Estimated reading time: 3 minutes
Dit is welbekend dat kaliumnitraat (KNO3) die beste bron van kalium is om jou aartappels mee te bemes – en dit is dadelik plantbeskikbaar en -opneembaar. Die nitraatstikstofkomponent fasiliteer ook die opname van noodsaaklike katione in die bemestingsprogram.
Wanneer daar te veel ammonium in die program is, ding die ammonium met hierdie katione mee vir die opname van byvoorbeeld magnesium (Mg²+) en kalsium (Ca²+). Die ideale ammonium-tot-nitraatverhouding in die program is 20% ammonium en 80% nitraat. Dit kan slegs bereik word met die gebruik van KNO3. Kalium (K) is ’n plantnoodsaaklike element wat help met die sintese van koolhidrate, die regulering van osmose, verhoogde fotosintese en verlaagde vatbaarheid vir siektes.
Kalium speel ’n rol in knolgrootte, die hoeveelheid knolle, asook die styselinhoud en rakleeftyd. Die beste resultate word verkry tydens die toediening van K in die KNO3-vorm. Dit is bewys dat KNO3 ook meer knolle per plant lewer as tydens bemesting met kaliumchloried of kaliumsulfaat.
Dus is die beskikbaarheid van ’n nuwe weergawe van KNO3, Ultrasoline K Plus, baie goeie nuus!
Wat is Ultrasoline K Plus*?
Ultrasoline K Plus* is KNO3 wat met jodium (I) verryk is. Dit bevat ’n berekende hoeveelheid I en kan op presies dieselfde manier as normale KNO3 aangewend word.
Jodium word nou beskou as ’n plantbevoordelende element. Daar is reeds verskeie toetse met I gedoen – veral op Arabidopsis thaliana – wat bevind het dat I by 82 verskillende plantproteïene betrokke is. Veertig van hierdie proteïene is betrokke by funksies in die wortels, soos wortelontwikkeling, energieproduksie asook streshantering. Van die ander 42 proteïene wat in die loof van die plant voorkom, is 86% by die fotosinteseproses betrokke.
Dus is I direk betrokke by die plant se vermoë om optimaal te fotosinteer én by wortelontwikkeling. Wanneer na plantgene gekyk word, is daar 531 gene in die wortels asook die 48 gene in die loof van die plant wat uniek reageer op jodiumtoediening.
SQM-proef in die Wes-Kaap
SQM het onlangs ’n proef op aartappels in die Wes-Kaap gedoen. Die toediening van Ultrasoline K Plus* is vergelyk met die plaaspraktyk waarin slegs KNO3 gebruik is. Die proef is statisties oor die aartappelland uitgevoer, met onafhanklike oes- en data-insameling.
Die bevindinge het getoon dat daar nie alleen ’n nie-statistiese opbrengsverhoging van 3% was nie, maar dat 18% meer medium-grootte aartappels met hierdie behandeling verkry is – ’n statisties beduidende verskil. Die produsent het ’n hoër omset per hektaar behaal en die prysverskil van Ultrasoline is reeds terugbetaal met ’n opbrengsverhoging van slegs 0.75%. Dit bewys dat Ultrasoline nie net die opbrengs en grootteverspreiding van aartappelproduksie verbeter nie, maar ook die winsgewendheid daarvan.
SQM beoog om dieselfde proef in die 2025/26-seisoen te herhaal ten einde verdere ondersoek in te stel rakende die uitkomste daarvan.
Die maatskappy is baie opgewonde oor die belowende resultate van die proef en beskou dit as ’n manier om produsente se aartappelopbrengs na hoër vlakke te neem.
**Reg No K11316 Wet 36/1947. Registrasiehouer: Sociedad Quimica y Minera (Africa) (Pty) Ltd
Vrywaring:
Sover SQM se kennis strek, is die inligting in hierdie artikel akkuraat.
Die toepassing van voorwaardes van gebruik en aanwending volgens die aanbevelings, is buite SQM se beheer.
Geen waarborg word gegee rakende die akkuraatheid van enige data of stellings in hierdie artikel nie. SQM ontken enige verantwoordelikheid of aanspreeklikheid met betrekking tot die toepassing van die aanbevelings en sal onder geen omstandighede aanspreeklik wees vir enige spesifieke, toevallige of gevolglike skade wat uit sodanige gebruik voortspruit nie.
Vir meer inligting, besoek SQM se webblad by www.sqm.com of stuur ’n e-pos aan Johan Fick by Johan.Fick@sqm.co.za.