Estimated reading time: 9 minutes
Die Suidwes-Vrystaatse aartappelproduksiestreek produseer sowat 1.86% van die land se kommersiële aartappels op 954 ha. Die mees prominente kultivars wat in die streek se hoofoes vir tafelverbruik en verwerking geproduseer word, is Sifra (89%), gevolg deur Mondial, Innovator en Panamera.
Petrusburg val in Suid-Afrika se droë kontinentale gebied (Figuur 1). Die plaas waarop die proef uitgevoer is, ontvang die afgelope 25 jaar ’n gemiddelde jaarlikse reënval van 565 mm, soos deur die plaaslike Landbounavorsingsraad- of LNR-weerstasie aangeteken. Dié streek word gekenmerk aan baie warm somers en koue winters, met ryp wat vanaf Junie tot Augustus kan voorkom.

Proefontwerp en -deelname
Die produkteproef by Petrusburg is in ’n ewekansige blokontwerp met drie herhalings per kultivar uitgelê. Tabel 1 bevat relevante tegniese inligting rakende die proef. Grondmonsters is voor plant geneem om die grondvoedingstatus van die proefperseel te bepaal (Tabel 2).


Die produkteproef sluit ’n groot verskeidenheid maatskappye met uiteenlopende programme in, en in hierdie artikel word nege programme (behandelings) bespreek wat vir drie jaar in die proef getoets is, soos beleid stipuleer. Gedurende al drie die proefseisoene is die betrokke programme teenoor die plaasstandaardprogram (kontrole) op die kultivar, Sifra, getoets.
Die evaluering van behandelings soos in die Petrusburg-produkteproef verskaf resultate oor onder meer opbrengs- en bemarkingsindekse. Die doel van die proef is om die betrokke programme se werking binne die streek te toets. Daarom is dit baie belangrik om daarop te let dat die programme nie noodwendig teen mekaar gemeet moet word nie, maar eerder teenoor die kontrole. Die verskillende programme het verskillende uitkomste, en die fyner besonderhede van elke program kan met die betrokke verteenwoordigers bespreek word.
Die standaard spuit- en bemestingsprogramme van die plaas dien as die kontrolebehandeling in hierdie proef. Hierdie artikel sluit die kontrolebehandeling sowel as die programme soos in Tabel 3 uiteengesit, in.

Sortering en klas
Die bemarkingsindeks van die behandelings word bereken deur elke behandeling volgens gehalte en groottegroepe, byvoorbeeld Klas 1 groot of Klas 2 groot-medium, te klas en sorteer. In hierdie proef is al drie herhalings bymekaargegooi, gewas en deur die pakstoor geklas en sorteer.
Prysvergelykings word dan met markpryse, soos verkry ten tyde van oes, getref. Die prestasie van die behandelings kan nie net op die resultate van een bepaalde seisoen geskoei word nie, aangesien klimaat en moergehalte van een jaar na ’n volgende wissel. Juis daarom word die programme verkieslik oor minstens drie seisoene getoets.
Reënval en temperatuur
Soos met enige gewas is temperatuur, waterbeskikbaarheid (hetsy goeie besproeiingskedulering of reënval), asook hitte-eenhede belangrike faktore wat ’n wesenlike invloed gedurende die groeitydperk van ’n aartappelplant het. Hierdie faktore word dus in aanmerking geneem wanneer ’n proef geëvalueer word.
Toepaslike weerdata van die betrokke seisoene vir hierdie proef word verkry vanaf ’n weerstasie naby die proefperseel. Die langtermyndata bestaan uit data van die naaste LNR-weerstasie wat 9 km vanaf die proef geleë is.
Die reënvaltendens vir die afgelope drie seisoene word in Figuur 2 uiteengesit. Hoë reënval is in die eerste maande na plant in seisoen een en twee aangeteken. Seisoen twee en drie het tydens knolvulling in die laaste helfte van die seisoen uitermatige bogemiddelde reënval ervaar, wat moontlik gehalteprobleme en meer Klas 3- en weggooi-aartappels tot gevolg gehad het.

Die minimum- en maksimumtemperature word in Figuur 3 en 4 uiteengesit. Die versameling van hitte-eenhede tydens ’n groeitydperk is ’n belangrike faktor in die ontwikkeling van ’n aartappelplant. Die tendens van hitte-eenhede wat vir die afgelope drie seisoene beskikbaar is, toon dat dit veral gedurende seisoen drie hoër was as die langtermyn gemiddelde van hitte-eenhede wat in die eerste helfte van die groeiseisoen geakkumuleer is.


Al drie seisoene het heelwat meer hitte-eenhede as die langtermyn gemiddeld aangeteken.
Opbrengs oor drie seisoene
Opbrengsdata wat tydens oesdag versamel word, word aan statistiese verwerking met behulp van die GenStat®-program onderwerp. Die Tukey-toets van kleinste betekenisvolle verskille (KBV) is gebruik om die gemiddelde te skei. Die behandelingseffek gedurende hierdie proef (Figuur 5) was statisties beduidend (p<0.05) en die koëffisiënt van variasie was voortdurend laag (onderskeidelik 8.3, 7.2 en 11%).

Hierdie faktore dui daarop dat die proef baie goed uitgevoer is en die resultate derhalwe betroubaar is.
Die opbrengs van elk van die behandelings word deur die proefgemiddeld gedeel, met die proefgemiddeld van al die behandelings wat as 100% geneem word. Sodoende word ’n opbrengsindeks geskep en elke behandeling se prestasie in terme van opbrengs as ’n persentasie van die proefgemiddeld gelees.
Die gemiddelde opbrengs van die proef vir die drie seisoene is onderskeidelik 93.74, 109.6 en 66.56 t/ha.
Die bogemiddelde prestasie van die eerste twee seisoene kan aan drie faktore toegeskryf word. Eerstens is die proef uitgevoer op grond sonder ’n geskiedenis van aartappelproduksie.
Tweedens is die proewe teen ’n effens hoër plantestand/ha as voorheen geplant. Derdens – en waarskynlik die belangrikste faktor – het besproeiing met water van baie goeie gehalte en ’n aansienlik laer natriuminhoud geskied.
Seisoen drie is ongelukkig gekenmerk deur swak opkoms reg oor die proefperseel, wat direk tot opbrengsverliese gelei het.
Min statisties-beduidende verskille is in seisoen een en twee waargeneem. In seisoen drie, met sy laer opbrengs, was daar egter duidelike verskille, met Bayer 1 en 2, FMC, GuanoBoost en Bancella wat die hoogste opbrengste gelewer het (Figuur 6 tot 8). Dit is belangrik om in ag te neem dat die behandelings nie noodwendig met mekaar vergelyk kan word nie, aangesien die programme verskillende en uiteenlopende uitkomste het.



Groottegroepverspreiding van die behandelings word in Figuur 9 tot 11 vergelyk. Seisoen een en drie het aansienlik minder groot aartappels as seisoen twee geproduseer, wat oor die algemeen ’n baie hoë opbrengs gelewer het. Ten spyte van hierdie hoë opbrengs het seisoen twee egter in verhouding minder Klas 1-aartappels opgelewer.



Soos die aard van seisoene is, wissel die prestasie van behandelings van seisoen tot seisoen, bloot omdat klimaat van een seisoen na ’n volgende nooit eenders is nie. Derhalwe is dit belangrik om konsekwente prestasie van ’n program oor ’n aantal seisoene in ag te neem, pleks daarvan om besluite op een seisoen se goeie prestasie te skoei.



Bayer 1 en 2, FMC en Karabos 1 toon die minste variasie vir die afgelope drie seisoene in die Petrusburg-proef (Figuur 15). – Enrike Verster, Aartappels SA, en Johan Odendal, produsent

Spesiale dank aan Lushof Boerdery en elke deelnemer in hierdie projek asook betrokke personeel. Vir meer inligting, kontak Enrike Verster by enrike@potatoes.co.za.