte moet, soos die etiket aandui, in die verpakking wees.” Hy het verder beklemtoon dat akkreditasie op beide nasionale en internasionale vlak plaasvind.
Dr Ivan Meyer, die Wes-Kaapse minister van landbou, het daarop gewys dat Suid-Afrika se aartappeluitvoere met 34% gegroei het van R324 miljoen in 2014 na R434 miljoen in 2023. Oor dieselfde tydperk het die Wes-Kaap se aartappeluitvoere met 46% gedaal, van R126 miljoen na R67 miljoen. Die Wes-Kaap se aandeel in totale aartappeluitvoere het van 39% in 2014 na 16% in 2023 gedaal (Figuur 1).
“My doelwit is om die uitvoer van landbouprodukte noemenswaardig te laat toeneem. Daarom moet ons hierdie tendens in die Wes-Kaapse aartappelbedryf omkeer,” het dr Meyer gesê.

Bedryf tel kop op
Willie Jacobs, hoof uitvoerende beampte van Aartappels SA, het gesê die afgelope 12 maande se gemiddelde produsenteprys was definitief hoër as in die verlede. Die optimisme waarmee nuwe projekte aangepak word vloei hieruit.
“Die prys van prosesseringsaartappels het definitief gelig, wat gewoonlik ’n aanduiding is dat daar marge in die ekonomie ontstaan. Koopkrag, gehalte en produkaanvraag is relatief goed. As ons dit kan regkry om die gehalte van die produk wat nou markte toe gaan konstant te hou, kan ons ’n billike seisoen in die volgende ses maande verwag.”


Hoër produksie moontlik
Jacobs het gesê die oppervlakte wat vir aartappelverbouing in Suid-Afrika beskikbaar is, is redelik versadig. Al wat produsente kan doen om produksie te verhoog, is om doeltreffender op beskikbare grond te boer. Produsente moet opbrengs per hektaar verhoog, beter gehalte produseer, en sodoende die winsgewendheid van aartappelverbouing verbeter.
“Ons moet grondbiologie en grondsiektes beter verstaan en bestuur, en die gebruik van chemiese middels verminder deur chemikalieë minder breedwerpig aan te wend. ’n Direkte behoeftebepaling van chemikalieë en die toepassing van biologiese beheer saam met chemikalieë, kan ’n groot verskil aan die insetkant maak,” het hy gesê.
As produsente die insetkant en grondbiologie beter bestuur en die draaityd (siklus) van aartappels op dieselfde land verkort, kan hulle op dieselfde hektare nog ’n substansiële verbetering in produksie kry.
Jacobs twyfel nie dat daar in Suid-Afrika ’n groter geleentheid is om aartappels te bemark nie, maar die bedryf moet verseker dat waar aartappels gelewer word, ’n gesonde afname daarvoor bestaan. ‘n Beter raklewe en goeie logistiek sodat almal in die waardeketting ’n idee het van hoeveel produk op watter tyd aan ’n spesifieke mark gelewer word, kan voorkom dat markte oorvoorsien word, het hy uitgewys.

Virus kan die bedryf knou
Die voorkoms van die pepper ringspotvirus (PepRSV) in ’n kommersiële aartappelaanplanting in Suid-Afrika, is vir die eerste keer in Oktober 2022 aangemeld. Jacobs het gewaarsku dat die virus aartappelverbouing in Suid-Afrika kan ontwrig en ’n groot probleem kan word as dit nie reg bestuur word nie.
Die bedryf werk tans hard om die voorkoms van PepRSV te isoleer en sodoende die siekte te beperk. Die virus kan voorkom word deur gesertifiseerde saad te plant, goeie onkruidbestuur en wisselbou toe te pas, verskillende kultivars van verskillende bronne te plant en vir die teenwoordigheid van stompwortelaalwurm te toets. “Dit is ook belangrik om ’n goeie verhouding met jou saadverskaffers op te bou,” het Jacobs gesê. – Hugo Lochner, Plaas Media, en Francois Strauss, Aartappels SA
Vir meer inligting, kontak Monique Vlok by 083 610 7320 of besoek www.potatoes.co.za.